Reuse-soektog ná driejarige verdwyn

Die Muizenberg-polisie en lede van die gemeenskap soek al ure aaneen na ’n driejarige kind wat Maandag in Houtbaai in die Wes-Kaap vermis geraak het.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, sê die kind, Anothando Mhlobo, is die middag omstreeks 13:00 vir die laaste keer in die Dontseyakhe- informele nedersetting in Houtbaai gesien.

Die Muizenberg-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) ondersoek Anothando se verdwyning.

Kim Worrall wat die Amoyo-stgting, ʼn plaaslike gemeenskapsgroep, bestuur, het Woensdag omstreeks 19:00 ’n soekgeselskap uitgestuur om Anothando op te spoor. Sy sê hulle het reg deur die nag gesoek.

Worrall is aktief betrokke in die gemeenskap en het mense begin kontak om te help soek. Sy sê daar was duisende mense wat van heinde en ver gekom het om in skofte te help soek. “Toe ons weer sien het ons amper 24 uur aaneen gesoek,” vertel sy.

Worrall sê inwoners het omstreeks 18:45 Anothando saam met ’n verdagte man naby die Internasionale Kerk in Houtbaai gewaar.

Die soektog het egter nog geen resultate opgelewer nie. Nooddienste en die polisie het volgens Worrall nou die soektog oorgeneem.

Sy sê sy is vasberade om Anothando op te spoor en sal nie rus totdat hy nie gevind is nie.

Volgens Dessie Rechner van die organisasie Pink Ladies, ʼn organisasie wat hom daarop toespits om vermiste mense op te spoor, het Anothando ten tyde van sy verdwyning ’n donkerblou en wit baadjie, ’n rooi en wit sweetpakbroek en rooi stewels aangehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sandra ·

Nou hoekom het niemand iets gedoen toe hy saam met die ‘verdagte’ man gesien is nie? En so word nog ‘n onskuldige kind deel van die statistiek. Tragies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.