Restaurantbestuurder toegesluit oor ‘nie-alkoholiese’ drankies

Kringtelevisie materiaal wys hoe die kroegman ‘n nie-alkoholiese jenewer vir die klant ingooi (Foto: Skermgreep)

Die bestuurder van ʼn bekende restaurant in Pretoria is Vrydag agt ure lank in ʼn polisiesel aangehou nadat hy glo nie-alkoholiese drankies bedien het. Die polisie was oortuig dat die drankies alkohol bevat. Nou wil dié bestuurder en die eienaar van die restaurant ʼn siviele eis teen die polisie indien omdat hulle voel dat die inhegtenisneming onregverdig was.

Atrayo Nolte (31), bestuurder van Hennie’s Moreleta Restaurant, is Vrydag in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes aangedring het dat hy sy klante jenewer, wat alkohol bevat, bedien het. Nolte het aan Maroela Media bevestig dat dit nie-alkoholiese jenewer was, aangesien die verkoop of verspreiding van alkohol deur die huidige vlak 3-regulasies verbied word.

Hennie’s is deel van ʼn franchise wat die Afrikaanse komediant Jonathan (Rikus de Beer) na sy hond vernoem het.

Nolte vertel ‘n klant het laat die oggend in die restaurant ingekom om iets te eet. Hy het die kroeg genader en aangedring dat die kroegman vir hom ʼn alkoholiese drankie moet bedien.

“Ons het dit aan die man duidelik gemaak dat ons nie alkohol verkoop nie. Hy het toe ʼn nie-alkoholiese jenewer bestel en aangedui dat ons dit vir hom moet ‘lekker’ maak,” vertel Nolte.

“Ons kroegman het vir die klant ’n nie-alkoholiese drankie ingegooi en bedien.”

Volgens Nolte het twee polisiebeamptes, wat nie polisie-uniforms aangehad het nie, daarna in die restaurant ingestap.

“Hulle het nie die Covid-19-register by die deur ingevul nie en het ook nie hul temperature laat meet nie.”

Nolte sê hulle het reguit op hom afgestap en gevra waar die drank is.

“Hulle was oortuig dat ons vir die klante alkoholiese jenewer bedien. My personeel het vir hulle die leë bottel, waarin die nie-alkoholiese jenewer was, gewys. Hoe meer ons hulle probeer verseker het dat ons nie-alkoholiese drankies bedien het, hoe meer het hulle ons nie geglo nie. Hulle het toe gevra waar ons die drankvoorraad stoor.”

Nolte het vir die polisie gesê dat die drankvoorraad toegesluit is in die stoor.

“Hulle wou weet waar die stoorkamer is.”

Volgens Nolte het die polisie aangedui dat hulle al die drankvoorraad in die stoor gaan konfiskeer. Die drank is toe in hul voertuig ingelaai.

“Hulle het my beveel om na Garsfontein-polisiestasie te gaan om ʼn verklaringsvorm vir die gekonfiskeerde drank te onderteken. By die polisiestasie is ek egter in hegtenis geneem en in ʼn sel saam met ander gevangenes geplaas.”

Nolte vertel dat geen Covid-19-protokol by die polisiestasie van toepassing was nie.

“In die rukkie wat ek daar was, was niks ontsmet nie. Niemand het gevra dat ek ʼn Covid-19-vorm moet invul nie en my temperatuur is ook nie gemeet nie. Nie een van die gevangenes in die sel het ʼn masker aangehad nie.”

Nolte is die aand omstreeks 22:00, na agt uur wat hy in die sel aangehou is, op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Hy is aangekla van die oortreding van die Rampbestuurswet en het Dinsdag by die Hatfield-landdroshof opgedaag waar sy saak aangehoor sou word.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se Noord-Gautengse streek, is die saak egter nie eers op die hofrol geplaas nie, omdat daar nie genoeg konkrete bewyse teen Nolte was nie. Die staatsaanklaer het ook aangedui dat Nolte nie ʼn kriminele rekord teen hom sal kry nie.

Nolte en die eienaar van Hennie’s Moreleta Restaurant, Werner Pretorius, het aangedui dat hulle egter nie die saak daar gaan laat nie en wil ʼn siviele eis teen die staat indien.

“Die polisie het my ʼn krimineel gemaak vir ʼn oortreding wat ek nie begaan het nie. Ek het niks verkeerds gedoen nie – ek het nie eers die drankie, wat nie-alkoholies is, ingegooi en bedien nie.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die woordvoerder van die Gautengse polisie gerig, maar wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Agge nee ·

En wat van die vele sjebeens wat nog steeds drank bedien? O ja, ek het vergeet, die polisie is te bang om by die sjebeens te gaan moeilikheid soek, want daar word hulle met klippe gegooi

Pietertjie ·

Mens “raid” nie ‘n sjebeen wat jyself besoek nie…

ans ·

Dit is nie net sjebeens wat drank onwettig verkoop nie! Baie drankwinkels verkoop net so lekker, polisie weet net kamma net nie daarvan nie!

Willem ·

Dit reg. Eis van hulle en stel sommer ń eis in vir die drank wat hul onregmatig gevat het. Bheki se mense kan mos doen wat hul wil

Thelsa ·

Hierdie restaurant eienaar/bestuurder was ‘geframe’. Heel toevallig wat die 2 manere ingestap kom nê. Ironies, wsowat 50 meter van die restaurant af is daar ‘n taxi-staanplek waar hulle daagliks die Covid-19 regulasies oortree. Maar nee . . .

H ·

nail hulle , maar hul name public…….. dit is tyd dat ons net eenvoudig terug baklei………………….Want dit is nonsens!!!

Vonkprop ·

Weereens ‘n bewys dat hulle wil wys wie in beheer is en wys hulle het ‘n bietjie mag. Net jammer min na niks gebeur met sulke lede nie, want hulle eie top struktuur praat dit goed. Sit jy jou teë maak hulle dit nog moeiliker vir jou. Die probleem is ‘n gebrek aan respek. Ons het verleer om mense met respek te hanteer.

Bella ·

Wat se twak is dit die?! Mens kry die indruk dat diegene wat op n drankie aangedring het, dit gedoen het in opdrag vd 2 polisie manne wat net daarna ingekom het. Uiters swak. Pleks hulle hul aandag toespits op werklike misdaad. Julle is pateties!

Tanniepetoors ·

Magsmisbruik op sy beste. Alweer. Waar is die drank wat gekonfiskeer is? Op grond waarvan is dit gekonfiskeer? Ek hoop die inventaris klop as die SAPD die drank terug moet gee. Klink regtig of daar aan die polisie se kant meer verontagsaming van die Covid-regulasies was as aan die kant van die klante en restauranteur

Gert ·

Daar is nie ‘n manier dat die polisie die drank gaan teruggee nie. Dit gaan kwansuis vernietig wees. Nog ‘n manier om besighede pak te gee

AH ·

Moet dit nie daar laat nie! Maak asb ‘n saak teen alle betrokkenes!

BARNEY ·

Dit is die vervolgens waansin wat gekweek word deur die minister. Hulle moet hulle toespits op ernstige misdaad en hulle leuse uitleef.

JohanR ·

Is NET die wit mense wat hulle target, of dit nou ‘n kroeg, resturant, strand of berg is. Is net die wit mense wat hulle target. Het nog nie een berig gesien van ‘n kroeg of shebeen in ‘n swart buurt wat op toegeslaan is nie.

SjN ·

Hoedeman en sy kadette target slegs die sagte teikens, daar is vele ernstiger sake wat aandag moet geniet.

Sarel ·

Dagvaar die manne in hulle persoonlike hoedanihheid anders moet Belasting betaler opdok. Eis sommer van die Stasiebevelvoerder, Ministetr Cele en Anti Kopdoek. Miet net nie op OPOD staat maak nie

Dirk ·

Sit ń moewiese siviele eis in !!

En sommer ook eise vir “endangering human health due to deadly infectious diseases”,
“emotional exhaustion”, “loss of income due to police neglegance” en “defamation of character”.

Marie ·

Magsvergype is nou aan die orde van die dag. Dit was duidelik ‘n lokval vir die restaurant en as sulks onwettig.

Niklaas ·

Klink soos my land se veiligheids amptenare wat so optree. Niks vreemd daaromtrent nie. Ons raak dit nou al gewoond, maar dis nie lekker om so magteloos te voel in daardie situasies nie.

Persheks Adri ·

Gaan groot en dagvaar die hel uit hulle uit! Dis onregverdig en hy moes 8 ure in ‘n sel deur bring en dit vir snert pffft! Ek kan dit nie hanteer as hulle dink hulle is magsbehep en mag enige iets aan ons as publiek doen.

Dries ·

Almal stel voor dat daar n eis teen die polisie ingestel moet word. Vat my woord, na 10 jaar sal hierdie eis nog nie nog geen aandag gekry het nie.

Ronel ·

Ek sê weer. Uniforms op ‘n powertrip, erger as ‘n haai wat bloed geruik het.

Sêmanet ·

Wat het van die “gekonfiskeerde” drank geword? Sekerlik nie teruggegee nie. Dis seker ook al klaar weer “geplaas” na ‘n “veilige plek van bewaring”.

Oros Soros ·

Die polisie is besig om in een groot rioolplaas te ontwikkel. Al wat ‘n mens van hul optrede die laaste paar weke kan sê, is “Sies”. Spuit persone in rolstoele met waterkannone, slaan maskerlose persone met sambokke en so kan daar aangegaan word. Het hulle nou oorlog teen die burgers van hierdie land verklaar?

Pieter J ·

As ek in hierdie ou se skoene was sou ek die betrokke polisiemanne se name en fotos op die sosiale media plaas sodat almal kan sien wie hulle is. Hulle is nie ń uniform waardig nie en moet soos melaatses deur die gemeenskap behandel word.

Sonneblomkind ·

Weereens nog n voorbeeld dat hulle nie bevoeg is om hul werk te doen nie…dis nie net begrafnisse wat Covid versprei nie…Polisiestasies is ook op die lys wat nie Covid 19 protocol volg nie

Robert ·

Sekere besighede word geteiken terwyl ander amper soos normaal sake doen. Geen van die nodige protokol is blykbaar deur hulle toegepas nie. Pure nonsens!!! Hierdie tipe optrede moet gestop word.

Casper ·

Daar is geen twyfel dat die kliënt gehuur is om aan te dring op drank saam met sy ete nie.Is hy nie ‘n polisieman nie.Dit is ‘n maklike siviele eis.Alle eise bo R 100.000 haan hooggeregshof toe.

Jakes ·

En so duur die sirkus voort. Duisende narre wat eintlik polisiemanne is en glad nie hul werk doen nie, intimideer besighede met onbenullige en belaglike kwessies. Geen wonder dat die SAPD omtrent geen geloofwaardigheid onder die burgers het nie.

john ·

dagvaar hulle en die polisie manne dis die eenigste manier hoe hulle leer

Sonneblomkind ·

Nee wat…dis n Sirkus…ek hoop hul dagvaar die SAPD.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.