Restaurante steun nie ent-paspoorte

(Argieffoto: Unsplash)

Hoewel die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) die verlenging van die aandklokreël na 23:00 verwelkom, bied dit nie ʼn volhoubare oplossing vir die lyding wat die bedryf al maande lank verduur nie.

Boonop steun Rasa ook nie die regering se beplande ent-paspoorte nie, aangesien die vereniging nie teen iemand op grond van sy of haar inentingstatus wil diskrimineer nie.

Ramaphosa het Sondagaand gesê Suid-Afrika skuif nou na ʼn vlak 2-inperking en dat die aandklokreël van 23:00 tot 04:00 sal geld. Drank mag nou ook tot 22:00 by restaurante bedien word en op Vrydae verkoop word. Restaurante mag ook 250 klante inneem mits dit nie die helfte van hul kapasiteit oorskry nie.

Rasa pleit al maande lank by die regering om dringend na vlak 2 te skuif om die voortbestaan van restaurante te verseker.

“Die afgelope 18 maande was ʼn uiters verwikkelde en uitdagende tyd vir die restaurantbedryf. Ons moes om elke hoek en draai die sakemodel van ons restaurante aanpas om kop bo water te hou,” sê Wendy Alberts, uitvoerende hoof van Rasa.

“Ondanks hierdie pogings kon ons nie een keer daarin slaag om teen volle potensiaal handel te dryf nie. Ons is 25% operasioneel en 100% in die skuld.”

Alberts het weer benadruk dat restaurante 70% van hul wins uit die bediening van aandetes verdien.

“Ons is dankbaar vir die bykomende uur waartydens ons nou kos en drank kan bedien. Dit sal ons in staat stel om meer voete te lok en ook meer personeel terug te bring.

“Die hele voorsieningsketting baat by meer bestellings en verhoogde inkomsteskepping. Dit laat verder toe dat die ekonomie weer heropen en dat ons klante weer ʼn aand in ons restaurante kan geniet.”

Rasa is uiters dankbaar vir die druk wat lede van die publiek in hierdie opsig op die regering geplaas het en vir hul ondersteuning aan die bedryf.

Volgens Alberts is dit egter belangrik dat die departement van toerisme met Rasa in gesprek tree om volhoubare verligting en vergoeding aan die bedryf, wat ʼn reusebydrae tot die ekonomie en bruto binnelandse produk lewer, te bespreek en oplossings te vind.

“Meer as 70% van personeel is onbetaald afgelê en talle restaurante, waarvan baie by sleuteltoeristepunte geleë was, moes hul deure sluit. Restaurante verdrink ook tans in skuld.

“Ons bedryf is ten volle gebroke.”

Alberts sê voorts die vereniging is nie ten gunste van die regering se ent-paspoorte vir restaurantbesoeke nie aangesien dit nie dié bedryf se plig is om inentings na te gaan nie.

“Ons gaan nie die regering se werk vir hom doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.