‘Resessie in SA onvermydelik as beleid nie verander’

ekonomiese krisis

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) het gewaarsku dat Suid-Afrika binnekort ʼn resessie kan ingaan indien beleidshervormings nie dringend in werking gestel word nie.

Frans Cronje, die uitvoerende hoof van die SAIRV, het in ʼn verklaring gesê die BBP-data vir die eerste kwartaal van die jaar toon ʼn skerp daling in ekonomiese groei van 1,2%. Die data is Woensdag deur Statistiek SA bekendgemaak.

“Die hoofredes vir die swak ekonomiese groei is die daling in die groei van die myn- en landbousektore. Albei sektore word ondermyn deur vyandige en teenproduktiewe beleidmaking,” het Cronje gesê.

“Ideologie speel ʼn te groot rol in die regering se beleidmaking en daar is ʼn huiwerigheid om te aanvaar dat hierdie ideologieë nie in die regte wêreld werk nie. Ondanks stellings dat ekonomiese groei van sleutelbelang is, sien ons nie veel in die regering se beleidstellings wat aandui dat die kabinet ernstig is om die ekonomie om te keer nie.”

Cronje het gesê dit is noodsaaklik dat veranderinge in mynbedryfbeleidstellings en arbeidswetgewing aangebring word, spesifiek met betrekking tot stakings, beskerming van buitelandse beleggings en die hangende wetgewing op onteiening.

“Die arbeidsmark moet tot ʼn aansienlike mate dereguleer word en die bemagtigingsbeleid moet so aangepas word dat dit beleggers nie afskrik nie. Daarby moet eiendomsregte ook beskerm word. Sonder hierdie stappe is dit moeilik om te sien hoe Suid-Afrika ʼn resessie kan vermy, wat ongetwyfeld tot ʼn kredietafgradering sal lei teen die einde van die jaar.”

Die kredietgradeerder Fitch het vandeesweek Standard & Poor’s en Moody’s se voorbeeld gevolg deur Suid-Afrika se kredietgradering onveranderd te laat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Loeis ·

Maar op die ou einde stel kommuniste hulle ideologie bo enigiets anders. Geen prys is te groot om te betaal nie. Die prys van 1992.

m ·

Hierdie slapgat regering sal moet begin plan maak…..Hierdie skip is besig om te sink

alida ·

Dit lyk my die mense verstaan niks. Raak onslae van JZ en die land se probleme is opgelos. Dit is mos hy wat alles begin het toe hy Nene afgedank het en sy tjommie in sy plek gesit het.

Brett Nell ·

Die hele probleem het nie by Zuma behin nie maar eintlik al met Thabo Mbeki toe hy AA en BEE verskerp het. Sederdien is te veel onbevoegde bestuurders aangestel wat dood eenvoudig nie weet hoe om die ekonomiese skip te stuur nie. Arbeidswetgewing sal aangepas moet word want teveel mense word aangestel wat geensins priductief is nie en dak kan hulle doodeenvoudig nie weer afgedank word nie. Een van ons groot probleme is hierdie land is die alewige beklemtoning van menseregte, menseregte kan net geld as dit gepaartgaan met verantwoordelikheid.
Ons het `n totaal nuwe siening in dieland nodig, idiologiee gaan ons ners bring nie.

Oom Ekonoom ·

Ons is al vir jare in n resessie, wat hulle eintlik van praat is om in n volskaalse depressie te gaan. Ongelukkig is daar nie n politieke wil om dit te keer nie want die politici is in n “looting mode”.

Rynhardt ·

Oom Ekonoom jy is op en wakker en kan sien wat aangaan.SA ekonomie is opsetluk vernietig.Talle ekonome en politici leef in permanente ontkenning! Twee weke gelede het die einste SABC 2nuus gese:”Die Anc wag vir wereldwkonomie om te herstel”.Wel, hy gaan permanent wag daarvoor.Publiek word net gespeel deur onbeholpe Anc!

christine ·

Sien juis in die Volksblad hoe lekker Gordhan glimlag, na ons dieselfde gegradeer is en Zuma saam op foto die box lag natuurlik weer sy bas af.

johann cb ·

Het ons enigsins bevoegde persone in die kabinet om hierdie krisis af te weer? Ons kan praat en voorstel tot ons blou in die gesig is, maar sonder die nodige kundigheid gaan ons niks bereik nie! Ek sien juis dat dit goed gaan in die Wes-Kaap met die DA aan bewind. Hopelik sal daar na die komende verkiesing veranderings kan plaasvind. Kan ons nie maar Adv Madonsela vir president kry nie asseblief!?

christine ·

Johann dis so die DAlewer dienste regtig ek kom van weskus, ek het hier in Bloemfontein in n gemors ingestap so so hartseer Bloemfontein is n hool teen wat dit was. Die DA is beter as goed maar hulle hou nie parke skoon nie, en San Parke het die kontrakte gekry om die Tuine en parke skoon te hou

Paul ·

Suid-Afrika is reeds vir ‘n jaar lank in ‘n ekonomiese resessie, en selfs langer, sedert 2011, indien na BBP per capita gekyk word. Nog langer, omtrent van 2008 af, indien na BBP per capita in dollarterme gekyk word.

As mens na BBP alleen kyk: Daar was ‘n daling van 2% vier kwartale terug, toe ‘n styging van 0,3% en toe van 0,4% en nou weer ‘n daling van 1,2%.

Tesame is dit steeds vêr onder die vlak van vyf kwartale gelede.

Om vas te bly staar in “twee kwartale van negatiewe groei”, die skoolvlak ekonomie definisie van ‘n resessie, is twak. Wat as daar minus 0,1% en minus 0,1% in die afgelope twee kwartale was? Dit sou dan “tegnies” ‘n resessie gewees het, maar sou dit erger gewees het as een kwartaal se minus 1,2%?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.