Reserviste: SAPD voldoen aan hofbevel

Argieffoto: Kent Williamson

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het reserviste verbonde aan die Kameeldrift-polisiestasie opgeroep om hul jaarlikse skietopleiding te voltooi sodat hulle weer ten volle benut word en hul status as polisiereserviste behou.

Dít volg nadat AfriForum se hofaansoek in die Noord-Gautengse hoë hof in Pretoria geslaag het. Dié aansoek, wat volgens AfriForum as baanbrekerswerk beskou word, verplig nou die SAPD om toe te sien dat reserviste in Kameeldrift hul jaarlikse bevoegdheidsheropleiding voltooi sodat hulle hul status as polisiereserviste behou.

“Die SAPD het tot dusver geweier of gesloer om die reserviste op te lei en bestaande beamptes vir heropleiding te stuur. Dit het tot gevolg dat reserviste nie daartoe in staat is om die SAPD na behore te ondersteun nie aangesien hulle nie kragtens wetgewing bevoeg is om vuurwapens te hanteer nie,” het Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, gesê.

“Hierdie nuus is uiters verfrissend en broodnodig vir die burgers van Suid-Afrika wat honger is vir daadwerklike optrede deur die SAPD om aan hul grondwetlike mandaat te voldoen. Die SAPD sal nou weer toegang hê tot bykomende lede wat aangewend kan word waar daar ’n tekort aan mannekrag in die Kameeldrift-gebied is.

“Die SAPD het by verskeie geleenthede aangevoer dat hulle te dun verspreid is en oor te min hulpbronne beskik om te doen wat van hulle verwag word. Indien daar van die beskikbare reserviste gebruik gemaak word, het die SAPD onmiddellik bykomende lede tot hul beskikking wat kosteloos ’n diens kan lewer.”

AfriForum ondersoek tans ander gevalle in Suid-Afrika om soortgelyke aansoeke van stapel te stuur ten einde die SAPD se hand te versterk.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het begin April AfriForum se aansoek toegestaan om die SAPD te dwing om polisiereserviste verbonde aan die Kameeldrift-polisiestasie vir hul jaarlikse bevoegdheidsopleiding te stuur.

Tot dusver het die SAPD geweier of gesloer om reserviste op te lei en bestaande beamptes vir heropleiding te stuur. Gevolglik kon reserviste die SAPD nie na behore ondersteun nie, aangesien hulle kragtens wetgewing onbevoeg is om vuurwapens te hanteer. Die polisie het nie AfriForum se aansoek teengestaan nie.

Sedert 2010 was daar ʼn afname van 83% in die getal reserviste wat werksaam is in Suid-Afrika.

“Dit kan ʼn reuse-impak op misdaad hê as ons dié 63 000 reserviste kan terugkry wat nog in 2010 saam met die polisie in hierdie land gewerk het,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, destyds gesê.

“Dit is vir ons ʼn groot oorwinning om misdaadstatistieke om te swaai, veral in die Kameeldrift-gebied – wat die afgelope tyd swaar onder ʼn vlaag van misdaad gebuk gaan – wat hoofsaaklik plaasaanvalle insluit,” het Cameron gesê.

AfriForum het reeds toe gesê dié bevel maak die deur vir soortgelyke aansoeke op nasionale vlak oop en het dus betrekking op alle reserviste in die land.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Marietjie ·

Is dit nou Kameeldrift Oos of Wes ? Beteken dit dat reserviste in die hele Pretoria sal wees ?’

Koos ·

Dis Kameeldrift, by Roodeplaat. Kameeldrift Wes is Hercules SAPD wyk.

Manie van Worcester ·

is net afriforum en VF+ wat wel iets doen, res raas net, in Kaapstad probeer da dar mook so bietjie

johan ·

wat se skade dat mens hof toe moet gaan dat die polisie hulle werk moet doen ga ga

Leon ·

‘n Kollega van my het juis ge-migreer na New Zeeland omdat die polisie in Kameeldrift Wes so hopeloos is an hulle al twee keer in hulle huise beroof is en die polisie dae geneem het om by hulle uit te kom. Die polisie stel nie eers belang om die sake te ondersoek nie, want niks het nog gebeur nie.
Die reserviste sal ook om elke hoek en draai geblokkeer word sodat hulle nie hulle werk kan doen nie.

KrokodilBotha ·

Dink liewers dat die groot koppe moet vervang word. Druppel in die emmer. Sleep vir Cele hof toe.

Anel ·

Hoekom moet privaat mense met die polisie se begroting op gelei word. Lei die polisie eers op want daar is nooit geld om hulle te stuur vir jaarlikse skiet oefening nie.
En stel die regte mense aan. Ons seun het 10 jaar gesukkel en nou is hy te oud en hy is te wit. Sy waardes en standaarde is te hoog.

Hanna Hoekom ·

Ek persoonlik dink dat die reserviste die onbevoegde en lui SAPD lede se naam nog slegter gemaak het deur basies hul werk te doen. Klink meer na n krenk van die ego as enige iets anders. Een van my vriende was reservis in daardie area tot so 4 jaar gelede. Dit is juis die reserviste se werk wat tot arrestasies gelei het. Ek mag verkeerd wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.