Reserwebank moet apartheidsrekords bekendmaak – hof

Deur  Geoffrey Allsop, GroundUp

Die appèlhof in Bloemfontein. (Argieffoto: ANA)

Die Reserwebank het wederregtelik opgetree deur te weier om bepaalde inligting oor individue wat betrek word by misdaad gedurende apartheid, bekend te maak. Só het die appèlhof in Bloemfontein bevind in die saak tussen die Suid-Afrikaanse trust vir geskiedenisargief (Saha) en die Reserwebank.

Saha het rekords versoek wat inligting bevat oor verskeie individue wat betrek word by aktiwiteite tydens die apartheidsera. Die trust wil die inligting gebruik in ʼn boek wat hulle skryf oor verantwoordbaarheid tydens apartheid.

In ʼn eenparige uitspraak het die hof beslis dat die Reserwebank wederregtelik opgetree het deur te weier om inligting aan Saha te verskaf ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting.

Die hof het ook bevind dat die Reserwebank nooit behoorlike redes verskaf het hoekom hulle weier om die inligting te verskaf nie. Omdat die bank versuim het om deursigtig op te tree, moet hulle nou ook die trust se regskoste dra, het die hof beslis.

Wouter Basson tydens die begin van sy verhoor Maandag by die Raad op Gesondheidsberoepe. Foto: SAPA

Saha het reeds in 2014 inligting van die Reserwebank versoek oor individue wat betrek word by korrupsie en smokkelary tydens apartheid. Dit sluit in name soos die polisieman Craig Williamson, die Siciliaanse mafia-lid Vito Palazzo en dr. Wouter Basson, hoof van die chemiese wapenprogram gedurende die apartheidsera. Die trust wou ook inligting oor Robert Hill bekom, wat in 1998 gevlug het nadat hy daarvan aangekla is dat hy Eskom-effekte vervals het, en brig. Johan Blaauw, wat na verneem word reeds dood is. Blaauw word daarvan verdink dat hy wapens gesmokkel het en onwettig kernwapens vanaf Israel aangekoop het vir die kernwapenprogram gedurende die apartheidsera.

Die Reserwebank het geantwoord dat hulle slegs inligting oor Hill, Palazzo en Blaauw het, maar het besluit om nie dié inligting bekend te maak nie.

Saha het toe die Gautengse hooggeregshof genader om die Reserwebank te verplig om die inligting bekend te maak, maar dié het in die bank se guns beslis. Saha het gevolglik die appèlhof genader.

Die Reserwebank moet Hill en Palazzo nou inlig dat hulle van plan is om inligting in die bank se besit aan Saha bekend te maak. Hulle het 30 dae om voorleggings aan die bank te maak indien hulle glo hul rekords behoort nié aan die trust oorhandig te word nie.

GroundUp het die berig oorspronklik gepubliseer. Lees die oorspronklike berig hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Die rekords sal nou gebruik word deur die ANC om die Reserwebank te nasionaliseer, en dan sal die goud staffies vinniger verdwyn as die mis voor die son. Covid-19 en al die ANC planne val nou lekker bymekaar. Ek is seker iemand in die ANC sal seker eendag ‘n Covid-19 liedjie skryf, net om dankie te se.

Termiet ·

Hoeveel Howe Het ons dan? Die arme dooie apartheidsdonkie.

Grassie ·

Hierdie spul is ooglopend besig met ‘n heksejag om die vorige bedeling swart te smeer. Die regering van destyds was in ‘n lae frekwensie oorlog betrokke terwyl hulle deur die buiteland geboikot is. Natuurlik sal hul dan wapens op onkonvensionele wyse aankoop. Ons kernwapenprogram was ook geen geheim nie. Die ANC het dieselfde tyd tonne wapens uit Sjina en Rusland ingesmokkel maar daarmee het hulle vrede. Hier word gepraat van “verantwoordbaarheid tydens apartheid” wat vir my daarop dui dat hulle baie meer be-oog as om bloot ‘n boek te skryf.

marius ·

Liewe appelhof . Kan ‘n prokureur of advokaat gedwing word om inligting te verskaf ? Moet asseblief nie almal gelyk antwoord nie , en tik baie stadig sodat gewone mense kan verstaan wat dit beteken .

Erik ·

Mooi man, laat die apartheids-skelms boet sodat die res van ons kan aangaan. Meeste van ons kry swaar en word verkeerdelik benadeel omdat ‘n paar Afrikaners goed droog gemaak het.

Outop ·

Het hierdie sake nie almal al verjaar nie? Vervolg eerder die misdadigers wat tans in die parlement is.

Cabytheron ·

Dit is reg so. Maak dit bekend. Dit hoort so. Ek hoop net dat die skelmstreke en korrupsie wat nou aan die gebeur is, ook aan die klok gehang word, sodat ons landsburgers veilig en beskermd kan voel.

Jack ·

Dit gaan beslis nie oor n boek nie maar net n anc streek. Na 27 jaar kom hulle nou eers hierby uit. Wat het hulle dan gedoen tydens die WVK ondervragings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.