Reusebedrag aanlyndobbelgeld gekonfiskeer

Argieffoto

Beslag is gelê op meer as R1 miljoen se onwettige dobbelgeld wat op ʼn onwettige dobbelwebwerf gewen is.

Sidwell Medupe, woordvoerder van die departement van handel en nywerheid, het gesê ʼn bedrag van R 1 250 000 is gekonfiskeer.

“Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het voorheen gewaarsku dat aanlyndobbelary onwettig is en as burgers deelneem en wen, daardie geld onwettig is en gekonfiskeer sal word,” het Medupe gesê.

Die nasionale dobbelraad is die nasionale reguleerder van die dobbelbedryf en ingevolge afdeling 16 van die Wet op Dobbel (2004) moet die raad die omstandighede van onwettige dobbelary ondersoek. Dit sluit aanlyndobbel in. “Indien daar sulke aktiwiteite plaasvind moet die dobbelraad ʼn aansoek na die hooggeregshof bring sodat die onwettige wengeld aan die staat oorhandig kan word,” het Medupe verduidelik.

Davies het ook benadruk dat die aanlyndobbelbedryf gebruik kan word vir geldwassery.

Caroline Kongwa, administrateur van die raad, het gewaarsku dat die geld nie net gekonfiskeer sal word nie, maar dat mense wat hulself aan oortreding skuldig maak ook strafregtelik vervolg kan word.

“Diegene wat vasgetrek word vir die deelneem aan aanlyndobbel of vir die besit van ʼn internetkafee waar aanlyndobbel plaasvind, sal strafregtelik vervolg word,” het Medupe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Cherokee ·

Wat ‘n mafia-besluit! En hoe op aarde kan ‘m Internet-kafee verantwoordelik gehou word vir wat kliënte doen.

Lillie ·

Hierdie “internet kafees” word gebruik net vir dobbel. Jy kan nie daar gaan sit en browse op die internet nie. Hier is een by die winkelsentrum op ons dorp. Toe dit oopmaak het ons almal gedink dis ‘n plek waar jy internet kan gebruik. Van buite af lyk dit dood onskuldig en dit sê internet kafee op die bord (niks van dobbel nie), maar daar is ‘n veiligheidshek en kamera voor en hulle laat nie sommer enige iemand binne nie, niemand onder 18 nie. Binne is dit donker met klomp dobbel masjiene.

Shaun ·

Hi Lillie. Sulke masjiene is wettig . Daar is twee groepe wat onder die dobbelwet magtiging het om elkeen sowat 1000 dobbelmasjiene te plaas waar hulle toestemming het om dit te doen . Dus het hulle magtiging en is dit wettig . Hulle is V Slots en Crazy Slots .

Chekoree ·

Sal nou nie juis dink dit is ‘n REUSE bedrag in dobbelterme nie……

Cherokee ·

Pasop asseblief vir my aanhangers wat onder amper my naam pos, omdat hulle my bewonder en probeer voorgee dat dit ek is.

Wagter ·

Ek verstaan nie, daar is honderde sulke webtuistes, en wat van Sunbet in ons land waar mens op sport kan dobbel ? Is dit nie aanlyn nie of mis ek iets

J ·

Ek hoop die geld gaan gebruik word om ons paaie instand en rybaar te hou.

Johann Marx ·

Dis verstommend hoe hulle “aanlyn dobbel opbrengs” kan konfiskeer….maar nie miljoene der miljoene wat deur “acting CEO’s” wat bedank het, of nie bedank het nie, wat op onbetaalde verlof was, of nie, en net terwyl hulle gou op onbetaalde verlof was as MP ingesweer is, net om weer te bedank, of af te tree, of nie, of op siekverlof te gaan, of geskors te word, net om weer CEO te word van die semi-staatsinstelling waar hy geloop het omdat hy geknoei het….kan verhaal nie? CFO’s sonder matriek wat biljoen Rand kontrakte aan hulle tjommas uitdeel soos smarties….kan nie verhaal word nie….maar R1 miljoen se dobbelgeld (wat niemand skade aangedoen het nie) word gegryp? Swak….

Pietsepan ·

Weereens ‘n staatsvergrype van geld wat hulle nie toekom nie. Wat word daarvan? Wie dit nie weet nie sal of wil nooit weet nie.

Kobus V ·

Gaan google national lottery en daar sal jy sien mense word nou aangeraai om ons lotto aanlyn te speel en gee details om te registreer. Een van hulle redes is dat mense nie langer in toue hoef te staan om te speel nie. Hoe verklaar jy dit?

Stoffel ·

Bedoel jy nou die dobbel self of die lang rye ? Jy al by PNP of Checkers so net voor 20:00 die rye gesien soos hulle staan om n kaartjie te koop as dit n groot boerpot is ? Dan speel ek ook liewer aan lyn, lewe te “kort” vir lang rye hehe

Johann ·

Dobbel is in elk geval onbybels, teen God se wet, elkeen wie hom hieraan skuldig maak oortree ‘n Bybelse wet. In die geval is die deler net so goed as die steler

Dirk01 ·

Miskien moet ons meer inligting kry , sal lotto star en die groot oorsee se lotto’s dan ook onwettig wees?

Kobus ·

Om deesdae op die langpad te gaan is n groter dobbelspel vir jou lewe as om aanlyn te dobbel

snoefie ·

wat gaan hulle met die gekonfiskeerde geld maak? dis maar skraps vir Dubai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.