Respekrit vir Zelda beplan

Medelede van die motorfietsgemeenskap het die naweek saamgekom op die plek op die N1 in die Kaap waar Zelda van Niekerk geskiet is. Foto: Facebook

’n Verdagte in die skietdood van ʼn motorfietsryer op die N1 oorkant Century City in Kaapstad, sal na verwagting vandag in die hof verskyn.

Die polisie het Vrydag gesê Zelda van Niekerk (45) het onder die N7-oorbrug op die N1 stilgehou en is daar oorval, beroof en toe in die maag geskiet. Sy het later in die hospitaal aan haar wond beswyk. Twee ander verdagtes verkeer na verneem word nog op vrye voet.

Die man is in hegtenis geneem nadat lede van die Kaapse polisie se honde-eenheid, die dwelm-en-bendetaakspan en nog ʼn spesialiseenheid Vrydag omstreeks 20:00 gereageer het op ʼn wenk van die publiek dat ʼn vuurwapen in ʼn huis gehou word in Kensington, nie ver daarvandaan nie.

Medelede van die motorfietsgemeenskap het Saterdag bymekaargekom op die plek waar Van Niekerk geskiet is om hulde aan haar te bring en te wys hulle verwerp haar sinnelose moord.

Bianca Murie, ʼn vriendin van Van Niekerk, skryf in ʼn roerende inskrywing op Facebook sy het die oorledene eers onlangs leer ken op die begrafnisrit van Van Niekerk se lewensmaat, wat haar stryd teen kanker verloor het.

“My meisie ry motorfiets en het hierdie dame baie goed geken,” skryf Murie. “Zelda was op pad om vlae te gaan aflewer vir die gedenkrit van ʼn ander vroue-ryer wat [Saterdag plaasgevind] het. Van daar sou sy na Vishoek gegaan het om ʼn jong paartjie na hul matriekafskeid te begelei.”

Van Niekerk het glo langs die pad vir ’n vriendin gewag wat saam met haar Vishoek toe sou ry, toe sy beroof en geskiet is.

“Dit kon enigeen van ons gewees het. Dit verg net ʼn pap band, ʼn stukkende speek of ʼn los batterykonneksie.”

Sy skryf dis verregaande dat so iets kan gebeur. “Maar terwyl dit ʼn protesrit regverdig, kan ons nie een onderneem nie omdat al die rompslomp en toestemmings tot ná die begrafnis sal duur,” skryf Murie.

Daarom het haar vriende in die motorfietsgemeenskap besluit om ʼn respekrit te reël, wat hulle Rit vir Zelda sal noem. “As dit dan verander in ʼn betoging teen die totale minagting van menselewens of teen die gebrek aan polisiëring, dan sal dit heeltemal toevallig wees omdat ons elkeen toegelaat word om ons mening te lug tydens so ʼn respekrit.

“En daar sal geen regsgronde wees nie om ons te keer om ons respek te betoon en ons meegevoel met haar vyfjarige seun te betuig, wat alleen agtergelaat word weens dié lafhartige daad,” skryf Murie.

Sy vra deelnemers aan die beplande rit om die Grondwet in gedagte te hou en hulle te weerhou van haatspraak en rassisme omdat die rit, waarvan die datum nog bekend gemaak moet word, sal gaan oor misdaad, motorfietsryers se kwesbaarheid en hul regte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

frans ·

terwyl rassehaat en grondgrype om te straf vir apartheid aangeblaas word in die land en tronkstraf opgelê word vir crimen injuria soos die vicky momberg geval, sal kriminele dade hoogty vier. rus in vrede.

Laetitia ·

absoluut sinneloos.!
bly dat die publiek na vore gekom het met inligting, wat gelei het dat een verdagte reeds aangekeer is.

Jane ·

Absoluut skokkend dat ‘n onskuldige vrou met haar lewe moes betaal vir haar rugsak nadat haar motorfiets onklaar geraak het. Vandag sit ‘n kind sonder ‘n ma, maar dit is net ‘gewone misdaad’ in SA? My innige simpatie aan haar pragtige seun en familie .. Sterkte aan almal betrokke en baie dankie aan die ‘bikers’ vir julle ondersteuning.

Nettie ·

@Jane, haar motorfiets het nie onklaar geraak nie; sy het gewag vir iemand wat saam met haar na Vishoek toe sou reis,

Hierdie is uiters tragies en wys dat ons absoluut nêrens meer veilig is nie. Ons moet begin verantwoordelikheid neem vir ons eie veiligheid. Sy moes haarself ten minste met ‘n botteltjie pepersproei of ‘n skoktoestel bewapen het en NIE ONDER ‘n brug met soveel bosse naby die pad, afgetrek het nie, maar eerder by ‘n vulstasie of enige ander plek waar daar baie mense is.

Nie dat dít ‘n aanval in alle opsigte sou voorkom het nie, maar nogtans ….. Sterkte aan die dame se gesin, familielede, “biker-vriende”.

Mrs H ·

“Rit vir Zelda”, is iets wat ons Harley Davidson Club in Gauteng ook graag sal wil ondersteun. Dit sal wonderlik wees as dit landswyd in elke provinsie gedoen kan word. Laat weet ons gerus asb? Ook as ons kan help met die reëlings daarvan.

Roger ·

Ek vermoed dit is iemand wat sy geken het…siek land met siek mense!

dejager ·

Dit behoort nie so te wees nie maar dit is.Ek sal noooooit my vrou op ń motorfiets laat ry alleen op Suid Afrika se paaie nie!Is daar nog een mens in ons land wat dink mens kan maar dit doen?
My hart gaan uit na haar familie.
So onnodig.

Landi ·

Dit kon enige iemand, in enige vorm van vervoer gewees het, selfs jou vrou wat dalk alleen onder n brug met haar motorkar, wat dalk onklaar kon geraak het. Soos jy se, dit moet nie so wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.