Restaurant wil polisie aankla ná duur drank verdwyn

Kringtelevisiemateriaal in die Hennie’s-restaurant in Pretoria wys hoe die kroegman ‘n nie-alkoholiese jenewer vir die klant ingooi. (Foto: Skermgreep)

Die bekende restaurant Hennie’s Moreleta in Pretoria, wat verlede week onder boeliegedrag van die polisie deurgeloop het, gaan nou ʼn diefstalsaak teen die polisie aanhangig maak. Dit volg nadat die polisie dié restaurant se bestuurder, Atrayo Nolte (31), valslik beskuldig het – sonder die nodige bewyse – dat hy alkohol bedien het en daarna drankvoorraad ter waarde van R112 000 gekonfiskeer het, waarvan baie nog geseël was. Die restaurant het gister (Woensdag) slegs van die drank teruggekry.

Maroela Media het berig polisielede het Nolte na bewering onregmatig in hegtenis geneem en vir agt uur in aanhouding gehou omdat hulle oortuig was dat hy alkohol in die restaurant bedien het. Die Nasionale Vervolgingsgesag het reeds alle klagtes teen Nolte teruggetrek weens onvoldoende bewyse.

AfriForum het Donderdag tydens ʼn mediakonferensie aangekondig dat sy privaatvervolgingseenheid reeds diensklagtes by lt.genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, gelê het teen dié polisiebeamptes wat volgens die eenheid “onregmatig” en “irrasioneel” opgetree het.

“Ons het in die diensklagte al die feite uiteengesit en gevra dat die polisie dit moet opvolg en sorg dat al die nodige dissiplinêre stappe teen die betrokke polisielede gedoen word. Ons sal ook ten alle tye beskikbaar wees indien die polisie ons hieroor wil nader,” het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, gesê.

Gerrie Nel saam met Werner Pretorius, die eienaar van die bekende restaurant Hennie’s Moreleta , en Altrayo Nolte, die restaurant se bestuurder, Donderdag by die mediakonferensie (Foto: Verskaf)

Die eenheid gaan ook die eienaar van die restaurant, Werner Pretorius, in die diefstalsaak teen die polisie ondersteun. Volgens Nel beoog hulle om in die volgende paar dae dié saak aanhangig te maak.

“Die beamptes moet verantwoordbaar gehou word en daar moet dissiplinêr teen hulle opgetree word. Die eenheid voel ʼn afdanking sal in dié geval die beste optrede wees.”

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn klant die betrokke Vrydagoggend in die restaurant ingekom het, die kroeg genader en aangedring het dat die kroegman vir hom ʼn alkoholiese drankie bedien. Die kroegman het dit aan die man duidelik gemaak dat die restaurant nie alkohol verkoop nie, waarna hy toe ʼn nie-alkoholiese jenewer bestel en aangedring het dat die kroegman dit vir hom moet “lekker” maak. Die kroegman het vir die klant ’n nie-alkoholiese drankie ingegooi en bedien.

Twee polisiebeamptes, wat nie polisie-uniforms aangehad het nie, het die restaurant binnegestorm en aangevoer dat Nolte besig was om ʼn alkoholiese drankie aan die klant te bedien. Nolte het die beamptes telkens verseker dat hulle nie alkohol bedien nie. Hy het selfs aan hulle fakture getoon waarop daar aangedui word dat drankies wat bedien word geen alkohol bevat nie. Die beamptes het egter geweier om dié dokumente te aanvaar en by die dossier in te sluit.

Al het die NVG besluit om Nolte nie te vervolg nie, het die polisie aanvanklik geweier om die alkohol aan die restaurant terug te besorg. Van die voorraad is egter Woensdag – na nege dae se gespook – sonder enige verduideliking teruggegee.

“Volgens die restaurant se voorraadlys is nie al die drank terugbesorg nie. Van die inhoud in van die bottels – soos premium whiskeys – is ook weg. Selfs op die eerste dag toe Nolte by die polisiestasie aangekom het, het een van die whiskey-bottels kwansuis uitgelek,” het Nel gesê.

Nel sê toe Nolte die polisie konfronteer oor die vermiste bottels drank, het hulle gesê dat van die ander drie skofte se beamptes dit moes gedrink het.

Nel het ook die emosionele impak van die voorval op Nolte, Pretorius en hul kollegas en families uitgewys.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Donderdag by die mediakonferensie (Foto: Verskaf)

Volgens Nel het Pretorius gesê dat hy met die saak bewusmaking wil skep om te verhoed dat dit met enigiemand anders gebeur.

“Hierdie is ʼn stresvolle en frustrerende tyd vir ons. Als kon verhoed geword het as die polisie vir ons net vyf minute gegee het om ons kant van die storie te vertel. Dit was ʼn absolute magsmisbruik. As die polisie by jou voordeur inloop, loop die wet by die agterdeur uit en dan het jy geen regte en geen stem meer nie,” het Pretorius tydens die mediakonferensie gesê.

Volgens Nel is dit verder duidelik dat sekere polisiebeamptes die voorbeeld van hul politieke leier blindelings navolg en dié optrede behoort skerp kritiek uit te lok. “Dit blyk dat polisieminister Bheki Cele wil hê dat sy onverskillige optrede nagevolg moet word, soos om ’n enkele branderplankryer ten aanskoue van die media in hegtenis te neem en ’n toelaatbare filmopname op die strand te stop.

“Ons bly egter hoopvol dat die polisiebestuur sal toesien dat polisiebeamptes ingevolge die wet optree en enige magsmisbruik of irrasionele gedrag vermy. Hoewel die meerderheid mense begrip het vir die maatreëls wat die regering ingestel het om die verspreiding van die Covid-19-virus te bestuur en te beperk, blyk die wydverspreide kritiek teen sekere wetstoepassers oor die hantering en toepassing van hierdie regulasies geregverdig te wees.”

Nel het ook terugvoer verskaf oor die formulemelkvoorval waarby Naas en Natasha le Roux verlede maand betrokke was. Die eenheid het, in samewerking met Le Roux se prokureurs, klagtes teen dié betrokke polisiebeamptes ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Persheks Adri ·

Vat hulle Gerrie! Gaan groot baie groot! Magsmisbruik moet einde kry as hulle so op tree. Gggmmmfff die bottel lek ja right

Sêmanet ·

Ek is seker dat AL die drank wat gekonfiskeer word, nie weer voltallig terugbesorg word nie. Hierdie is seker net een geval waarvan ons hoor. Wat van die ander mense wat dit maar los. Selfs die polisie behoort nie te drink gedurende lockdown nie. Wat maak hulle so spesiaal?

Persheks Adri ·

O ja dit kan jy gerus weer sê! Daar is mos nie drank in lockdown nie, so hier is die gulde geleentheid om te kry soveel hulle wil hê!

marius ·

Jammer daar was nie crouton olie in die duur voggies nie .

Androclus ·

Here gee Gerrie krag asb dis nog al een wat kan darem verdedig

Phillip ·

Ek kan glo Garsfontein-polisie tree so verdag op nie… Dit is nou al die tweede voorval waarvan ek gehoor het. In die eerste geval het hulle lelik aangejaag met ‘n kardiefstalsaak … erens is daar ‘n vrot appel tussen die “manne en vroue”. Ek gaan dit nie hier los nie.

Johannes ·

Ek ruik ‘n rot. ‘n Klient versoek ‘n sg lekker drankie en 2 polisiebeamptes sonder uniform storm net daarna in ????

Is die kroegman nie uitgelok deur die klient om ‘n misdryf te pleeg deur te versoek dat die kroegman die drankie ‘lekker moet maak nie?

Is die uitlokking tot die pleeg van ‘n misdaad nie strafbaar nie?

My siening ·

En groot hoed steek hulle op met sy arrogante houding!

Anthony ·

Is enige iemand verbaas die drank is weg? Dit was die storie agter die storie. Duur drank for mahala.

Casper ·

Die oom met die hoed is by verre die arroganste minister in die kabinet en nie die skeroste potlood in die pakkie nie net soos die tannie met die soek.Cele treë so op hoe kan hulle optreë teen magsmisbruik.

Stefan ·

Ons het al baie verder afgesak as die gemiddelde piesang republiek.

Kokerboom ·

Die aanstelling van krummels in SAP veroorsaak al die kopsere. Voeg daarby onvoldoende opleiding asook gebrek aan diskresie

Anthony ·

Vandag se poeliesie manne dink omdat hulle I badge het kan hulle Weg kom met moord hulle moet vas gevat word , en ge hethinder word wie betaal hulle salaris…..

Jannie van Niekerk ·

Die Minister van polisie is self korrup, wat is die kans dat daar teen ANC/EFF polisieelede opgetree sal word? Indien hulle wel ontslaan sal word, moet dit sonder pensioen en polisievoordele wees.

Sarel ·

Al die Beamptes wat hulle skuldig gemaak het aan
Magsmisbruik is nie bang vir vervolging og dat hulle dade op Kamera is nie. OPOD se lys is oorvol en die tyd sal leer of die mdnse deur OPOD ondersoek sal worf.
Didiolinrtr sake hoop op en kanse is goef dat tern die tyd
Sy naam getrek worf hy nie meer indien sal wees nie.
Stel Eise Privaat in.

Francois ·

SAPS “tree op” in 10 sake, waarvan net 1 reageer. Die ander 9 is “profyt” Die SA belastingbetaler dok mos op vir finansiële eise. Eis ‘n slag direk van die beamptes, dan sal die sake in die kiem gesmoor word.

Heinrich ·

Daar is nie salf te smeer aan daardie polisielede nie. Kry hulle maar agter tralies waar hulle hoort.

Racheltjie Debeer ·

Ek wonder nou net, as die restaurant eienaar en kroegman swart was, so als net so stil verbygegaan het?? As dit nie vir Afriforum was nie, so niks verder daarvan gekom het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.