Reuse-withaai langs kus opgemerk

Die reuse-grootwithaai wat vandeesweek by Kleinbaai met ʼn akoestiese merker gemerk is. (Foto: Alina Pryazhkina/ Dyer Island Conservation Trust)

Die navorsingspan van die Dyer Island Conservation Trust (DICT) het Dinsdag een van die grootste grootwithaaie nog met ʼn akoestiese merker naby Gansbaai gemerk.

Volgens Wilfred Chivell, wat die DICT in 2006 gestig het, is dit ongewoon om so ʼn groot wyfiehaai naby die kus op te merk.

“Besoekers en van ons personeel wat een van ons ekologiese ritte meegemaak het, het Dinsdag op die groot haai afgekom wat naby ons boot gewaar is. Die haai was ongeveer 5 m lank en is later aan land geïdentifiseer as een wat reeds in Junie 2018 in die gebied opgemerk is.”

Die DICT het ʼn omvattende stelsel waardeur hy die haaie se vinne met foto’s identifiseer en wat weer gebruik word om enkelgevalle te monitor. “Hierdie haai se regter- pektorale vin het ʼn baie kenmerkende opwaartse kurwe en ons kon haar so verbind met haar vorige besoek. Sy het ook ʼn hele strook copepods, klein parasitiese skaaldiere wat waarskynlik agtergebly het nadat die haai baie diep geduik het, aan die kant van haar kop,” het Chivell gesê.

Die identifikasie is deur DICT se mariene bioloog Alina Pryazhkina bevestig nadat sy die vin-databasis deurgesoek het. Marine Dynamics het die mees uitgebreide databasis van grootwithaaie in Suid-Afrika danksy die voortdurende monitering van hierdie diere deur die onderneming se mariene bioloë.

“Die bietjie wat ons van grootwithaaiwyfies van hierdie grootte weet, is dat hulle lang tye weg van die kus deurbring, waarskynlik meestal, en hulle beweeg ook lang tye by groot dieptes – tot 1 000 m,” verduidelik haaiwetenskaplike Alison Towner.

“Die duik- en aflandige gedrag van die grootwithaaie is waarskynlik om twee redes – voedsel wat by groot dieptes gekonsentreer is, waarskynlik inkvisse en skaaldiere, waarop hulle dan jag maak, of as deel van die broeiproses wat ons glo in die aflandige warm water plaasvind. Daarna gee hulle in die somer geboorte aan die kleintjies nader aan die kus.

“Die grootste grootwithaai wat nog langs die Suid-Afrikaanse kus gemerk is, met die naam Success, ook 5 m lank, is in 2012 in die De Hoop Mariene-reservaat gemerk. Geen ander grootwithaai van hierdie grootte is sedertdien langs die Suid-Afrikaanse kus gemerk nie. ʼn Haaiwyfie van hierdie grootte word gewoonlik as ʼn potensiële teelgeval geïdentifiseer,” sê Towner wat al sedert 2007 by haainavorsing betrokke is en talle artikels oor hul gedrag en bewegings gepubliseer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Jy bly in die see my maat, en ek bly op die land. Wil jou nie in die minste ontmoet nie!

Johan ·

Is dit n elektroniese merker? Hoe oorleef elektronika se omhulsel op 1000m, vas aan n vis? Klink baie interessant maar ek sal maar vêr weg bly dankie, 4.9m is vir my groot genoeg.

Adam Adriaan ·

Die vlugtelinge doer bo by Giblatar/Spanje/Marroko kan bly wees hy swem nie daar rond nie

Janee ·

Laat haar assebief tog net met rus.! Ons lol altyd waar ons nie moet een een van die dae is sy sonder vinne…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.