Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het Donderdag, soos verwag, aangekondig dat hy die repokoers met 25 basispunte tot 4,25% per jaar gaan verhoog.
Die verhoging tree Vrydag in werking en beteken dat handelsbanke hul leningskoerse opwaarts tot 7,75% sal aanpas.
Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen en beteken dat Suid-Afrikaners minder of meer rente op hul lenings betaal. Beleggers kry egter meer opbrengste met ʼn hoër repokoers.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het vanmiddag gesê drie lede van die monetêre beleidskomitee was ten gunste van 25 basispunte. Twee lede het 50 basispunte aanbeveel.
Die Reserwebank verwag nou dat inflasie tot gemiddeld 5,8% vanjaar sal styg. Dit is veel hoër as sy aanvanklike voorspelling van 4,9%. Hierdie verhoging word toegeskryf aan voedsel- en brandstofprysstygings.
“Hoewel voedselpryse na verwagting hoog sal bly, behoort brandstofprysinflasie in 2023 te verminder. Dit sal help om hooflyninflasie tot 4,6% te laat daal ondanks kerninflasie.”
Volgens Kganyago sal die Suid-Afrikaanse ekonomie na verwagting in 2022 met 2,0% groei. Die persentasie is opwaarts hersien vanaf 1,7% ten tyde van die monetêre beleidskomitee se vergadering in Januarie vanjaar.
Dié opwaartse hersiening word toegeskryf aan ʼn kombinasie van faktore, waaronder sterker groei in 2021 en hoër kommoditeitsuitvoerpryse.
Kganyago het egter gewaarsku dat die voortslepende konflik in Oekraïne sy tol op globale ekonomiese groei gaan eis en hoër inflasie tot gevolg gaan hê.
Die Reserwebank het reeds vanjaar se globale groei afwaarts tot 3,7% (vanaf 4,4%) hersien. Dít is weens die oorlog en die voortdurende verspreiding van die koronavirus in onder meer Asië.
Die globale ekonomiese groei vir 2023 is ook reeds om dié redes vanaf 3,3% na 2,8% hersien. Die Reserwebank se voorspelling vir 2024 se globale groei bly vir eers onveranderd (2,7%).
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Baie mense het karre en huise gekoop, hulle salaris gaan nie by alles kan byhou nie.
Check hierdie een: Ek het in November ‘n huis gekoop. My rentekoers was 6.5%. Voordat ek in Desember nog my eerste paaiement betaal het, is die rentekoers aangepas na 6.75%. Toe in Januarie stoot hulle hom tot 7%. En nou gaan dit 7.25% wees. Vier verhogings en ek het nog net vier maande in my nuwe huis gebly.
Ek was darem slim genoeg om my bekostigbaarheid uit te werk op ‘n 11.5% bank rentekoers. So ek sal nog vir ‘n rukkie oraait wees. Maar dis elke keer ‘n ekstra R450 per maand as hulle .25% bysit.
Nog ‘n skop in die tande van die gewone salaristrekker. Dit sal uitkring na die res van die ekonomie, aangesien die bedrag wat spandeer kan word, verder ingekort word.
Stop n bietjie julle sit net alles op en op en nog n keer op waar gaan alles eindig ons gaan nie meer ry of eet nie want o ja alles word net sky high gejaag
Die rentekoers is eintlik taamlik laag. Ek onthou hoe dit in die middel-1980’s was toe jy 23% op ‘n huislening by United betaal het. Onthou ook dat mense wat van spaargeld leef, nou bietjie meer rente sal kry. Vir hulle is dit positief.