Reuse-oorwinning vir voormalige Aurora-werknemers

Foto: Reint Dykema

Solidariteit het Maandag aangekondig dat ongeveer 300 van die 5 300 voormalige werknemers van Aurora Empowerment Systems vandeesweek gedeeltelike betaling sal begin ontvang. “Die fondse is deel van hul agterstallige salarisse wat ná ʼn regstryd van agt jaar teen die voormalige Aurora-direkteure uitbetaal word,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, gesê.

Dit volg nadat Aurora Empowerment Systems in Oktober 2009 deur die Pamodzi-likwidateurs aangestel is om die Pamodzi Gold-myne wat onder voorlopige likwidasie geplaas is, te bestuur. Volgens Du Plessis het dit tot gevolg gehad dat hul 5 300 werknemers vanaf Desember 2009 hul salarisse laat ontvang het, slegs ʼn gedeelte van hul salarisse ontvang het of geensins hul salarisse ontvang het nie.

“Aurora is uiteindelik in Oktober 2010 gelikwideer en sedertdien poog Solidariteit saam met die likwidateurs om die agterstallige salarisse van die werkers te verhaal, asook om die voormalige Aurora-direkteure verantwoordbaar te hou vir die totale vernietiging van die mynbates,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis het die Aurora-direkteure wat Khulubuse Zuma, oudpresident Jacob Zuma se kleinneef; Zondwa Mandela, oudpresident Nelson Mandela se kleinkind; Thulani Ngubani, Solly Bhana en Fazel Bhana insluit, daarin geslaag om vir etlike jare alle regsprosesse wat teen hulle aanhangig gemaak is, te vertraag. “Gelukkig, ná ʼn jare lange regstryd, het die eerste deurbraak uiteindelik op 25 Junie 2015 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof gekom, toe regter Eberhard Bertelsmann die Aurora-direkteure in hul persoonlike hoedanigheid aan bedrog skuldig bevind het,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis het die Aurora-direkteure se strooptog soos volg in perspektief gestel. “Tussen 2009 en 2010 is R1,7 miljard se skade aan die mynbates aangerig, en R122 miljoen se goud is deur Aurora verkoop waarvan geen opbrengs getoon is nie. ʼn Enorme bedrag van R35 miljoen is aan familielede van die Aurora-direkteure oorbetaal en as terugbetaling van lenings omskryf. Daar is geen bewyse dat die geld inderdaad geleen is nie,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis sê voorts dat miljoene rande se pensioenfonds-, werknemerbelasting- en werkloosheidversekeringsfonds-aftrekkings van werknemers se salarisse verhaal is, maar dat dié geld ook verdwyn het. “Duisende kiloliter onbehandelde suur mynwater is in die Blesbokspruit gepomp en bykans geen diensverskaffer, wat Eskom en plaaslike munisipaliteite insluit, is betaal nie,” het Du Plessis bygevoeg.

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit Foto: Reint Dykema

Volgens Du Plessis was Aurora by geen statutêre instelling geregistreer nie. “Elke klousule van die handelsooreenkoms wat met die likwidateurs gesluit is, is oortree. Daar is aan geen toepaslike wetgewing of regulasie voldoen nie en elke aansoek wat by die hooggeregshof ingedien is om likwidasie teen te staan, het met meineed en bedrog gepaard gegaan,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis voer aan dat geen terugbetalingsooreenkoms aangaande salarisse met Solidariteit gestand gedoen is nie. “Hofbevele oor verskeie growwe oortredings is geïgnoreer en bedrog van R5,3 miljoen is met die aankoop van aandele gepleeg, terwyl ʼn R13 miljoen voorskot van ʼn belegger verduister is. Daar is verskeie skikkingsooreenkomste vir terugbetaling met die Aurora-direkteure bereik, maar hulle het deurgaans gefaal om aan die ooreenkomste te voldoen,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis is daar uiteindelik genoeg geld ingevorder om ʼn gedeelte van die werkers se uitstaande salariseise te betaal. “Ongelukkig kan daar volgens die Insolvensiewet slegs ʼn maksimum eis van R28 000 aan ʼn werknemer as preferente eiser uitbetaal word, ongeag die grootte van die eis. Heelwat van die eise wat ingedien is, is ook voorlopig afgekeur weens ʼn gebrek aan stawende bewyse. Daar is 300 eise wat reeds goedgekeur is en die werknemers sal van vandag af hul betalings ontvang. Daar sal egter ʼn tweede geleentheid vir voormalige Aurora-werknemers wees om tot einde September 2018 hul uitstaande eise te voltooi en in te dien,” het Du Plessis gesê.

Du Plessis voer aan dat al die voormalige Aurora-direkteure steeds in gebreke bly om aan die hersiene terugbetalingsooreenkomste te voldoen. ʼn Hofaansoek sal gedurende September 2018 gebring word om al die direkteure te sekwestreer.

“Ná agt jaar van swaarkry, is die eerste betalings en die sekwestrasie van die Aurora-direkteure ʼn oorwinning vir geregtigheid vir elke werknemer, maar die pyn en lyding was so groot dat dit ʼn leë oorwinning is,” het Du Plessis saamgevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hanna Hoekom ·

Wonder wat van al daardie grootbase (speknekke) geword het? Leef seker steeds in weelde. Weet iemand dalk? Kulubuse was laas so dik dat hy met n golfkarretjie op sy eiendom moes rondry…

Vryheid ·

Al die direkteure deel van die elite wat dink hulle is untouchable. Hulle voel niks vir die mense nie, onvergenoegde klomp geld honger gevoelose dreg.

Manie ·

Dit is die groot grap hoekom daar so kamtig baklei vir vryheid. Om hulle self te verryk ten koste van enige ander mens

Henk ·

Nou as daar bevind is hulle het bedrog gepleeg, waarom is hulle nie toegesluit nie. Bedrog en korrupsie van die omvang is enorm en alledaags in SA maar die kriminele bly in luuksheid en weelde voortleef. Of is dit omdat die beskuldigdes se vanne zuma en mandela is? Tog sien mens ook nie dat die staatslui aangekla word vir korrupsie en bedrog nie, selfs al sien ons daagliks verslag op verslag oor enorme korrupsie en wanbesteding.

Tammy ·

Baie geluk aan regter Eberhard Bertelsmann, ons kort baie van sy kaliber, n ysterman en baie geluk aan Solidariteit . Dit is wat ons wil sien gebeur, rampokkery en bedrog moet uitgeroei word.

Kryger ·

Die insolvesie wet se maksimum is miskien R28,000, maar ek is seker die iesers kan as ‘n groep die direkteure direk aanspreeklik hou vir meer siende dat daar korrupsie betrokke was.

SjN ·

Kyk net na die name van direkteure, mag die fat cats hul dag kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.