Reserwebank waarsku resessie kan verdiep

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het Dinsdag gewaarsku die land se ekonomiese resessie kan verder verdiep indien daar nie beleidsekerheid kom oor mynbou en landbou, die twee sektore wat bygedra het tot groei in die eerste kwartaal, nie.

“Op die oomblik is daar beleidsonsekerheid in hierdie twee sektore, wat beteken ons gaan in nog ʼn dieper resessie ingaan indien die sekerheid nie herstel word nie. Hoe gouer daar beleidsekerheid kom, hoe beter sal dit vir ons sosio-ekonomiese welvaart wees,” het Kganyago aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê.

Kganyago het die komitee ingelig oor die rol van die bank en die vooruitsig vir die ekonomie.

Hy het gesê daar kan nie van ʼn mynmaatskappy verwag word om ʼn 30 jaar lange belegging te maak wanneer daar beleidsveranderinge is elke keer wanneer ʼn nuwe minister in die portefeulje aangestel word nie. “Dieselfde geld as jy ʼn boer is en jou moet bekommer oor die langtermyn. Dieselfde geld as jy ʼn fabriekseienaar is.”

Kganyago het daarop gewys dat Suid-Afrika en Venezuela die enigste groot ekonomieë is wat tans in ʼn resessie is ten spyte van ʼn verbetering in die wêreldekonomie. Dit beteken dat Suid-Afrika se probleme nie net op die globale ekonomiese klimaat geblameer kan word nie, maar dat daar eerder spesifieke probleme in die land self is.

“Ons probleme is eiesoortig,” het hy gesê, maar bygevoeg die afname in vertroue in die ekonomie kon deur politieke gebeure “oordryf” geword het.

Kganyago was baie beslis dat die Reserwebank sy onafhanklikheid sal behou en het verwys na adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se aanbeveling dat die parlement die grondwetlike mandaat van die bank hersien.

Hy het gesê die OB se verslag is in Mei bekendgestel toe hy op pad was na ʼn vergadering van die Bank for International Settlements en dat die reaksie van sy eweknieë dit duidelik gemaak het dat die verslag “nie gehelp het” om vertroue in die plaaslike ekonomie te herstel nie.

Kganyago het gesê groot handelsvennote het aangedui dat onsekerheid ʼn ingrypende impak op beleggersvertroue in Suid-Afrika het. Hy het beklemtoon dat persone wat probeer om met die mandaat van die bank in te meng “ʼn stryd te wagte kan wees”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

Gaan soek die fout by Zuma en sy Gupta pelle. Die geld stroom die land uit!

Johannes van Staden ·

Asof ons dit nie weet nie kom eerder met oplossings en hou om vadersnaam op met steel ! !

Scalla ·

Giggelbaba en die man se sienings verskil hemels breed, Lesetja se uitspraak maak meer sin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.