‘Reuse-oorwinning’ vir dié met korttermynskuld

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

ʼn Uitspraak van die Wes-Kaapse hooggeregshof oor die invordering van korttermynskuld word as ʼn reuse-oorwinning bestempel.

Die saak is aanhangig gemaak deur die Universiteit Stellenbosch se Regskliniek, Summit Financial Partners en tien van hul kliënte.

“Die uitspraak dui op ons howe se toewyding om gewetenlose invorderingsagente te ontmagtig om gewetenlose invorderingsmetodes en -strategieë te gebruik. Dit is ʼn reuse-oorwinning in die stryd teen die voortgesette gewetenlose uitbuiting van verbruikers,” het Stephan van der Merwe, senior prokureur by die Stellenbosch Universiteit se Regskliniek, gesê.

Die hofsaak is aanhangig gemaak om geregtelike ingryping rakende skuldinvorderingspraktyke te versoek. “Die aansoek het verband gehou met wat die aansoekers geïdentifiseer het as die ‘eensydige, ongereguleerde wyse waarop krediteure en invorderingsagente koste, insluitende regsfooie, by die debiteurrekeninge voeg’.”

Volgens Van der Merwe belet art. 103(5) van die Nasionale Kredietwet dat die totale bedrag van die koste wat ingevolge art. 101(1) mag oploop, die hoofskuld op die tydstip waarop die wanbetaling plaasvind, oorskry.

“Geen verdere heffings, anders as waarvoor in die wet voorsien word, mag wettiglik teen die rekening van die verbruiker gehef word totdat die verbruiker se agterstalligheid uitgewis is nie. Een van die koste wat gelys word, is invorderingskoste.”

Die applikante het in die aansoek uitklaring van die hof gevra oor die korrekte vertolking van hierdie artikels van die Nasionale Kredietwet en het aangevoer dat die definisie van invorderingskoste geïnterpreteer moet word om regskoste, oftewel fooie wat aan prokureurs, advokate en skuldinvorderaars bestee word, in te sluit.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof.

“Invorderingskoste maak dikwels die grootste deel uit van wat uiteindelik van die verbruiker verhaal word,” verduidelik Van der Merwe. “Veral met betrekking tot klein korttermynlenings en ander korttermynkrediete. In sommige gevalle oorskry die regskoste wat ingevorder word, dikwels die oorspronklike leningsbedrag.”

Hy sê verder word die regskoste gehef en ingevorder al word dit nooit getakseer nie. “Die verbruiker het effektief dus geen beskerming nie, veral nie as ’n besoldigingsbeslagleggingsbevel as metode van invordering gebruik word nie.”

Waarnemende regter Bryan Hack het in sy bevinding aangevoer dat hy tevrede is dat die wetgewer in die Nasionale Kredietwet ingegryp het om sodanige uitbuiting, wat die steeds groterwordende gaping in welvaart in hierdie land tot gevolg gehad het, te bekamp. “Ek aanvaar dat die gevolg kan wees dat sekere van die vermoënde instellings of ondernemings in hierdie land hul winste sal verlaag.”

Volgens Van der Merwe is die uitspraak ’n oorwinning vir die armes, kwesbares en gemarginaliseerdes reg oor die hele land. “Dit beklemtoon die belangrikheid daarvan om verbruikers se basiese menseregte te beskerm, insluitend die reg op menswaardigheid en die reg om nie arbitrêr van hul eiendom ontneem te word nie. Die uitspraak plaas Suid-Afrika op die wêreldwye voorpunt van verbruikersbeskerming.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Rene ·

Kan julle die berig skryf dat die gewone jan raap dit ook verstaan. En voorbeelde ook gee. Ek dink julle prokereur het die geskryf.

Jdb ·

Dit klink vir my na net nog ‘n wet om mense van hul verantwoordelikhede vry te spreek. Op hierdie manier kan jy nou koop en leen sonder om terug te betaal. Dit gaan nou net nie die moeite werd wees om enige skuld van minder as R5000 te probeer invorder nie. Betaal jou skuld, deksels! Toe jy die geld geleen het, het jy onderneem om dit te doen!

Hendrik ferreira ·

Jdb, jy verstaan heeltemal verkeerd dit is die skuldinvordering besighede wat die skurke is nie die mense wat probeer om hulle skuld terug te betaal nie.

André André ·

En natuurlik plaas dit die onus vierkantig in die skoot van daardie instansies wat krediet verskaf en tot watter bedrag, dit sal hulle noop om hul huiswerk deeglik te doen en nie willens en wetens aan mense krediet te verskaf nie, hulle sal nou twee maal moet dink wie in die skud gedompel word. So, dalk sal krediet vorentoe moeiliker bekom word.

ilze ·

Dit het onder my aandag gekom dat invorderaars met behulp van jou epos en kragtige programme jou opspoor en op jou toeslaan as jy be in n winkel hul wifi gebruik. hul “track” jou dus realtime. volgens my Ken maak hul dus inbraak op jou privaatheid. mens mag niemann track wat nie vermis is en n saak met n nommer by die polisie gemaak is nie. geharde misdadigers mag ooknie so “getrack” word nie maar die out wat R50 skuld en eers brood loop word verpes?

Toets ·

Nou sal verkoopsagente twee keer dink voor hul transaksies aangaan met persone wat dit nie kan bekostig nie. Rekeninge word links en regs oopgemaak vir jag na kommissie.

Daan Erasmus ·

Daar is gewetenlose mense wat skuld maak en geen plan het om ‘n sent van dit terug te betaal nie. Hierdie mense maak dit byna onmoontlik vir mense wat regtig skuld moet maak om skuld te kry. Arm mense moet iets basies soos ‘n yskas op skuld koop.

Klasvakie ·

Wat ek hier sien is die probleem wat ontstaan as ek bv R 5 000 skuld en nie kan betaal nie. Die skuldeiser soms sy eie “Rambo” aanstel wat die invordering dan behartig @ R 15 000 per keer. Wanneer hierdie invordering gedoen is en ek die R 15 000 ook moet betaal plaas dit my in veel slegter onregverdige posisie. Op geen stadium was die invordering koste geasseseer of getakseer met die uitneem van die lening of skuld. Invorderings teen my skuld kan nie goedsmoeds vir my rekening wees nie. Soos ‘n vorige kommentator verwys na die “tracking” ens wat hierdie mense gebruik teen ‘n koste wat jyself moet betaal. Invorderings koste soos dit is kan tot R 150 000? Wie gaan dit betaal….. die persoon wat die opdrag gegee het. Nie die skuldenaar nie.
Dit is ‘n goeie beslissing.

Jdb ·

Dit is eenvoudig skelm om geld te leen en dit dan nie terug te betaal nie. Almal van julle wat so verheug is oor hierdie beslissing- hoekom? Sodat jy jou verpligting om jou skuld te betaal kan vryspring? Ek leen nooit weer vir iemand geld nie. Mense voel niks om beloftes te maak wanneer geleen word en dan , met behulp van idiotiese wette soos hierdie, weg te loop met jou geld nie.

Nick Van Vuuren ·

Ek glo nie enige eerbaare mens wil weghardloop van hulle skuld nie.
Hier is my saak wat nog steeds lopend is
Ek het my werk verloor en het agter geraak op my huur.
Die prokureer het beslag gele op my verloofde en haar suster se goedere
no groot gesukkel het ons toe regekry om hulle goed terug te kry by die bode met n prys van R39 000 vir stoorkoste.
Nou will die prokureer he hulle moet skuld herkenning teken vir my skuld.
As ek die geld het sal ek hulle betaal dit laat net n bitter smaak in my mond om al die aditionele koste te het en dan is daar geen regshulp in SA vir ons nie

Magrietjie ·

Dit gaan nie oor skuld wat jy nie wil terugbetaal nie, maar oor maatskappye wat invorderaars voortydig op jou sit en jy moet dan invorderingsgelde ook betaal, al skuld jy nog net, sê R50 van lening vir R50000, dan skielik R550. Hul betaal dan nie eers VAT/ belasting op die invorderingsgelde nie.

Waarheid sonder eerlikheid ·

Stem saam Marietjie ..Heelwat instansies ook banke is skuldig aan die in een maand 3x soorte fooie, 2x soorte rente tot dit uitloop per maand dat al die dt. 65% van jou terugbetaling oorskry. Dan word dit genoem jou betaling sluit 15% belasting in!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.