Reserwebank moet Shuttleworth se R250 m. terugbetaal

Mark Shuttleworth

Mark Shuttleworth

Die hoogste hof van appèl het die Suid-Afrikaanse Reserwebank Woensdag beveel om R250 miljoen plus rente aan die miljardêr Mark Shuttleworth terug te betaal in ʼn saak rakende Suid-Afrika se valutabeheerstelsel.

Shuttleworth het in ʼn verklaring op sy webtuiste gesê hy gaan die geld in ʼn trust plaas vir Afrikane wat die regering in die konstitusionele hof wil aanvat. Shuttleworth het gesê afgetrede grondwetlike geleerdes, regters en prokureurs sal in beheer van die trust wees.

Shuttleworth het bates van meer as R4,27 miljard in Suid-Afrika gehad toe hy geëmigreer het. Hy het van die bates uitgevoer en moes elke keer ʼn 10%-heffing betaal en het uiteindelik R250 miljoen se uitvoerheffings betaal. Shuttleworth woon tans in die Isle of Man, ʼn eiland in die Ierse see, en het dubbelburgerskap.

Shuttleworth het die hooggeregshof in Pretoria versoek om die R250 miljoen uitvoerheffing wat hy betaal het, ter syde te stel en te las dat die Reserwebank dit aan hom moet terugbetaal. Shuttleworth het ook gevra vir ʼn hofbevel om die bank se sogenaamde “toedeurbeleid”, waarvolgens die publiek met die Reserwebank moet kommunikeer deur die tussengangerskap van gemagtigde banke, ongrondwetlik en ongeldig te verklaar. Die hooggeregshof het egter Shuttleworth se aansoek verwerp waarna hy appèl aangeteken het en die appèlhof in sy guns beslis het.

Shuttleworth het verder in die verklaring op sy webwerf gesê dat valutabeheer ʼn versmorende effek op die ekonomie het, en dat dit veral trekarbeiders en klein besighede benadeel wat buite Suid-Afrika se grense wil werk. “Ons oorweeg dit nou om die saak in die konstitusionele hof voort te sit en om valutabeheer op grondwetlike gronde uit te daag en te verseker dat die voordele van vandag se uitspraak alle Suid-Afrikaners baat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois ·

Nice een..die land van melk en geld sal betaal, terwyl die res in ellende lewe.

Thys du Preez ·

Dis interdaad net die rykstes wat toegang kry tot geregtigheid, aangesien Mr. Shuttleworth dan nou ‘n trust fonds gestig het om hierdie sekondere probleem ook op te los watter doeleinde hy dan nou blykbaar per abuis ook reggekry het, jy weet?

Die feit dat die gewone ou nou hierdie oudregters en prokureurs, wat nou die trust fondse bestuur, kan benader om dan nou wetgewing te daag wat onkonstitusioneel voorkom, dis inderdaad amper ‘n groter bate vir Suid-Afrikaners as die feit dat die hof ‘n uitspraak oor hierdie wetgewing gespreek het en een van die mees ongenaakbare institusies van ‘n regering tot verantwoording beveel, watter aksies van hierdie institusie dan maar nou, hoogs waarskynlik net sal dien om Suid-Afrikaners te herinner daaraan dat slegs burgers aan wetgewing en hofuitsprake gebonde is en gelyk is in die reg, waar dit begrip vir hierdie beginsel betref.

Dan sit ons weer, met hierdie uitspraak se warm gevoel en geen trust fonds van Mr. Shuttleworth, wat so ‘n daadwerklike meelewing uitbeeld vir Suid-Afrikaners, dat hy fondse stig om hulle belange te bevorder. As die media nou bietjie oor die trust fonds kan navors en berig sal dit nou eers voordelig wees en dan sommer vir interesantheids onthalwe iemand opspoor wat al baat gevind het van daardie veldtog van Mr. Shuttleworth waarin hy mense genoop het om met besigheids idees vorendag te kom wat hy dan nou kan oorweeg en finansier.

Verstaan? Anders het hierdie pragtige verhale oor hierdie moderne vryheidsvegters geen ander doel as om maar basies die lof te besing van rykes wat ryk word bloot omdat hulle ryk is nie, die einste soort goed wat die samelewing polariseer.

Pieter ·

Mooi so Mark en baie geluk. Mark is ‘n wonderlike voorbeeld vir ons almal met sy onbaatsugtige optrede. Min mense gaan so baie geld sommer net in ‘n trust sit sodat ander dit kan gebruik.

Elizabeth ·

@Pieter – stem saam. Na-ywer en jaloesie maak dat mense altyd snedige opmerkings maak en ander se dade bevraagteken. Moenie vergeet dat hy destyds, toe hy sy maatskappy verkoop het, elke liewe werker by sy maatskappy in sy geld laat deel het, deur elkeen ‘n enorme bedrag te GEE nie. Los hom uit, hy is briljant slim en het sy geld op ‘n EERLIKE wyse gemaak omdat hy slim was. Sela.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.