Reuseprogram vir kleinboere in Gauteng bekendgestel

Eikenhof plaas waar die program vir kleinskaalse boere vandag bekendgestel is (Foto: City of Johannesburg, Twitter)

Die burgemeester van Johannesburg, Geoffrey Makhubo, saam met die burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling, Eunice Mgcina, het Donderdag ʼn program van R34 miljoen vir kommersialisering en meganisering vir kleinboere bekendgestel.

Die program is ʼn vennootskap tussen Johannesburg, die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling en die nasionale departement van landbou en grondhervorming.

Die program word gelei deur die stad se voedselveerkragtigheidseenheid. Dit is gemik daarop om groot uitdagings in die kommersialisering van landbouprodukte te pak en om die ontwikkeling van infrastruktuur van kleinboere, wat hoofsaaklik uit koöperasies bestaan, te verbeter.

Verder sal dit meer georganiseerde en kommersieel- gedrewe boere betrek en beter tegnologie inspan om produksievlakke en inkomste te verbeter.

Die afgelope vyf jaar het Johannesburg se voedselveerkragtigheidseenheid en sy vennote die boerderysektor gesteun deur bedrywighede te moderniseer deur middel van kommersialisering. Die doelwit is om die oorgang van bestaansboerdery na ʼn inkomstegedrewe boerdery te vergemaklik.

“In 2011 het ons hierdie program van stapel gestuur en vandag neem ons landbou en boerdery na ʼn nuwe vlak. Ons probeer boere help om vinniger van bestaansboerdery na kommersiële boerdery oor te skakel. Deur hierdie program is ons seker dat voedselsekerheid getakel gaan word deur die werk wat hierdie boere doen,” het Makhubo gesê.

Die stad wil deur die program kleinboere help om moderne landboutoerusting (Foto: City of Joburg, Twitter)

Die program sal tot 17 funksionele koöperasies, wat gewasse soos tamaties, spinasie, groenrissies en komkommer verbou, bemagtig. Daar is ook 13 koöperasies, bestaande uit pluimveeboere wat spesialiseer in eierboerdery, wat by die kommersialisering- en meganisasieprogram gaan baat.

Die koöperasies betrokke by die program het reeds kommersiële vennootskappe aangegaan.

Hulle verkoop hul produkte by onder meer die mark in Johannesburg, asook kleinhandelaars soos Spar, Pick n Pay, en smouse en spyseniers uit Eikenhof en omliggende gemeenskappe.

Trekkers is reeds vir die program aangekoop en 20 nuwe tonnels is met die hulp van verskeie vennote opgerig.

Die stad wil deur die program kleinboere help om moderne landboutoerusting te gebruik om kommersieel vergelykbare opbrengste per hektaar te behaal wat die produktiwiteit van plaaswerkers sal verhoog.

“Dit is ʼn suksesverhaal van die voedselveerkragtigheidseenheid wat antwoord op boere se behoeftes. Ons moedig boere aan om hul vaardighede te gebruik en die volgende geslag te leer om die ontwikkeling van stedelike boerdery voort te sit,” het Makhubo gesê.

Burgemeesterskomiteelid Loyiso Masuku aan die woord (Foto: City of Joburg, Twitter)
:

Eikenhof plaas waar die program vir kleinskaalse boere vandag bekendgestel is (Foto: City of Johannesburg, Twitter)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Wie is hiedir sg. Boere en wat is hulle bznde met ANC Ampsdraers. Word opleiding vetdkaf? Verkiesingsfoeffie

Chris dupreez

Ek hoop daar is iemand wat die geld gaan monitor

Jacobus

Hoop dit werk maar lyk baie soos Estina 2.1.

Francois

Nog n geldkoffer wat gedreineer sal word voordat daar produksie sal wees.

Jakes

Daar moet seker gemaak word dat die kleinboere wel die hulp ontvang en dat sommige nie die implemente verkoop om n geldjie te verdien nie.