Restauranteienaar sterf in kaping

Dixies restaurant. (Foto: Facebook)

Die geliefde mede-eienaar van Dixies-restaurant naby Simonstad is Dinsdag dood nadat hy en sy susterskind deur ʼn onbekende aantal verdagtes oorrompel en sy voertuig gekaap is.

Ben Tuzee (51) was op pad om ʼn item wat hy wou verkoop het, af te laai toe hy aangeval is.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê hy het om 09:45 in Brown’s Farm naby Philippi aangekom waar hy onder die indruk was dat hy iemand sou ontmoet om ʼn item aan hom te verkoop.

“Die man en sy susterskind is egter aangeval en die man het verskeie steekwonde aan sy lyf opgedoen,” sê Twigg.

“Die ander slagoffer het relatief ongedeerd van die voorval afgekom.”

Nadat die verdagtes op die vlug geslaan het met Tuzee se motor is hy na ʼn hospitaal geneem vir behandeling. Hy het egter daar aan sy beserings beswyk.

Die polisie in Nyanga ondersoek nou die kapingsvoorval en ʼn saak van moord.

Nog niemand is in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Dit is ook nie duidelik of Tuzee se motor teruggevind is nie.

“Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisie by 08600 10111 bel,” sê Twigg.

Tuzee gesterf terwyl hy familie beskerm

Dixies het in ʼn kort plasing op Facebook gesê dat Tuzee dood is in sy pogings om sy susterskind teen die aanvallers te beskerm.

“Dit is ʼn moeilike tyd. My wonderlike broer het sy Skepper ontmoet. Rus sag.”

Tuzee se dood kom ook enkele dae voor die herdenking van sy pa, Reinje, se dood ʼn jaar gelede.

“Vier dae voordat my pa ʼn jaar gelede oorlede is, sluit my broer by hom aan,” het Tuzee se suster, Debbie, in ʼn Facebook-plasing geskryf.

“Ek is totaal verpletter en kan dit nie glo nie. Rus in vrede, liewe broer. Jou gees is nou vry. Vlieg hoog saam met pa tot ons weer ontmoet.”

ʼn Plaaslike nuusplatform, False Bay Echo, berig dat die restaurant Woensdag sy vlae halfmas gehang het ná Ben se dood. Dieselfde is destyds met die dood van Ben se pa, die restaurant se oorspronklike eienaar, gedoen.

Dixies beplan om Ben se lewe op 17 September om 16:00 te vier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michele ·

Dit is verskriklik hartseer. Ai Ben jy was so n legend en jou restuarant was altyd n hoogtepunt. Rus in Vrede, my hart gaan uit aan die familie

Willem Hendrik ·

My hare staan regop, geen regdenkende mens lewer af of koop goed wat gehaal word in onbekende gebied. Jy ontmoet op n openbare plek met kameras en sekuriteit. Nie jou huis of sy huis is meer veilig. Hierdie tipe lokval word al meer gebruik om niksvermoedende mense te beroof en te vermoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.