Restaurantbedryf vies oor regering se skielike versoek

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash/Alex Holyoake)

Die regering en die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) is tans in gesprek oor die verkoop van alkohol by restaurante in die komende feestyd en wat gedoen kan word om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Die regering het ʼn dringende versoek aan Rasa gerig om met sy lede in gesprek te tree oor hul voorgestelde posisie rakende alkoholverkope op die perseel en maatreëls wat getref kan word om voldoening aan die voorkomingsprotokolle van Covid-19 te verhoog.

Volgens die regering voer wetenskaplikes aan dat die verbruik van alkohol in restaurante ʼn groot risiko vir die verspreiding van Covid-19 is, veral tydens die feestyd.

“Ek het bewyse van hierdie dokument aangevra en dit duidelik gemaak dat maatskaplike probleme nie met die virus verwar moet word nie. Die kwessie van alkoholmisbruik moet ook nie op ons as ʼn bedryf se skouers geplaas word nie,” sê Wendy Alberts, uitvoerende hoof van Rasa.

Alberts het gesê daar bestaan goedgekeurde protokolle. Sy het haar misnoeë uitgespreek teenoor die regering wat hulle sonder enige kennisgewing bel om dringend ʼn oplossing te eis, sonder om te spesifiseer wat die presiese risiko is.

“Die regering het maande gehad om met ons te praat en eis nou ʼn oplossing.”

Rasa het ook verlede week gesê namate die vakansietyd ál nader kom, moet die afsonderingsregulasies ten volle opgehef word. Die restaurantbedryf, het nes die toerismebedryf vanjaar groot finansiële verliese gely en kan weer daarvoor opmaak met die Desemberpiektyd.

Daar was ook verlede week gerugte dat strenger regulasies ingestel gaan word gegewe die tweede vlaag van Covid-19-infeksies waaronder veral die Oos-Kaap en Wes-Kaap gebuk gaan.

Alberts sê Rasa sal alles in sy vermoë doen om te verseker dat daar nie weer ʼn verbod op aansitetes in restaurante ingestel word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

andre ·

Miskien het die mense wat na die regering as n sirkus verwys n punt beet

Nell ·

Ons besef al teen die tyd dat die regering se bestuur van die Covid-epidemie bitterlik gefaal het. Dit is omdat min van hulle (ANC) wat daar sit buite die boks kan dink – hulle beskik net eenvoudig nie oor die analitiese vaardighede/ vermoë om ingewikkelde probleme kreatief op te los en besluite te neem nie. Hulle kan nie abstrak dink nie en kom dan vorendag met die mees belaglike en irrasionele voorstelle soos bv die bisarre inperkingsregulasies van Dlamini-Zuma. Dus moet ons onsself maar solank voorberei op nog onaangename verrassings voor die einde van 2020.

AntiMarxistZA ·

Nell, ek dink jy vat die ouens in die ANC bietjie vlak. Moet nie vir een oomblik dink dat hulle probeer goed doen, maar so onbevoeg is dat hulle net die verkeerde goed doen nie… Onthou dat, solank mense arm, werkloos en swak geskool is is dit makliker om hulle te oortuig at hulle arm is en vir altyd sal wees, omdat hulle onderdruk word, dat hulle nie verantwoordelikheid moet neem vir hulle eie welstand nie, maar dat die Party vir hulle sal sorg solank hulle sorg dat die die Party in beheer bly deur hulle stemme. Dis ook makliker om mense te beheer solank hulle arm, werkloos en afhanklik is van toelae on kospakkies.

Jakes ·

Maak nie saak hoeveel reels jy instel om kamtig Cvid te beperk nie. Mense maak hul eie drank met enige produk denkbaar. Mieliepap, juba, pynappels, appels. As jy suurdeeg in die hande kan kry kan jy jou eie dop maak.

Cherokee ·

Oor die suurdeeg stem ek natuurlik saam, maar het nog nie gehoor van mieliepapmampoer.

Renier johannes ·

Dis nie drank wat die kamstige siekte aan help nie is ons anc kaders wat wil baas speel en dan misluk in alles wat hulle doen . Wat is gebou vandat hulle in bewind is maar kan af breek en goed ook

Jacobus ·

Jip, almal is nie so gelukkig om KFC hulle staatshuise te laat aflewer nie. ‘n Alkahol oudit sou nogal insiggewend wees.

Samuel ·

Ek betwyfel dit of die sjebeens aangespreek sal word. Stem heeltemal saam dat maatskaplike probleme nie met Covid-19 verwar moet word nie. Miskien wil die ANC die weg baan vir NDZ om vóór Kersfees weer drakoniese regulasies af te kondig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.