Reuse-deurbraak in stryd teen renosterstropery

Argieffoto

Ses vermeende lede van ʼn sindikaat wat verdink word van die grootskaalse handel in renosterhorings, is op talle plekke in Mpumalanga in hegtenis geneem.

Die Valke het die inhegtenisnemings Dinsdag uitgevoer met die hulp van onder meer misdaadintelligensie, die spesiale taakspan, SANParke, die departement van omgewingsake, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê tydens die optrede het wetstoepassers beslag gelê op luukse voertuie en motorfietse, vragmotors, ʼn onbevestigde bedrag kontant, diervelle en ʼn groot aantal vermoedelik gesteelde items, waaronder sleepwaens, kragopwekkers en verskeie elektroniese toestelle. “Die waarde van die besittings waarop ons beslag gelê het, beloop na raming etlike miljoene rand.”

Hy sê die verdagtes, tussen die ouderdomme van 30 en 56, sluit twee vermeende sindikaatleiers, een van dié se regterhand, twee polisielede en ʼn oudpolisiebeampte in. Almal sou na verwagting vanmiddag in die landdroshof op Witrivier, Mpumalanga, voorkom. Die aanklagte teen hulle wissel van diefstal en die onwettige koop en verkoop van renosterhorings tot korrupsie en geldwassery.

“Die toepaslike interne tugprosedures teen die polisiebeamptes het reeds begin,” sê Mulaudzi.

Die belangrike deurbraak is die gevolg van ʼn ondersoek – Projek Broadbill – waarmee die afdeling natuurlewehandel van die direktoraat vir misdaadondersoek verlede Januarie begin het.

“In die ondersoek het beamptes hulle toegespits op die voorsieningketting van gestroopte renosters in die Krugerwildtuin, KwaZulu-Natal en Gauteng asook in privaat en staatsreservate,” verduidelik Mulaudzi. “Lede van die sindikaat het glo stroopgroepe bedryf met die hulp van korrupte polisiebeamptes sowel as [die bestuur] van privaat wildreservate.”

Hy vertel die misdadige aktiwiteite is deeglik beplan en blykbaar uitgevoer met paramilitêre dissipline en teenintelligensie-optrede om blootstelling te voorkom.

“Die logistieke, vervoer- en kommunikasie-ondersteuning van die misdaadgroep is ook goed bestuur en beheer en het dit blykbaar reggekry om die renosterhorings van beskermde gebiede na plekke te vervoer waar die transaksies plaasgevind het,” sê Mulaudzi. “Die onwettige transaksies is glo ook beskerm deur vermeende korrupte beamptes om geen opsporing te verseker.”

Die horings is glo vir die hoogste prys op markte in Gauteng verkoop en dan na Suidoos-Asiese markte versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

tamboti ·

Wys hul gesigte, van naby nie soos die Blignaut makkertjie wat so van ver af geneem is nie, of is hy regtig so klein??? Maar ewe kordaat – lyk soos pikkewyn.
Ons kort weer ‘n “Police File”, sommer 24 uur per dag met groot belonings sodat ons hierdie vuilgoed wat hulself verryk met goed wat nie aan hulle behoort nie, kan uitwys en uitlewer .
Kom mense praat saam, ons soek POLICE FILE terug!

Moeg ·

Wat help dit hulle vang die spul. Vroeër is elders berig dat ‘n meesterbrein agter die stropery, wat gevonnis en tronk toe is vir 40 jaar, na drie jaar vry gelaat is???

Lizelda ·

Voor ons te opgewonde raak, wonder ek hoeveel vd 6 makkers gaan die binnekant vd tronk sien…indien enige.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.