Reserwebank verlaag wéér repokoers

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank (Foto: ANA)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het Dinsdag aangekondig dat hy die repokoers met ʼn verdere 100 basispunte tot 4,25% per jaar sny. Die repokoers is die koers waarteen die Reserwebank geld aan handelsbanke leen en beteken dat Suid-Afrikaners minder rente op hul lenings betaal. Beleggers kry egter ook minder opbrengste met ʼn laer repokoers.

Dit is die derde keer vanjaar dat die Reserwebank dié stap doen. In Januarie is dit met 25 basispunte verlaag tot 6,25% en in Maart met ʼn verdere 100 basispunte tot 5,25%.

“Die verspreiding van die koronavirus het ʼn geweldige invloed op die wêreldekonomie gehad en onsekerheid wat hierdeur geskep is, het gelei tot onstabiele markte. Dit het weer ʼn uitwerking op opkomende markte, veral in Suid-Afrika,” het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Dinsdag tydens ʼn virtuele nuuskonferensie gesê.

Hy sê die verspreiding van Covid-19 na Suid-Afrika en die gevolglike tydperk van algehele afsondering wat aangekondig is, sal geweldige ekonomiese en maatskaplike gevolge vir die land inhou.

“Die bank verwag dat die bruto binnelandse produk dus vanjaar met 6,1% sal inkrimp. Die verlenging van die afsondering met twee weke sal groeivooruitskattings nog verder knou. Dit sal waarskynlik werksverliese tot gevolg hê en veral ʼn groot trefslag vir klein ondernemings wees,” het Kganyago gesê.

Dit is met dié agtergrond in gedagte dat die Reserwebank die repokoers verder verlaag het, in werking vanaf Woensdag 15 April.

Die Suid-Afrikaanse rand het negatief op dié nuus gereageer en met 1% verswak teenoor die Amerikaanse dollar. Die rand het teen Dinsdagmiddag teen R18,20 verhandel teenoor die dollar, in vergelyking met die R18,00 vroeër dieselfde dag.

Bianca Botes, uitvoerende hoof van Peregrine Treasury Solutions, sê dié verlaging in die rentekoers kom as ʼn verrassing, aangesien die bank vroeër aangedui het dat hulle geen verdere verlagings vir 2020 sal oorweeg nie.

Die ekonoom Iraj Abedian het gesê dié verlaging in die repokoers is dalk nie genoeg om die druk op die ekonomie te verlig nie. “Dit is wel ʼn stap in die regte rigting, maar die bank moet meer doen. Die repokoers moes ʼn paar weke gelede al met tussen 250 en 300 basispunte gesny gewees het,” het hy op Twitter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Bloedhond

Moet ons lag of huil of huil soos ons lag.