‘Retoriek kweek klimaat vir onwettige grondgrype’

Argieffoto.

Die sakeorganisasie Sakeliga sê hy is besonder verontrus oor betogings langs die N2 in Somerset-Wes waar daar reeds gepoogde grondgrype, gewelddadige protes en vernietiging van eiendom voorgekom het.

Die organisasie het gesê hy merk verskeie gewelddadige betogings wat in die huidige verkiesingseisoen dwarsoor Suid-Afrika uitbreek. Volgens Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga, word ’n klimaat vir onwettige grondgrype gekweek deels deur afbrekende politieke retoriek oor eienaarskap van grond, waaraan sommige politieke partye deelneem.

“Ongeag wat die onderliggende oorsake van hierdie protes is, word ’n vernietigende verontagsaming van eiendomsregte aangemoedig deur onverantwoordelike en kortsigtige politieke uitlatings. Politieke partye wat eiendomsregte vir korttermyn-verkiesingsvoordeel aftakel, dobbel met die toekoms,” meen Van Onselen.

“Voorts is die huidige verval van die sekerheid van eiendomsreg in geregtelike en politieke diskoers erg verontrustend. Hierdie aftakeling skrik privaat beleggers af en sal Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling belemmer.”

Oproepe vir onteiening sonder vergoeding rig baie skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aan, het Van Onselen bygevoeg. “Een manier hoe dit gebeur, is deur onwettige grondbesetting aan te moedig. Onwettige grondbesetting is nie tot landbougrond beperk nie maar kom dikwels ook in stedelike gebiede voor, insluitende kommersiële gebiede.”

Sakeliga verwag dat grondgrype in 2019 sal versnel, tensy sakelui en gemeenskappe help om dit teen te staan.

Om eiendom en eiendomsregte te help beskerm, het Sakeliga die Landgrab911/Grondgryp911-platform ingestel wat vir sy lede stap-vir-stap-instruksies bied hoe om grondgrype te voorkom en toegang te kry tot bekostigbare regsbystand en belangrike rekords wat deur die Landmeter-generaal gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

CR begin al meer en meer nonsens kwytraak… die masker val af sonder dat hy dit eers agtekom. Ons hoop nie nog dinge val af nie. Dan sè hy dit en dan dat… wittes moet nie landuit nie en boere moet nie agstig raak nie… en vandag is hy behoorlik astrant wanneer hy Alexandra, wat sedert die ’70’s weier om aan enige wet of rekening of regering gehoor te gee, tog so bejammer en beloof dat hy en sy lieflike party sal sorg dat die ‘ander’ wat al die probleme veroorsaak, opgeskroef word.

Willem van der Merwe ·

Komons noem dit wat dit is,nie grknd grype of grondbesetting nie maar plain en simple grond diefstal

Klip in die bos ·

Denkfout van die buiteland af om saksies te gebruik om SA te dwing om te verander. Versiendheid en gesprek met die SA se regering voor 1994 sou moontlik n beter oplossing gebied het.

Nel ·

Die swartbewussynsorganisasies van daai tyd wou die land onregeerbaar maak om hulle sin te kry, nes nou. So die buiteland sou nie veel meer kon doen as om sanksies in te stel nie.

jaco ·

“rekords wat deur die Landmeter-Generaal gehou word”
word wakker sakeliga. Die Landmeter-Generaal is deel van die staatsdiens en word deur die ANC beheer. hulle kan uiters maklik daardie inligting weerhou vanaf wit slagoffers van grondbesettings.

OWO ·

Retoriek het ook ‘n klimaat geskep vir die wigte en teenwigte wat in die grondwet ingebou sou gewees het.Retoriek het al baie beloftes gekweek wat in elkgeval tot niks gekom het nie.Retoriek het ‘n nuwe samelewing geskep wat kenmerkend is van alle waardes,standaarde,leierskap,bestuur,etiek,noem maar op wat eenvoudig afgeskaf is.Retoriek sal tot in lengte van dae met ons wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.