Reserwebank waarsku oor ‘sekondêre sanksies’, beurtkrag

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank. (Argieffoto: ANA)

Die Reserwebank waarsku in sy jongste oorsig oor Suid-Afrika se finansiële stabiliteit dat dit duidelik is dat onbetroubare elektrisiteitstoevoer ʼn groeiende risiko vir die land se finansiële bestendigheid inhou.

En terwyl beurtkrag Suid-Afrikaners in die donker hou, waarsku die bank ook teen die verreikende gevolge van Suid-Afrika se sogenaamde onverbonde standpunt in die konflik tussen Rusland en Oekraïne – en die verwoestende uitwerking wat sekondêre sanksies op ʼn reeds sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie kan hê.

Beurtkrag

Suid-Afrika het sedert 2008 ʼn toenemende tekort aan krag wat lae ekonomiese groei tot gevolg het. Die reëlmaat waarvolgens beurtkrag ingestel word en die omvang daarvan het egter die afgelope paar jaar eksponensieel toegeneem.

Luidens die Reserwebank se data moes Suid-Afrikaners in 2018 slegs ses volle dae van beurtkrag verduur – veel minder vergeleke met die 136 volle dae van beurtkrag wat net in die eerste vyf maande van dié jaar aangeteken is.

Soos sake nou staan, sal Eskom ongetwyfeld die 157 volle dae van beurtkrag verlede jaar binnekort oorskry.

(Grafika: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Die Reserwebank voorspel nou – met die veronderstelling van 280 volle dae van beurtkrag van verskillende fases, maar hoofsaaklik fase 4 vanjaar – dat BBP in 2023 met slegs 0,3% gaan groei.

Dít omdat beurtkrag vanjaar na verwagting twee persentasiepunte gaan wegkalwe van algehele ekonomiese  groei.

Die bank verwag egter dat beurtkrag met 150 dae in 2024 en 100 dae in 2025 sal verminder. ʼn Verlaging van onderskeidelik 0,8% en 0,4% in BBP-groei word gevolglik vir die volgende twee jaar voorspel.

Die bank maan ook dat hoë fases van beurtkrag inflasionêr kan wees indien verbruikers moet pa staan vir hoër bedryfskoste (weens die gebruik van dieselopwekkers) en die bederf van goedere (weens beurtkrag) wat weer tot ʼn tekort aan sekere items kan lei.

ʼn Ontleding deur die bank toon dat beurtkrag vanjaar 0,5% by hooflyninflasie kan voeg.

Beurtkrag sal ook waarskynlik ander makro-ekonomiese veranderlikes negatief beïnvloed, waarsku die Reserwebank.

“Die inkrimpende uitwerking op ekonomiese groei kan byvoorbeeld die volgehoue herstel in indiensneming belemmer, beleggers afskrik, Suid-Afrika se risikopremie verhoog en verdere druk op die wisselkoers plaas.”

Argieffoto (Foto: AFP)

Beurtkrag vreet oral

Die Reserwebank sê daar is toenemende bewyse dat huishoudings en maatskappye in alternatiewe energiebronne belê om die gevolge van beurtkrag te versag. “Dit kom egter ten koste van ander prioriteite,” waarsku die bank.

Sonpanele ter waarde van sowat R3,2 miljard is gedurende die eerste kwartaal van vanjaar ingevoer, vergeleke met die R1,4 miljard vir ingevoerde sonpanele tydens die eerste kwartaal van verlede jaar.

“Die oorgang van huishoudings na alternatiewe energiebronne sal waarskynlik die reeds skewe inkomste- en ontwikkelingsverspreiding in Suid-Afrika net nóg vergroot aangesien dit hoofsaaklik die middel- tot hoë-inkomste-huishoudings is wat in alternatiewe energiebronne kan belê.”

Die Reserwebank sê die voorkoms van hoër fases van beurtkrag hou ʼn onmiddellike risiko in vir die doeltreffende funksionering van infrastruktuur soos kitsbanke en selfoonnetwerke “wat deurslaggewend is vir die gladde funksionering van die land se finansiële stelsel”.

Beurtkrag bemoeilik boonop sake vir munisipaliteite – veral die klein munisipaliteite in landelike gebiede – aangesien dié munisipaliteite grootliks afhanklik is van die inkomste wat deur elektrisiteitsverkope voortgebring word.

“Hoewel die oorgang na alternatiewe energiebronne langtermynvoordele vir die ekonomie inhou, sal dit ʼn strukturele uitwerking op die basisinkomste van munisipaliteite hê,” maan die bank.

“Hoër fases van beurtkrag bedreig dus die finansiële lewensvatbaarheid van talle munisipaliteite wat op sy beurt moontlik verdere druk op die fiskus plaas, terwyl dit dienslewering verder negatief beïnvloed.”

Rusland en sekondêre sanksies

Die Reserwebank sê die onlangse tuimeling van die rand teenoor die dollar en die onvermydelike vrae oor Suid-Afrika se onverbonde standpunt rakende die konflik in Oekraïne, hou ʼn bedreiging in vir die deelname van Suid-Afrikaanse finansiële instellings in die internasionale finansiële stelsel.

Dit verhoog ook die waarskynlikheid dat sekondêre sanksies op Suid-Afrika afgedwing kan word.

“Sou hierdie risiko ʼn werklikheid word, sal die Suid-Afrikaanse finansiële stelsel nie na behore kan funksioneer nie aangesien dit nie internasionale betalings in Amerikaanse dollar sal kan maak nie.

“Dit kan lei tot ʼn skielike opskorting in kapitaalinvloei en verhoogde uitvloei.”

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die bank sê voorts dat die dalende binnelandse finansiële mark diepte en likiditeit verder sal vererger, en beleggersvertroue en sentiment verder erodeer. Dit is veral met inageming van Suid-Afrika se insluiting op die Financial Action Task Force (FATF) se gevreesde gryslys.

“Die risiko bestaan ook dat Suid-Afrikaanse finansiële instellings onderwerp kan word aan meer intensiewe ondersoeke deur buitelandse eweknieë, selfs in die afwesigheid van formele sekondêre sanksies.”

Die Reserwebank het ook verskeie sleutelrisiko’s geïdentifiseer vir binnelandse finansiële stabiliteit, sou sekondêre sanksies wél teen Suid-Afrika ingestel word:

  • FATF-gryslys en finansiële stelselintegriteit

Die dubbele trefslag van sekondêre sanksies en die land se onlangse insluiting op die gryslys kan ernstige en langdurige skade aan Suid-Afrika se reputasie in die globale finansiële stelsel veroorsaak.

  • Uitwerking op oorgrensbetalings en bankverhoudings

Die mees onmiddellike uitwerking sal wees die verskerping of beëindiging van bankverhoudings en toenemende koste van oorgrensbetalings, sou sekondêre sanksies teen Suid-Afrika ingestel word.

  • Die moontlike beskadiging van verhoudings met Suid-Afrika se grootste handelsvennote

Die risiko bestaan dat Suid-Afrika se gunstige toegang tot die Amerikaanse mark ingevolge die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA) moontlik nie hernu gaan word wanneer dit in 2025 verstryk nie. Dit sal ernstige gevolge inhou vir korporasies en nywerhede wat by hierdie ooreenkoms baat gevind het sedert sy ontstaan in 2000.

  • Uitwerking op Suid-Afrika se buitelandse reserwes

Die SARB se buitelandse reserwes word hoofsaaklik in goud en geldeenhede soos USD (VSA dollar), euro en Britse pond gedenomineer. Die bestuur van hierdie buitelandse reserwes kan geraak word, sou sekondêre sanksies teen Suid-Afrika opgelê word.

(Grafika: Christel Cornelissen/Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit word erger mense. Kom ons stig af. Gemeenskapsfederalisme gaan nie help nie.

Nici ·

As ons afstig en die DA is in beheer gaan elke immorele westerse siening hier afgedwing word wat ons kinders sal vernietig. ANC is beter as die DA se woke.

De Bok ·

Dit is bietjie rof m te se die ANC is beter. Ek verkies woke idees bo Cholera in die water, as ek nou moet kies tussen die twee. Maar jy is reg dat die DA nie goed is nie.

Nici ·

Hoekom moet elke land gedwing word om kant te kies wanneer Amerika ‘n probleem het? Kan hul maar net nie ophou om lande te boelie met hul persoonlike agendas nie?

Hoekom ·

Amerika het baie probleme maar die aanval op Oekraïne en die kante wat mense kies is nie Amerika se probleem nie. Daar word oorlogsmisdade gepleeg in Oekraïne, en dit is elke land (Amerika of SA, wie ookal) se taak om die aggressor verantwoordelik te hou. So ja kies ‘n kant en kies die kant van reg en geregtigheid….

De Bok ·

Dit is uit en uit n Amerika probleem. Die Oekraine oorlog is in die eerste plek NATO vs Rusland. Oekraine is maar net die speelveld.

Kneh Mokenah ·

Ek wonder hoeveel persone in die regering hierdie berig sal verstaan.

Papsak ·

Die ANC is nie besig om ons land te verwoes nie hulle het hom lankal klaar verwoes

kragaap ·

Die ANC het geen benul van welvaart skepping nie net van eet op wat ander gesaai het en as die lande kaal lê steek hul die bedel handjies uit na die ryk weste en herhinner hul aan kolonialisme en imperialisme en dat hul “skuld” het om terug te betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.