Reserwebank bevraagteken OB se onafhanklikheid

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. Foto: ANA

In ʼn nuwe verklaring wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is, word Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), daarvan beskuldig dat sy bevooroordeeld is en die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) ondermyn.

Die verklaring wat deur die regspan van die SARB ingedien is, noem vergaderings wat Mkhwebane met pres. Jacob Zuma se regsadviseurs en die Staatsveiligheidagentskap gehad het weke voordat sy haar finale verslag bekendgestel het oor haar ondersoek na die Reserwebank se 1985 reddingsboei aan Bankorp, nou Absa. Die verklaring voer aan moontlike sameswering het plaasgevind.

In die verklaring word die vergadering met die presidensie se regspan as “hoogs onreëlmatig” beskryf.

Volgens die verklaring is die OB se “voorgestelde regstellende stappe om die Grondwet aan te pas om sodoende die Reserwebank te ontneem van sy rol om die waarde van die geldeenheid te beskerm” op dié vergadering bespreek.

“Dit is ʼn aspek van die regstellende stappe wat niks met die presidensie te doen het nie. Daar is geen regmatige gronde waarop dié kwessie met die presidensie bespreek moes word nie,” lui die verklaring.

Die SARB voer aan Mkhwebane het die regstellende stappe in haar voorlopige verslag “ingrypend verander” sonder om die Reserwebank en ander rolspelers geleentheid te gee om daarop te antwoord. “Die OB het niemand behalwe die presidensie hierdie geleentheid gebied nie.”

In die verklaring dui die SARB aan dat hy aanstoot neem dat die bank se mandaat met die presidensie bespreek is, aangesien die OB grondwetlik verplig is om haar ondersoeke onafhanklik en sonder vooroordeel aan te pak. “Deur hierdie aspekte van die verslag met die presidensie te bespreek, is daardie onafhanklikheid vernietig.”

Mkhwebane het glo ook nie transkripsie van die onderhoude met die presidensie se regsadviseurs en die Staatsveiligheidagentskap verskaf nie. ʼn Paar handgeskrewe notas van die OB is verskaf, insluitend een oor die “weerloosheid” van die SARB.

“Dit is onduidelik op water gronde die weerloosheid van die Reserwebank as relevant geag is in die OB se ondersoek. Die feit dat die onderwerp met die Staatveiligheidsagentskap bespreek is dui daarop dat die OB se ondersoek daarop gemik was om die Reserwebank te ondermyn. Dit dui ook daarop dat die ondersoek teen Mei 2017 verander het van vrae of die regering die CIEX-verslag geïmplementeer het na ʼn aanval op die Reserwebank,” lui die verklaring.

busisiwe-mkhwebane

Busi Mkhwebane tydens ‘n perskonferensie in Pretoria (2 Februarie 2017) Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die SARB het ʼn beroep op Mkhwebane gedoen om transkripsies van die onderhoude met die presidensie se regsadviseurs en die Staatsveiligheidagentskap te verskaf en haarself teen die bank se bewerings te verdedig. Indien Mkhwebane versuim om dit te doen, sal die bank nuwe redes vir hersiening indien, insluitend dat die OB se aanbevelings met ʼn geheime motief of doelwit gedoen is, dat Mkhwebane bevooroordeeld of moontlik bevooroordeeld was en dat die ondersoek “prosedureel onregverdig” was.

Die SARB se regspan het gesê die beskuldigings teen die OB is ernstig van aard en word nie ligtelik gemaak nie.

Mkhwebane het in Junie gesê die Grondwet moet gewysig word om te verseker dat die Reserwebank gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei bevorder, terwyl dit terselfdertyd die sosio-ekonomiese belange van die land se burgers beskerm.

Sy het die Reserwebank gekap in ʼn verslag waarin sy bevind het Absa, voorheen Bankorp, het in die laat 1980’s en vroeë 1990’s ʼn onwettige skenking van die Reserwebank ontvang. Mkhwebane het verder bevind Absa moet die skenking van R1,125 miljard terugbetaal, en gesê die Reserwebank het saam met die regering sy plig versuim teenoor Suid-Afrikaners omdat hulle nie stappe gedoen het om die geld van Absa te verhaal nie.

Die uitgebreide fokus van haar ondersoek het wyd kritiek ontlok. In Augustus is haar aanbeveling oor die SARB deur die hooggeregshof in Pretoria ter syde gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Eish ·

Daar kom die ware kleure van dié kaderontplooing nou mooi uit. Geen haar gas Johanna.

jaco ·

die hoof van die Reserwebank is Gill Marcus, wat lid van die ANC is. Die huidige OB is dik pelle met Zuma en seker ook lid van die ANC. Die kantoor van die OB is in elk geval n staatsinstansie wat deur die ANC beheer word.
So eintlik bevraagteken die ANC die ANC. Iets maak nie sin nie en dit sal NET sin maak as die ANC-regering ophou om hulle kaders oral in die staatsdiens poste te gee.
Aan die ander kant: hulle het dit by ons geleer: ek weet van BAIE gevalle waar Broederbonders lekker staatsdiensposte van die ou Nasionale Party regering gekry het…

Hanna ·

Die Guptas het ook haar aangestelling bewimpel.
Hulle handlanger Jacob moes net sien dat alles in plek val.
Ek wonder wat sou sy uit die deal kry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.