Reserwebank ontken hy sê banke voor

SA Reserwebank (Foto: ANA)

Die Reserwebank het Vrydag ontken dat hy die land se vier grootste banke aangesê het om KPMG nie die trekpas te gee nie.

Volgens die Reserwebank het hy die banke ook nie advies gegee oor watter stappe hulle kan doen of nie kan doen rakende dié ouditfirma nie.

“Soos voorheen deur Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank, genoem is, spruit ons belang in die KPMG-kwessie uit ’n openbarebeleid-perspektief ingevolge ons mandaat om die banke te reguleer en stabiliteit van ons finansiële stelsel te verseker.”

Die Reserwebank het gesê hy sal met die banke en ouditfirmas skakel om die konteks van die situasie beter te verstaan om sodoende potensiële finansiële stabiliteitsrisiko’s wat moontlik kan opduik, beter te kan hanteer. “Dié skakeling het plaasgevind, maar in geen stadium het die Reserwebank die banke opdrag gegee oor hoe hulle KPMG moet hanteer nie.”

Volgens die Reserwebank is sy posisie rakende KPMG ook vroeër uitgelig deur Francois Groepe, adjunkpresident van die Reserwebank, tydens ’n toespraak twee weke gelede.

Groepe het gesê hoewel die Reserwebank as reguleerder nie kommentaar lewer rakende individuele firmas nie, onlangse verwikkelinge rakende KMPG die bank dalk kan noop om beleidsveranderinge aan te bring om die bestuur en deursigtigheid van oudit- en rekeningkundige professies verder te versterk.

Hy het gesê die verwikkelinge rakende KPMG vereis “deurdagte leierskap en selfbeheersing” aangesien die Suid-Afrikaanse ekonomie beter bedien sal word indien verdere markkonsentrasie binne die oudit- en hulpdienste-sektor vermy kan word.

KPMG Suid-Afrika het versuim om geld aan te meld wat na bewering deur ondernemings van die omstrede Gupta-familie gewas is.

KPMG Internasionaal het verlede week erken die werk wat die maatskappy vir die Gupta-familie gedoen het, het nie aan KPMG se standaarde voldoen nie. Die ouditeursfirma het ook aangekondig dat hy van voornemens is om sy verslag terug te trek oor die sogenaamde “rogue”-eenheid binne die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Minstens sewe senior personeellede het die maatskappy intussen verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MrB ·

Almal vertel my die maatskappy moenie te erg gestraf word nie. Hulle se “Die arme klerke “, “wat van die onsluldige mense wat daar werk” en laastens “SA kan nie oor die weg kom met net drie groot firmas nie”.

Ai mense, het julle vergeet hoekom jou pa jou blad geslaan het toe jy jonk was? Net as daar n negatiewe uitkoms is, gaan die mense enige iets leer van hulle wan gedrag! Pyn leer, woorde maak geen indruk nie. Wil ons weer so n geval he in n paar jaar se tyd? Onttrek hulle lisensie se ek. Maak dit n les wat nie vinnig vergeet gaan word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.