Reusebrande in Noord-Kaap woed plek-plek steeds

Die brand het Dinsdag voortgewoed (Foto: Verskaf)

Duisende hektaar grond is in ʼn reusebrand wat Saterdag in die Barkley‑Wes-omgewing in die Noord-Kaap uitgebreek het, verwoes.

Boere spook steeds om die vlamme in bedwang te bring en die brand het Dinsdag steeds voortgewoed.

Groot gedeeltes grond van die bekende Mattanu-wildreservaat, sowat 17 km van Barkley‑Wes, het ook in die brand deurgeloop.

Volgens Jacques Kriek, eienaar van die wildreservaat, het hy Saterdag omstreeks 16:30 rook in die rigting van Windsorton gesien. Hy sê die brand het sowat 15 km buite Barkley‑Wes in ʼn veld uitgebreek.

Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wat die brand veroorsaak het.

Die brand het derduisende hektaar grond verwoes (Foto: Verskaf)

“Boere van die omgewing het gejaag om die brand te help blus. Ons het dit van Saterdagmiddag in bedwang probeer bring, maar die brand het weens die sterk noordwestewind handuit geruk,” sê Kriek.

“Talle boere van die omgewing en brandbestryders het heelaand gespook om die brand te blus. Ons het gehoop die wind gaan lê deur die loop van die aand om vir ons ’n blaaskans te gee, maar dit het nie. Die brand het in ’n suidwaartse rigting – in die rigting van Holpan – versprei.”

Die brand het Saterdagmiddag in die Barkley Wes-omgewing uitgebreek (Foto: Verskaf)

Teen Sondag vroegoggend het die wind in ’n suidoostelike rigting gedraai en heeldag gewaai.

“Teen Sondagmiddag het die brand na Mattanu se rigting versprei en teen Maandag omstreeks 10:00 het die wind die vlamme na die wildreservaat gewaai. Ons het bakkies en ’n stootskraper gebruik om die brand te keer, maar ons kon dit nie bedwang bring nie.”

Kriek sê hulle het in 2010 sproeiers by hul gaste-eenhede se grasdakke aangebring, juis om te verhoed dat die huise in die slag bly wanneer ʼn brand uitbreek. Dit het gehelp dat geen infrastruktuur deur die brand beskadig is nie.

Boere spook al sedert Saterdag om die brand in bedwang te bring (Foto: Verskaf)

Volgens Kriek is ongeveer 2 300 ha van die wildreservaat se grond in die brand verwoes. Hy sê geen van hul wild is dood of beseer nie.

“Dit is die Here se genade dat ons wild gespaar is.”

Teen Maandagaand is die brand by die wildreservaat in bedwang gebring en daar het vroeër vandag steeds brande om die reservaat by buurplase gewoed en versprei.

“Dit was ’n massiewe brand en duisende hektaar grond is afgebrand.”

Kriek sê die streek se goeie reënvalseisoen en die ruie gras saam met die wind, het veroorsaak dat die brand aanhou versprei.

“Die wind gaan lê gewoonlik in die aande, maar die afgelope naweek het die wind heeltyd stormsterk gewaai.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frikkels ·

Die brandstigters moet opgespoor en uit die samelewing verwyder word. Dit raak nou al amper normaal om te hoor van derduisende hektaar weiding en veld wat in vlamme opgaan, maar mens hoor nooit van die inhegtenisname van die vernielsugtige spesie nie! Nonsens man! Kry lewe!!

Jack ·

Omdat ons almal in n skeptiese tyd leef kan dit net brandstigting of nalatigheid wees. Die een is strafbaar en die ander verskoonbaar of hoe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.