Reuse-eise ingedien ná afsettings van plase

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Luidens die ouditeur-generaal (OG) se verslag is meer as R2 miljard in eise gedurende die boekjaar 2019-’20 teen die departement van landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming ingedien ná die onwettige afsetting van boere.

Dít deur “onbevoegde” staatsamptenare, sê Vrystaat Landbou (VL) nou.

VL het Dinsdag in ’n verklaring daarop gewys dat die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, ’n week gelede in die parlement erken het dat haar amptenare sukkel om die massiewe eiendomsportefeulje van plase onder staatsbeheer te bestuur.

Die herverdelingsplan van 700 000 ha was aanvanklik slegs vir grond wat volgens die staat onproduktief was, maar dié grond is reeds bewerk deur boere, van wie sommige baie suksesvol was.

Volgens VL het die staat geen feitelike weergawe van wie grond in Suid-Afrika besit nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep van agt opkomende boere van die Gert Sibande-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga is op die punt om hul boerderye te verloor nadat hulle afsettingsbevele van die departement ontvang het.

Van hierdie boere boer reeds langer as tien jaar op staatsplase en het baie tyd en energie bestee om die plase op te knap en te ontwikkel. Dié boere vrees nou dat staatsamptenare een dag by hul plase gaan opdaag en hulle dwing om die sleutels van die eiendom te oorhandig.

Dít terwyl die departement onlangs besluit het om die afsettingsbevel teen Ivan Cloete, ʼn bruin boer van die plaas Colenso by Darling in die Wes-Kaap, terug te trek. Die departement het ná ’n ondersoek in ʼn verslag toegegee dat “dit duidelik is dat Cloete sedert 2012 nie regverdig behandel is nie”.

VL sê nou daar is geen deursigtige prentjie oor toegang tot grond vir Suid-Afrika nie. Die organisasie sê verder dit blyk uit studies wat deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) gedoen is dat die meeste burgers nie belangstel in grond vir boerdery nie, maar eerder in werk, opvoeding en veiligheid.

“Ons vrese is bevestig en dit is kommerwekkend dat minister Didiza die ramptoestand en tekortkominge van die nasionale departement, wat getaak is om grond in ons land te bestuur, erken. Dit ondanks die druk van die minister en die regering om met onteiening van grond voort te gaan,” sê Francois Wilken, president van VL.

Wilken sê verder VL se Stop Onteiening-veldtog het dit baie duidelik gemaak dat indien die staat ernstig is oor ware inklusiewe groei en grondhervorming in die landbousektor en in die openbare belang, dit die 5 500 staatsplase in private voltitel eienaarskap sal vrystel.

Wilken sê die staat moet ook nie bloot titelaktes oorgee nie, maar ook hoogs gesubsidieerde krediet, met ʼn plafon per individu vir ernstige boere, beskikbaar stel. Dit sal boere in staat stel om ’n plaas by die staat of op die ope mark te koop.

Wilken sê verder opleiding en ’n geskikte ondersteuningstruktuur om nuwe kommersiële boere te help om kommersiële sukses te behaal, is nodig. Dit sluit in opleiding vir sakebestuur (arbeid en finansieel) en finansiële mentorskap.

VL sê die banke, landbouondernemings en kommoditeitsorganisasies ondersteun tans suksesvolle nuwe kommersiële boere en span ervare kommersiële boere as mentors in.

Daar moet volgens die organisasie verseker word dat die regte begunstigdes toegang tot die grond kry en dat alle aansoekers suksesvol kan en sal kan boer voordat ’n lening aan hulle toegestaan word.

Daar moet ook volgens VL ruimte geskep word vir plaaswerkers om as eienaars of aandeelhouers van nuwe grond aansoek te doen vir hierdie lenings en dat hul gelykstaande grondaandeel ook in die grondoudit gedokumenteer moet word.

Volgens Wilken is VL bereid om die departement te help om ’n bemagtigende omgewing te skep vir werklike groei in die landbousektor en grondhervorming in die beste “openbare belang” te bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Vettiemaragartos ·

As mense sien in watse chaos ons land se aktestelsel is sal daar ‘n groot lig in die tonnel verskyn en dit sal beslis ‘n trein wees!!!!!

Anoniem ·

Ook die Staatskoerant, geen boedel advertensies kan al vir maande geplaas word nie.

Pieter ·

Die brein dood ANC doen wat hulle broers in zimbabwe gedoen het. Hulle steur hulle aan niks en nie mand nie sterkte.

Nie Verbaas ·

Wat n grap. Die parlement erken dat haar amptenare sukkel om die massiewe eiendomsportefeulje van plase onder staatsbeheer te bestuur. Stel bevoegdes aan. Dit is weereens die produk van BEE.

Miskruier ·

My swart buurman wat sy eie stukkie grond gekoop het, wat van vroeg tot laat swoeg en bewys hy kan boer, moet n groter plaas van die regering kry. Nie die ander wat hier neergesit is en niks kan bewys nie, tot die bome is afgekap en verkoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.