Reuse-databasis oor polisiewreedheid ‘skrikwekkend’

Die data bevat skoksyfers oor polisiewreedheid. (Grafika: Viewfinder/GroundUp)

Deur Daneel Knoetze, GroundUp

In Suid-Afrika sterf minstens een mens elke dag aan die hand van ʼn polisiebeampte. Viewfinder het nou die polisiewaghond se databasis oor hierdie sterftes bekend gemaak, asook ander klagte van polisiebrutaliteit en korrupsie. Tussen 2012 en verlede jaar is meer as 47 000 sake aanhangig gemaak.

Bloed teen die mure

Op 6 Februarie vanjaar het die 36-jarige Adam Isaacs op ʼn operasietafel van die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad om sy lewe geveg. Hy het nierversaking opgedoen wat veroorsaak is deur trauma en sy ingewande is kwaai beskadig. Volgens verskeie ooggetuies is sy beserings veroorsaak weens aanranding deur polisiebeamptes en soldate wat saamgewerk het tydens ʼn nagtelike operasie in Kaapstad enkele dae tevore.

Ooggetuies voer aan die polisie en soldate het Isaacs in hegtenis geneem, hom in net sy onderklere laat uittrek en hom ure lank geslaan terwyl hulle met hom na verskillende plekke gery en oor ʼn vuurwapen ondervra het.

Die dokters kon Isaacs nie red nie en sy suster, Ashia, en ma, Washila Isaacs, was by hom toe hy gesterf het. Maande later het hulle steeds nie die bloed van die mure van hul huis, waar die aanranding begin het, afgewas nie. Hulle hoop die bloedspatsels is dalk op ʼn dag van waarde vir ondersoekers.

Skoksyfers

Die getal sterftes weens polisieoptrede sedert 1997 het met Isaacs se dood stilweg die 10 000-kerf verbygesteek. Van daar af was die koers naastenby dieselfde as oor die vorige 20 jaar: 30 in Februarie verlede jaar, 26 sterftes in Maart, nog 27 in die eerste ses weke van die Covid-19-afsonderingstyd.  Vir elke boekjaar sedert 2012-’13 het die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) meer as 380 voorvalle van sterftes weens polisieoptrede – meer as een per dag – geregistreer.

Opod teken ook sterftes in aanhouding en bewerings van aanrandings, skieterye, marteling, verkragting en korrupsie teen polisielede en beamptes van die land se verskillende metropolisiedepartemente aan. Ná maande lange werk het Viewfinder nou meer as 47 000 van die gevalle bekend gemaak wat tussen April 2012 en Maart verlede jaar aangeteken is.

Dit sluit besonderhede in oor die meer as 3 000 sterftes waarby die polisie betrokke was. Die data is bekom deur versoeke aan Opod oor die afgelope drie jaar.

Viewfinder se Police Accountability Tracker huisves die data en laat enigiemand in Suid-Afrika toe om na die situasie by hul plaaslike polisiestasie te kyk. In dié tydperk het Mthatha in die Oos-Kaap byvoorbeeld 29 voorvalle van sterftes gehad. Altesame 21 mense is in aanhouding by die Tembisa-polisiestasie dood. Die polisie in Phoenix is betrek by 27 voorvalle van marteling en meer as 200 aanrandings. Beamptes by die Mitchells Plain-polisiestasie is beskuldig van 12 verkragtings.

Deur die aanwyser te gebruik, kan slagoffers van polisiewreedheid wat klagtes by Opod aanhangig gemaak het, die vordering met hul sake dophou. Hulle kan nagaan of die beamptes wat daarby betrokke is wel aanspreeklik gehou is deur byvoorbeeld tugsake of strafregtelike vervolging.

Die meeste van die slagoffers gaan egter teleurgesteld wees.

Weinig aanspreeklikheid

Oor die sewe jaar wat die data strek, het Opod terugvoer gegee dat polisiebeamptes in minder as 200 sake afgedank is ná tugsake. Aanklaers in die howe het effe beter gevaar en nagenoeg 300 skuldigbevindings het tot tronkstraf vir polisiebeamptes gelei.

Polisiebeamptes doen egter ʼn gevaarlike werk en wanneer hulle geweld gebruik, is dit dikwels wettig.

Nie alle klagtes in Opod se databasis kan as magsmisbruik bestempel word nie. Nietemin is die beskrywings van die voorvalle, soos opgeteken in Opod se registers, dikwels ʼn aanduiding van geweld wat wettige perke oorskry.

Verlede jaar het die skrywers van Police Integrity in South Africa die uitslae van ʼn opname onder sowat 900 polisiebeamptes gedoen. Een uit vier respondente was onseker of “die skiet van ʼn ongewapende vreemdeling in die rug” ʼn oortreding van die polisie se bepalings is, terwyl ʼn derde nie geweet het of dit teen die reëls is om ʼn “geboeide man in die niere te slaan” nie.

Viewfinder se data dui daarop dat polisiebeamptes dikwels ongestraf bly weens die mislukking van die polisie se interne dissiplinêre prosesse om hulle verantwoordelik te hou, asook weens ʼn gebrek aan geld vir die polisiewaghond.

Vele beloftes

Sedert Viewfinder se bevinding dat Opod geneig is om swak ondersoekte sake af te sluit om sy vertoning beter te laat lyk, het Opod beloof om beter te vaar. Twee jaar later sloer dié proses steeds.

In Junie, kort ná Viewfinder se oopvlekking oor die mislukking van die polisie se tugprosesse bekend gemaak is, het die Burgerlike Sekretariaat van Polisie ook ʼn hersiening begin na skuiwergate in regulasies. Die sekretariaat het nie gereageer op ʼn onlangse versoek oor vordering met die proses nie.

Vir mense soos Adam Isaacs se ma bied die hoëvlakprosesse skrale troos. Meer as ʼn jaar ná sy dood is verklarings van verskeie getuies steeds nie afgeneem nie.

Een van die beamptes wat by sy dood betrek word, het verskeie Opod-bevindings teen hom vir aanranding in die jare en maande tot Januarie verlede jaar. Hy is deurlopend uit sy verknorsings gehelp: Een keer nadat hy vrygespreek is, in ander sake omdat die polisie botweg geweier het om tugstappe teen hom in te stel, en “waarskuwings” toe hy in twee ander sake skuldig bevind is.

Verskeie ooggetuies het die spesifieke beampte by Isaacs se voorval betrek. Hy is egter steeds op sy pos.

Die ontwikkeling van Viewfinder se Police Accountability Tracker is gefinansier deur die Luminate en Millenniumtrust. Die ondersoek is ook gesteun deur die Henry Nxumalofonds vir ondersoekende joernalistiek.

  • Die berig is oorspronklik deur GroundUp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Sarel ·

Maar net die punt van die Ysberg.
Voorbeeld wst gestel wird deur Minister dn Polusie Bestuur.
Polisie lede weet dat Opod te verl sake het en Tugstapoe omtrent nooit voorkom nie. So hulle oortree sonder vrees vir vervolging..
Ek sak ook graag na die anddrkant van muntstuk wil khk
Hoeveel Polisie lede vermoor word in uitvoering van
Hulle pligte..

absoluut ·

wreedheid, moord, verkragting en aanranding is nie deel van hulle pligte nie

David ·

Dit is te verwag met ‘n terroriste organisasie in regering.

Casper ·

Môre hoedman,jou bek is stil hieroor maar jy spoel jou bek uit oor plaaswerkers wat so wreed behandel word en deur boere vermoor word.By boere is daar mos nie iets soos selfverdediging nie.

Snowball ·

In die nuwe SA moet jy eintlik banger wees vir die polisie as vir die ander kriminele se aanslae elke dag – terwyl hulle daai onteerde blou uniform aanhet, het hulle outoriteit en vrymag om jou skade aan te doen.

Harley Davidson ·

Skrikwekkend, en dan word hulle nog uitgereik met vuurwapens ook,licence to kill kom by my op.

MakersMark ·

Maar dis al wat gemors kan doen is lede van die publiek aanrand. Anders as dit is die verloor/verkoop van vuurwapens hoog op die agenda, saam met die deelname as gewapende roof, “cash heists” en natuurlik blou lig misdade waar die publiek geteiken word. Sodra daar regte kriminele wat terugskiet op die toneel verskyn is dit smyt neer die wapen en vlug. Of skiet mekaar per ongeluk raak agv swak opleiding.

007 ·

As jou minister n krimineel is wat verwag jy van sy handlangers. Gelukkig is daar goeie polisiemanne en vroue ook.

Yvonne ·

Geen wonder die boosheid neem by die dag toe nie…daar is nie vergelding vir due kwaaddoeners nie

Marshall ·

Secession is the only workable solution. De Klerk’s unitary abomination simply cannot work.

Blikkantien ·

Ek wonder hoeveel mense het gedurende die apartheidsjare aan die hand van die polisie gesterf?

Jaco ·

Daars gevalle waar die polisie weet ‘n misdadiger is skuldig maar dat die hofsaak jare gaan duur en die beskuldigde gaan op ‘n “technicality” loskom. Of hulle weet die saak gaan net doodloop. Dis immers reeds redelik algemeen in SA. So dan pas die polisie sommer dadelik hulle eie “straf” dadelik toe.

Misky ·

Ek hoor presies wat jy sê Jaco en ek is geneig om met jou saam te stem. Ek dink die min goeies in blou raak gefrustreerd en sien vooruit al wat die uitkoms gaan wees en help indirek die samelewing

Hennie ·

Dis wat gebeur as jy n 30% slaagsyfer instel. Die skuim van die aarde word dan opgeneem in ‘n polisiemag wat veronderstel is om n spog-eenheid te wees waar elke lid die gesag verdien deur die veiligheid van burgers te verseker! Beskerm die wetsgehoosame burger, wees streng op die krimineel!

Swak opleiding en’ n swartgallige mafiabaas vir n minister, is alles ANC metodiek om die krimineel te bevoordeel, want dit is presies wat die ANC is, KRIMINELE!

Frikkels ·

Kom ons verander net die korrupte spul se naam terwyl naamsveranderinge so aan die orde van die dag is. In plaas van Suid Afrikaanse polisiediens, kan ons byvoorbeeld kyk na Suid Afrikaanse Mafia.

Charl ·

Magsmisbruik en geen intensiewe, behoorlike, voldoende opleiding ! Hoe wil jy die wet toepas as jy nie eers weet wat die ”do’s and don’ts” is nie , as jy nie weet wat om in spesifieke situasies te doen nie ?? Hoe pas jy wette toe as jy dit self nie ken nie ? Niks konsekwent, altyd dubbele standaarde.

KB ·

As mens respek verloor het vir die SAPD, het húlle ‘n probleem…en die probleem begin HEELBO!

Blomme ·

Sou so goed wees as hulle ook rekord kan hou van hoeveel misdadigers wegkom met moord en geweld. Miskien moet die polisie maar begin om voorbeelde van die skurke te maak vir wie lewe van andere niks beteken nie.

Waarnemer ·

Ek haal aan’Polisiebeamptes doen egter n gevaarlike werk en wanneer hulle gewe;d gebruik,is dit dikwels wettig”
Was die 12 twaalf verkragtings wettig?Het die verkragtes enige misdadigheid erken nadat hulle verkrag is?
Is dit gevaarlik om n geboeiede gevangene binne in n aanhoudings sel aan te rand,oor die niere te slaan ensv?
Hoe wettig is aanrandings op n gevangene in n aanhoudings sel?
Ek gee toe,die polisie moet soms metodes gebruik waarvan baie onwettig is,om antwoorde uit gevangenes(oortreders) te kry om te bepaal waar bv van hul medepligtiges weg kruip of iets,maar om n persoon aan te ranr en/of te martel of te verkrag kan beslis nie wettig wees of ongestraf bly nie.
Dit is maar net my beskeie mening as n lid van die publiek wie veronderstel is om ons polisiemag te kan vertrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.