Reuse-graanoes vir 2020 voorspel

(Foto: @polina_art/Unsplash.)

Landboukenners voorspel ʼn toename in die oes van verskeie gewasse vir die 2020-’21-oesjaar.

Die nasionale komitee vir oesskattings het sy aanvanklike vooruitskatting vir vanjaar se oeste opwaarts aangepas. Daar word nou verwag dat die totale graan- en oliesaadoes vanjaar meer as 17 miljoen ton kan bereik, 34% meer as verlede jaar.

Die totale mielieoes word geskat op 15,5 miljoen ton, ʼn toename van 38% teenoor 2019 se oes.

Wat oliesade betref verwag die komitee ʼn 2,6%-toename van die oorspronklike 785 900 ton wat vroeër vanjaar vir sonneblomsaad voorspel is. Daar word vir vanjaar egter ʼn oes van 64 800 ton (2,6%) minder grondbone voorspel. ʼn Oes van meer as 1,2 miljoen ton sojabone word vir vanjaar voorspel. “Dit dui op ʼn jaar-op-jaar toename van 8% en is ʼn positiewe verwikkeling vir die plaaslike voorsiening van sojameel,” het Paul Makube, ʼn senior landbouekonoom verbonde aan FNB in ʼn verklaring gesê.

ʼn Oes van amper 2 miljoen ton koring word verwag, wat amper 28% meer as verlede jaar is. Gort sal ook na verwagting vanjaar met 46% meer wees as wat vroeër verwag is. “Goeie reën en sneeu het die oesvooruitsigte vir produksiegebiede in die Wes-Kaap ʼn hupstoot gegee en die seisoenale weervooruitsigte is steeds positief,” het Makube gesê.

Hy sê plaaslike graanpryse, veral vir mielies, is besonder goed en kan boere aanmoedig om meer in die komende seisoen te plant.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Dankie boere en julle families…..ons kan nooit te veel dankies stuur nie. Julle moet dan nog werk met een hand op die geweer, en die ander hand op die stuurwiel van die trekker of strooier. South African heroes!

Miskruier ·

Wys jou net, God staan by sy volk. Hy seën hul sodat rekord oeste moontlik bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.