Restaurante spartel midde strenger inperking

Skrywer: Justin Steyn

‘n Moedelose restaurantbestuurder luister terwyl pres. Cyril Ramaphosa strenger afsonderingsregulasies afkondig. (Foto: verskaf)

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, vandeesweek gevra om in te gryp om te keer dat restaurante ondergaan te midde van die huidige vlak 4-inperkingsregulasies.

Rasa het gevra dat die minister en sy departement dit sterk oorweeg om restauranteienaars met onmiddellike inwerkingtreding van alle huurgeld en terugbetaling van lenings vry te skeld.

Die organisasie se uitvoerende hoof, Wendy Alberts, het gesê Rasa wil hê dié reëling moet vir 60 dae geld.

“Die bedryf verdrink tans in skuld en sal eenvoudig nie die vlak 4-inperking oorleef sonder hulp van die regering nie. As die terugbetaling van skuld nie tydelik gestaak word nie, sal wat oor is van die restaurantbedryf in Suid-Afrika uiteindelik ten gronde gaan.”

Sy het bygevoeg dat die regering ʼn plig het om hul bedryf te ondersteun en saam met restauranteienaars aan oplossings te werk om die uitwerking van inperkingsregulasies te beperk.

Patel het nog nie op dié versoek gereageer nie.

Vlak 4-inperkingsregulasies, wat sedert einde Junie geld, laat restaurante slegs toe om wegneemetes te verskaf. Restaurante mag ook nie drank verkoop nie.

Vir die meeste restaurante maak dit egter nie sin om slegs wegneemetes te verskaf nie en baie restaurante lei ontsaglike verliese omdat hulle nie aansitetes mag bedien nie.

‘n Leë dop wat voor die afsonderingstydperk nog ‘n restaurant was. (Foto: Maroela Media)

Sommige restaurante probeer wel ʼn plan maak deur die parkeerterrein op hul persele in ʼn soort “padkafee” te omskep.

Hoewel dié metode vrugte afwerp, sê restauranteienaars dit is nie ʼn volhoubare oplossing nie.

Sandra Jansen, eienaar van die Khaya Kwa-restaurant in Limpopo wat ook dié metode probeer toepas, sê hulle het reeds ʼn dramatiese daling in verkope opgemerk.

“Ongelukkig betaal dit slegs ʼn paar klein rekeninge. Ons verkope het steeds met 75% gedaal; ons het tans net twee kombuispersoneellede, ʼn toesighouer en een kelner aan diens. Ons probeer al ons personeel kans gee om te werk, maar daar is nie genoeg inkomste om almal te betaal nie.”

Nog ʼn restaurant wat swaar getref is, is die Lookout Deck in Plettenbergbaai. “Ons was opgewonde dat klante van Gauteng ons restaurant oor die vakansie sou besoek, want ons het nie baie klante tydens die afsonderingstydperk in 2020 gehad nie. Maar met die nuwe regulasies wat geld, verloor ons wéér Gautengse klante,” sê Jeanine Kruger, hoofbestuurder van die restaurant. Reisbeperkings verhoed reisigers om in en uit Gauteng vir ontspanning te reis.

Kruger sê die restaurant vra dat klante bestellings oor WhatsApp plaas en in hul motors wag vir personeel om die kos na hulle toe te bring. “Hoewel dit vir ons ʼn inkomste bied, kan ons steeds nie al ons personeel betaal nie.”

Restaurante in Gauteng trek ook swaar.

Die algemene bestuurder van The Club in Fourways Gardens Residential Estate, Marc Schreuder, het aan Maroela Media gesê dat verkope met 70% gedaal het sedert die vlak 4-afsonderingsregulasies afgekondig is.

“Ons het selfs in Junie ʼn groot daling in sakebedrywighede opgemerk, aangesien klante bang is om Covid-19 op te doen.”

Klaus Oster, eienaar van The German Restaurant buite Fourways, sê die omset van sy onderneming het met ongeveer 80% gedaal.

Hy sê hy het wel ʼn ooreenkoms met die verhuurder van die perseel dat die huurgeld as persentasie van sy inkomste gehef word en dat hy daarom minder huurgeld betaal wanneer sy inkomste daal.

“Eiendomsbelasting, elektrisiteit, water, riool, vullis en ander munisipale koste word egter steeds normaalweg gehef en dus het restaurante steeds dieselfde uitgawes, al het ons inkomste heelwat gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Alex

Ek het al gewonder of restuarante nie iets soos n roadhouse effek kan maak nie. Dan eet mense wel uit en dit in hulle motors. Die retuarante in die Malls mag dalk n bietjie sukkel, maar ek is seker met n bietjie dinkwerk en die landlord se samewerking, dan kan iets maklik gereel word. Ek sal so iets ondersteun, veral oor naweke….

RS

Ek werk reeds sonder betaling in die restaurant bedryf vandag, 11/7/2021. Vannaand hoor ek finaal of my werkgewer die deure gaan sluit want die restaurant kan nie kop bo water hou nie :(

JohanR

Was dit nie die plan sedert 26 Maart 2020 om alle private besighede ter gronde the laat gaan? Ek steun nog al die plekke waar ek oor die jare gesit en kos geniet het met wegneem etes, maar ek weet hulle sukkel. Ou Cyril het Saterdag gesit en diep gedink, en vanaand is dit nog twee weke van toe wees. Ek dink nie baie resturante gaan oorleef nie.

Martie Smartie

Gaan my verstand te bowe wat die ANC hierduer probeer bereik. Ek glo 90% van restaurant besoekers is mense wat as ‘n gesin of paartjie gaan eet en dalk 10% besigheidsvennote en familie wat in verskillende huise bly. So 90% is mense wat in elke gevan onder dieselfde dak woon en definitief nie maskers tuis dra nie. Soos gewoonlik is die regering te lui om te dink om die ding beter te reguleer en ie bedryf aan die gang te hou. Net soos die drank bedryf. Ek is seker mens kan ‘n plan bedink (soos wat die bedryf gedoen het)… Lees meer »

koos10

Dis tyd dat Nkandla gedoen moet word. Die SAPS kan nie optree as daar groot getalle mense saam kom nie. Hulle kan nie 300 mense arresteer nie. Hulle het nie die mannekrag of plek nie. Alles moet net oop maak en voort gaan om sake te doen.