Reservaatbaas geskors wat glo openbare grond misbruik

roodepoort damDebbie Joubert, ʼn bestuurder by die Roodeplaatdam-natuurreservaat in die noorde van Pretoria, is glo deur die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling (DIO) geskors nadat sy na bewering grond van dié reservaat vir private gewin gebruik het.

“Sy is nog nie aan enigiets skuldig bevind nie. Sy word tans net daarvan verdink, en is voorlopig geskors hangende die uitkoms van ʼn tugverhoor,” het Ramona Baijnath, ʼn woordvoerder van die DIO, Woensdag gesê.

Baijnath het geweier om die amptenaar se naam bekend te maak, en het gesê meer inligting sal later verskaf word.

Corruption Watch het egter Joubert se naam in ʼn verklaring bekend gemaak. Die organisasie beweer Joubert het glo plakkershutte by die natuurreservaat opgerig, en verhuur dit aan haar werknemers.

Daar word ook beweer dat sy direk met die departement kompeteer deur besoekers na ʼn privaatreservaat, Angling Grounds, verwys. Dié reservaat word glo deur haar man bestuur.

Corruption Watch het gesê haar posisie by die departement is om die Roodeplaatdam-natuurreservaat te bestuur. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.