Reserwebank verlaag repokoers verder

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank (Foto; Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het Donderdag aangekondig dat hy die repokoers met ʼn verdere 50 basispunte tot 3,75% per jaar sny.

Dit word gedoen in ʼn poging om die negatiewe impak op die ekonomie weens die algehele landswye afsondering te verlig.

Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen en beteken dat Suid-Afrikaners minder rente op hul lenings betaal. Beleggers kry egter ook minder opbrengste met ʼn laer repokoers.

Dit is die vierde keer vanjaar wat die monetêre beleidskomitee van die Resewebank dié stap doen. In Januarie is dit met 25 basispunte verlaag tot 6,25%, in Maart met ʼn verdere 100 basispunte tot 5,25%, en in April met 100 basispunte tot 4,25%.

Die monetêre beleidskomitee hou tradisioneel elke twee maande ʼn vergadering en die volgende een is vir 23 Julie geskeduleer.

Die daling in die rentekoers tree op 22 Mei 2020 in werking.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gesê drie lede van die komitee was ten gunste van 50 basispunte en twee lede het 25 basispunte aanbeveel.

Die daling beteken dat handelsbanke hul leningskoerse afwaarts sal aanpas tot 7,25%.

Kganyago het gesê nog twee dalings van 25 basispunte kan waarskynlik in die volgende twee kwartale van 2020 verwag word. Hy het gewaarsku wêreldwye ekonomiese en finansiële toestande sal na verwagting vir die afsienbare toekoms onvoorspelbaar bly.

Die Reserwebank verwag tans dat die BBP in 2020 met 7,0% sal afneem, in teenstelling met die 6,1% wat in April voorspel is. “Terwyl die afsonderingsperiode in die volgende paar maande geleidelik opgehef gaan word, sal beleggings, invoere en uitvoere, na verwagting skerp afneem vir die jaar. Wydverspreide werksverliese word ook verwag.”

Die BBP sal na verwagting in 2021 met 3,8% styg en met 2,9% in 2022.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cecil ·

Vir die met skuld help dit baie. Ek kry egter die ouer garde baie jammer wat op renteinkomste moet lewe.

Dirk Mostert ·

My pensioenfonds is ‘n lewende annuiteit. Die 40% verlaging van rentekoerse sover veroorsaak dat ‘n groot deel van my maandelikse pensioen nou van my pensioenkapitaal verhaal word. Tito Mboweni wil privaatpensioenfondse ook stroop vir staatsuitgawes. Die staatspensioenfondse kan aangevul word van belastinggeld. Gaan dit vir privaatpensioenfondse ook geld?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.