Restaurante dán oop vir aansit-etes

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash/Alex Holyoake)

Restaurante vir aansit-etes, teaters en casino’s mag eerskomende Maandag heropen.

Só het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die minister van toerisme, Vrydag vroegaand gedurende ʼn virtuele mediakonferensie bevestig. Die minister het die nuwe regulasies vir die toerismesektor gedurende vlak 3 van die afsonderingstydperk aangekondig.

Die regulasies bepaal dat restaurante rekord hou van alle personeel, klante en afleweraars wat die betrokke restaurant binnekom.

Volgens Kubayi-Ngubane moet alle klante boonop eers ʼn standaard keuringsvraelys invul voordat hulle in ʼn restaurant, koffiewinkel of restaurant spesifiek vir aansit-etes toegelaat word.

Klante word verder verplig om ʼn masker te dra en hul hande te ontsmet wanneer hulle ʼn restaurant betree. Maskers moet ten alle tye in die restaurant gedra word en mag slegs afgehaal word wanneer klante eet of drink, het die minister verduidelik.

Die regulasies bepaal verder dat persoonlike beskermende toerusting aan alle personeel, kelners ingesluit, verskaf moet word.

Volgens Kubayi-Ngubane moet ʼn sosiale afstand van een en ʼn half meter ten alle tye in restaurante gehandhaaf word. Kelners word dus verplig om dié afstand van die tafel af te handhaaf wanneer bestellings geplaas word.

Tafels en stoele moet ook een en ʼn half meter uit mekaar geplaas word. Tafels moet elke keer nadat dit gebruik is, ontsmet word. Kaartmasjiene en spyskaarte moet ook voor en ná gebruik ontsmet word, het Kubayi-Ngubane gesê.

Geen buffetetes word toegelaat nie. Die verkoop van drank word ook nie toegelaat nie.

Konferensies

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash/Drew Beamer)

Die nuwe regulasies bepaal verder dat konferensies mag plaasvind; bywoning word tot 50 persone beperk.

Volgens Kubayi-Ngubane moet rekord gehou word van almal wat die betrokke konferensie bywoon. Konferensiegangers word verder verplig om vooraf ʼn standaard keuringsvraelys in te vul om te bepaal of hulle moontlik aan Covid-19 blootgestel kon gewees het.

Die dra van maskers is ook verpligtend gedurende ʼn konferensie. Maskers mag slegs afgehaal word wanneer geëet of iets gedrink word, het die minister gesê.

Konferensiegangers moet ook elkeen van hul eie water of verversings, byvoorbeeld pepermente of eetgoed, voorsien word. Verversings mag dus nie gedeel word nie.

Die regulasies bepaal verder dat ʼn spesifieke sitplek aan elkeen wat die betrokke konferensie bywoon, toegewys word. Konferensiegangers mag dus nie van sitplekke verander gedurende die konferensie nie.

Casino’s

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash/Benoit Darer)

Casino’s word ook toegelaat om vanaf volgende week bedrywighede te hervat; besoekers word tot 50% van die kapasiteit van die casino beperk.

Volgens Kubayi-Ngubane is die dra van maskers en die invul van standaard keuringsvraelyste ook voortaan verpligtend by casino’s.

Die nuwe regulasies bepaal verder dat klante se hande ontsmet word voordat hulle in ʼn casino toegelaat word. Daar moet ook rekord gehou word van alle personeel, besoekers en afleweraars wat die betrokke casino binnegaan.

Alle oppervlakke soos dobbelmasjiene moet ook gereeld ontsmet word, het Kubayi-Ngubane gesê.

Besoekers moet ʼn afstand van minstens een en ʼn half meter uit mekaar handhaaf.

Maroela Media het vroeër berig museums, galerye, biblioteke en argiewe mag, onderworpe aan streng maatreëls, ook weer hul deure open.

Teaters word toegelaat om te heropen, hoewel kapasiteit tot 50% beperk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johann ·

En dit vat die onbesonnes hoeveel dae nadat hulle president iets aankondig om die absurdhede te besluit? 50? Kan seker nie verder tel as 50 nie? En hulle gaan wat met al die “info” doen?

Gedoem soos nog nooit agv onbevoegdheid soos NET Afrika op kan roem!

Mieliestronk ·

Soveel reëls, ons wag maar vir verdere verslappings voor ons weer sal uit eet.

lekkerdink ·

ek sal in my lewe nie politieke logika verstaan nie . Ek mag eet en dobbel maar nie vir my kinders gaan kuier nie. so nou gaan ons koffie drink . nice!!!!.

capie ·

Hulle sê nie aan watter kant van jou mond jy jou kos mag kou nie.

Stof ·

Die psigiese skade wat al hierdie magvergryp-gedrewe afstandskeppende “voorskrifte” veroorsaak, is BAIE meer as wat Cyril se beweerde troetel-virus ooit kan veroorsaak. Die groot toename van sterftes aan paniekverwante self-eliminasie spreek vanself… Ek praat as terapeut wat hierdie dinge eerstehands sien.

Jack ·

Wel ek sal desperaat honger moet wees om covid by die restaurant te gaan opdoen. Wie gaan regtig al hierdie maatreels deurentyd volg veral in die kombuise en die eetgerei wat deur almal hanteer word. Bly by die huis en bly gesond en braai jou eie steak.

JO ·

Ja en wie de hel wil ‘n steak gaan eet sonder om ‘n bier te kan drink!!

Die Wolf ·

Verlaag my nie om kommentaar te lewer oor onpraktiese regulasies nie. Tipies Afrika styl.

Gawie ·

So teaters mag 50% van hulle kapasiteit toelaat, wat beteken as die teater normaalweg 200 mense kan huisves, mag net 100 kom – ek verstaan dit.
Maar. . . . . . Kerke mag net 50 mense toelaat, maak nie saak hoe groot die gebou is nie. ‘n Kerk wat 1000 mense kan huisves (en daar is baie van hulle) mag steeds net 50 mense toelaat? Of gaan die reël ook verander?

JohanR ·

Resturante mag opmaak maar ek sal verbaas wees as hulle met die regulasies enige besigheid doen. Die regulasies stop net kort daarvan om almal te vra om ‘n hazmat pak te dra, en hulle drank en kos deur ‘n strootjie op te trek. Totsien al die wit resturante. Lekker ge eet en gekuier by julle. Sal maar moet aanhou by ons eie huise eet en drink. And who we do have to thank….THE ANC! Daai 2021 stembrief kom nader en nader waar ek net verby die ANC en die EFF sal beweeg om my stem uit te bring!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.