Reservis, patrolleerders vas vir afpersing en ontvoering

Argieffoto

ʼn Polisiereservis en drie gemeenskapspatrolleerders van die Pretoria-Sentraal-omgewing is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die beweerde afpersing en ontvoering van ʼn man.

Kapt. Augustinah Selepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die man (38) wat die klag gaan lê het, beweer ʼn vrou in ʼn polisieuniform en drie mans het hom Dinsdag omstreeks 11:00 genader waar hy in sy motor gesit het op die hoek van Pretorius- en Lilian Ngoyistraat langs die McDonald’s.

“Die verdagtes het na bewering aan die man se motorvenster geklop en sy lisensie gevra. Hulle het gesê dit is vals en het hom na binnelandse sake geneem om sy paspoort te verifieer en weereens gesê dat dit vals is,” het Selepe gesê.

Hy het hulle in kennis gestel dat sy bestuurslisensie en paspoort geldig is. “Hulle het terug na die man se motor gegaan en tot 16:00 met hom rondgery en R10 000 geëis. Hulle het ook gedreig om hom in hegtenis te neem en te deporteer as hy nie betaal nie,” het Selepe verduidelik.

Selepe het verder gesê hulle het op die ou end R3 500 geëis en met hom na ʼn kitsbank gery om die geld te onttrek. “Die man het die saak by die polisie aangemeld, die saak is vinnig ondersoek en die verdagtes aangekeer.”

Die vier verdagtes, tussen 25 en 32 jaar oud, sal Vrydag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van afpersing en ontvoering.

“Die ondersoek duur voort en nog klagtes kan moontlik later bygevoeg word.”

Brig. Rennet Pieterse, stasiebevelvoerder van Pretoria-Sentraal, het gesê hulle sal voortgaan om enigiemand wat hulle aan dié soort aktiwiteite skuldig maak vas te trek. “Die gemeenskap moenie bang wees om polisielede aan te meld nie,” het Pieterse gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marous ·

Die polisie moet nie bang wees om hul lede dop te hou nie … 24/7

wielie ·

En wat gaan met die “polie beamptes” gebeur?
Tik op die vingers en daar gaaaat hulle maar weer in die samelewing om nog mense te teister!
Dis om van te giggel …..

jaco ·

kan die SAPD nie so maak met AL die 5 miljoen onwettige immigrante in SA nie???

charl ·

ag die polisie is so kurip mens kan hulle ook nie vertrou nie hulle is almal kop in een mus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.