Restaurante wil binne 7 dae drank bedien

(Foto: Danielle Rice/Unsplash)

Die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (Rasa) het die regering sewe dae gegee om die bediening van alkohol saam met etes toe te laat, of om geldige redes te verskaf vir sy besluit om dit nié te doen nie.

Restaurante mag van vandag (29 Junie), na ʼn drie maande lange verbod weens die Covid-19-pandemie, weer hul deure vir aansit-etes open. Die heropening gaan gepaard met streng gesondheidsmaatreëls wat restaurateurs, van wie talle nou al geruime tyd sonder inkomste sit, reeds duisende rande uit die sak gejaag het.

“Weens die huidige omstandighede, ekonomies en maatskaplik, is dit ʼn opdraande stryd vir restaurateurs om klante te lok. Die verbod op die verkoop van alkohol saam met etes vra hulle om dié stryd met een hand agter die rug te stry.

“Suid-Afrikaners het ʼn kultuur van drink saam met etes en deur dit nie toe te laat nie, doen die departement mee aan die inploffing van die bedryf. Dit gaan ʼn domino-uitwerking op talle ander sektore en die Suid-Afrikaanse ekonomie in die geheel hê,” het Ashton Naidoo, Rasa se regsverteenwoordiger, in ʼn brief aan die minister van handel en nywerheid gesê.

Ebrahim Patel is as minister in dié portefeulje verantwoordelik vir die besluit om nie die bediening van alkohol tydens etes toe te laat nie.

Rasa sê die afsonderingstydperk het ʼn katastrofiese uitwerking op die ekonomie gehad en die restaurant- en gasvryheidsbedryf is een van die sektore wat die swaarste getref is.

Die vereniging sê ten spyte van sy verliese het die bedryf tot dusver aan alle regulasies voldoen, maar die voortgesette verwerping van sy pleidooie het hom nou tot op breekpunt gedryf.

Verskeie restaurante het reeds aangedui dat hulle nie gaan heropen nie, omdat dit sonder die verkoop van alkohol bloot nie finansieel sin maak nie.

“Dit is ook onsinnig om die verkoop van alkohol vir wegneemdoeleindes toe te laat, maar nie vir gebruik op die perseel nie. Dit beteken mense kan in ʼn voertuig klim, ʼn wegneemete- of drankie koop en wegry terwyl hulle albei nuttig,” skryf Naidoo in die brief.

Rasa se regspan sê dié restaurante wat alkohol wil verkoop het geldige dranklisensies wat in die eerste plek nie maklik of goedkoop is om te bekom nie. “Die lisensies is in dié stadium wesenlik nutteloos omdat dit ʼn restaurant in ʼn bottelstoor omskep wat nie voordelig vir die ekonomie of ons klante is nie.”

Volgens Naidoo is die besluit om nie die bediening van alkohol saam met etes toe te laat nie administratief van aard en dat Rasa dus geregtig is op daarop om van geldige redes vir die besluit voorsien te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Remlut ·

Ebrahim Patel is nie bekend vir goeie rasionele besluite nie. Oop en toe skoene ai.

Gemaskerde Sopbeen ·

Stem saam. Taxi’s gaan nou laai soos hulle wil en ry waar hulle wil. Die owerhede se hande is afgekap en gaan op geen manier dit stop ait nie. Ek satel dan voor dat alle restaurante drank bedien net soos die taxi’s doen.
“What’s good for the goose is good for the gander”
(Kan iemand dalk dink aan goeie en raak Afrikaanse weergawe hiervan?)

jacques ·

Rasa moet nie hulle asem op hou nie….Patel sal iets uitdink as rede om nie drank te bedien nie.

My Mening ·

Ek kry die idee dat baie van die besluite wat deur die ministers geneem word op grond van hul eie persoonlike voor en afkeure geneem word. Die res van die land word glad nie in ag geneem nie. Eintlik verbaas dit my nie omdat ek nog altyd vam mening was dat politici maar net daar is vir eie gewin.

Martie Smartie ·

Al weer PATEL. Wat op aarde is die verskil tussen koeldrank bedien en ‘n bier of drankie in n restaurant. Het die minister bewyse dat grootskaalse drankmisbruik en/of verspreiding vd Chinese Corona virus veroorsaak gaan word? En die belastingbetaler betaal hierdie narre se salarisse en hofsake

Janneman ·

Dis dieselfde soos die rook verbod. Dit maak glad nie sin nie.

Persheks Adri ·

Niks maak meer sin nie Janneman! Maak die drank oop, restaurante, taxi’s en sommer die lughawens ook, maar ons mag nie rook nie regtig!!! Dis vertraag verby hoe hulle redeneer en die reels is net so deur mekaar.

Sarel ·

Hulle vernietig die Landsekomomie met hulle besluite , maar nou ja eers vraelys en vorms voltooi saam met jou bespreking. Nou moet jy heeltyd masker dra behalwe wanneer jy eet….wat is die verskil . Wyn agtog daai lekker voggies wat saam met die uiteet gaan
Nee wat kyk iemand mask erens groit geld dit is waarom sulke besluite geneem word. Hulle sit mos veilig waar alles vir hulle gedoen word en hulle nog vol salaris ook kry. My vraag…. wie en wat is tans die grootste virus in die land.

Duck ·

Bly weg van restaurante, jy gaan moelikheid optel.
Ons is nog nie reg om te gaan “uit eet nie”
Daar is nog hopeloos te veel mense wat in aaraaking kom met kos, eetgerei en so voorts as om ‘n lekker steak te gaan eet.
Koop die ding by die winkel en maak hom self gaar!

Persheks Adri ·

Lyk my almal kry hul sin behalwe ons wat rook!!! Taxi’s mag gelaai word, restaurante kan normaal aan gaan en so gaan die lys tog net aan en aan. Hierdie reels is beslis in die kabinets lede se guns waarvan hulle hou en wat hulle gebruik.

Sigaret verbod??? Regtig, as drank oop is, maak ons sigarette ook oop, want wat vir 1 geld, geld mos vir almal. O ja, nuwe Suid-Afrika… Steeds met GEEN vervolging nie die Dlamini-Zuma lag tog te lekker vir ons rokers by wie sy wel geld maak…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.