Soorte resepte:

Restaurantbedryf ná ’n jaar van inperkings

(Foto: Pixabay)

Die gasvryheidbedryf is een van dié wat die hardste deur die Covid-19-pandemie en die meegaande inperkings getref is ʼn jaar gelede.

Maroela Media het vroeër berig dat talle restaurante hul deure moes sluit en dat die bedryf selfs betoog het om die regering se aandag te kry. Maar die afgelope jaar was ook ʼn tydperk van vernuwing en die ontstaan van voedingskemas, nuwe restaurante, innovering en volhoubaarheid in dié bedryf.

Eat Out, die gesaghebbende aanlyn restaurantgids, het ondersoek ingestel na 2020 se hoogtepunte, laagtepunte en alles wat in dié tyd met die restaurantbedryf gebeur het.

Restaurante sluit hul deure

Dit is moeilik om vas te stel presies hoeveel restaurante hul deure weens Covid-19 moes sluit, maar die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het in Februarie vanjaar geskat dat dié getal in die duisende is. Meer as 3 600 restaurante in Rasa se databasis is as direkte gevolg van Covid-19 in vlak-3 van inperking alleen gesluit.

(Argieffoto: Unsplash)

Alkohol en die aandklokreël

Rice Basson, uitvoerende hoof van Vinpro, die wynprodusenteorganisasie, reken die verbod op alkoholverkope het veroorsaak dat die wynbedryf ʼn geraamde R8 miljard aan plaaslike verkope verloor het.

Teen 25 Januarie 2021 het 770 restaurante die besluit geneem om hul deure te sluit nadat ʼn tweede verbod op alkohol ingestel is. Ten spyte daarvan dat die regering op 1 Februarie die verbod gelig het en die aandklokreël aangepas het, het ʼn verdere 330 restaurante gesluit.

Nuwe lewe

Te midde van al die swaarkry in die bedryf was daar tog ʼn paar positiewe aspekte wat in dié tydperk na vore gekom het.

Pete Tempelhoff het ʼn nuwe restaurant, Beyond, op Buitenverwachting oopgemaak, Le Petite Colombe het na ʼn nuwe venue geskuif, Freddie Dias het die nuwe restaurant Sejour oopgemaak, Mark Manning het ʼn wynkroeg, Culture, oopgemaak en Luke Dale Roberts het Shortmarket Club in Kaapstad opgeknap en heropen.

Liam Tomlin het die restaurante Mazza en Local geopen, en PJ Vadas die fyngebak-kafee Vadas Pasteis De Nata & Café.

Innovasie

Om menslike kontak te verminder was daar ʼn skerp toename in die gebruik van tegnologie in die restaurantbedryf, soos vir aanlyn spyskaarte. Baie restaurante het ook beweeg van ʼn aansitrestaurant na ʼn restaurant wat slegs wegneemetes verskaf.

Die publiek het ook ingespring om restaurante te help deur hulle te ondersteun in die nuwe inisiatiewe. Een van Kaapstad se bekende pizzaplekke, Massimo, het ook inperking se grootste fooitjie van R4 000 ontvang.

Volhoubaarheid

Waar restaurante se volhoubaarheid in die verlede meer klem gelê het op die kweek van klante en die versekering dat hulle weer sal kom, is die klem nou meer as ooit daarop om oop te bly vir sake.

Restauranteienaars en -werkers moes planne maak vir die toekoms om seker te maak hul deure kan oop bly te midde van enige regulasies wat oor hul pad kom.

Nuwe sakemodel

Die werklikheid is dat ʼn uiteet-ervaring nie vir die voorsienbare toekoms dieselfde gaan wees as in die verlede nie. Die tradisionele manier van sake doen is vir altyd verander en restaurante reg oor die wêreld moes ander maniere vind om hul sakemodel te laat werk.

Eetplekke het nuwe idees soos subskripsiemodelle en persoonlike handelsware bekendgestel om nuwe bronne van inkomste te genereer.

Die pandemie het ook verskeie restaurante saam sien werk om ʼn sukses van mekaar se ondernemings te maak. Getroue ondersteuners is ook aangemoedig om geskenkbewyse by hul gunsteling-restaurante te koop.

Eat Out se Restaurant Relief Fund (Foto: Versakf)

Help mekaar

Restaurante het wêreldwyd begin saamstaan om die beste toekoms vir mekaar te verseker. Hoewel die bedryf geruk is deur die pandemie, het talle restaurante hul kombuise oopgemaak en hul dienste beskikbaar gestel vir voedingskemas om kwesbare mense te help.

Eat Out se eie Restaurant Relief Fund kon meer as R2 miljoen insamel om restaurante en gemeenskappe te help deur meer as 1 miljoen maaltye vir mense in nood te verskaf.

Deel van: Kos, SA-nuus, Verbruikersake

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rentia

En CR speech om 19:00.. Moenie te gou te opgewonde raak nie..

Androclus

Hoop maar van die beste dat vanaand se praatjie nie vir julle sal raak nie asb.

Danie

Ja dit is jammer ek gin elke ou om n geldjie te maak maar gaan kyk ook bietjie na van die groot restaurante se pryse. Spur en ek weet baie hammer op Spur maar hul pryse is buitensporig duur en die gehalte glad nie so goed nie. Jy kan n ordentlikke bord kos kry by n restaurant en ek weet elke dorp het nou nie een nie maar vat byvoorbeeld Little Neros in Boksburg. Jy eet jou trommel dik vir R120 per persoon, nou vra ek as hulle dit kan doen hoekom kan Spur nie.

Elize

Geld om uit te eet is daar nie meer vir baie huisgesinne. My gesonde verstand se vir my dis back to basics

Alleen Wolf

En steeds ploeter hulle voort gebaseer op bangmaak stories van s.g. raadgewers, nog nie genoeg verwoesting gesaai nie.
Ek wonder wanneer gaan die ou volkie tot sy sinne kom en die belaglike inperkings en vernietiging tot ‘n einde dwing.