Reserwebank sê oor repokoers, ekonomiese vooruitsig

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank. Foto: ANA

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het Donderdag aangekondig sy monetêrebeleidskomitee het eenparig besluit om die repokoers onveranderd te hou op 6,75% per jaar, terwyl die ekonomiese vooruitsig afwaarts aangepas is.

Suid-Afrika se sentrale bank het verlede November die repokoers met 25 basispunte verhoog om inflasiedruk te stuit.

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank, het gesê die monetêrebeleidskomitee (MBK) assesseer voortdurend die monetêre beleid om akkommoderend te wees. “Monetêrebeleidsaksies sal voortgaan om daarop te fokus om inflasieverwagtinge nader aan die middelpunt van die inflasieteiken te anker, in die belang van gebalanseerde en volhoubare groei,” het Kganyago gesê.

“Die MBK is van mening daar is min bewyse van aanvraagdruk in die ekonomie.”

Kganyago het gesê die Reserwebank verwag nou ʼn BBP-groei van gemiddeld 1,3% vir 2019, ʼn afwaartse aanpassing van die 1,7%-verwagting in Januarie. Die vooruitsig vir 2020 is 1,8%, afwaarts van 2,0%. Die verwagting styg tot 2,0% vir 2021, ook ʼn afwaartse aanpassing van 2,2%.

Die goewerneur het gesê die BBP-vooruitsigte neem die onlangse elektrisiteitstariefverhogings in ag wat deur die nasionale energiereguleerder aangekondig is. Hy het gesê beperkte kragvoorsiening en verswakte sakevertroue sal na verwagting produksie en beleggingsvooruitsigte beperk.

“Die komitee is van mening die huidige uitdagings wat die ekonomie in die gesig staar, is hoofsaaklik struktureel van aard,” het hy gesê.

“Gegewe die huidige ekonomiese swakpunte, het omsigtige makro-ekonomiese beleid tesame met strukturele hervorming om potensiële groei te versterk en die kostestruktuur van die ekonomie te verminder selfs nog dringender geword.”

Die MBK se volgende verklaring sal op 23 Mei bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Naas ·

Die koers moes met 0 .5% afwaarts aangepas gewees het. Ons rentekoerse is veels te hoog.

marco polo ·

Rentekoerse is hopeloos te laag. Hoe kan mens in SA bele as jy net 6% rente verdien en die Rand 25% teen die dollar verloor in n jaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.