Reuseprojek kan Kaapse voorstad se inwonertal verdubbel

Die Conradie-hospitaalperseel bestaan uit talle geboue wat verlate is en met die jare kwaai onder vandale deurgeloop het. Foto: cvltation.com

Die Wes-Kaapse kabinet het die verkoop van die ou Conradie-hospitaal se perseel in Pinelands aan Concor Construction in beginsel goedgekeur vir die ontwikkeling van ʼn gemengde, bekostigbare ontwikkeling, binne 10 km van die Kaapse middestad.

Die kabinet sê die volgende stap is ʼn 21 dae lange proses van openbare deelname waartydens belanghebbendes enige voorleggings oor die voorgenome verkoop van die perseel kan indien. Daarna sal die kabinet die kommentare oorweeg en besluit of hulle wel die perseel sal verkoop.

Die sogenaamde Conradie-beterleefmodel wil die nalatenskap van ruimtelike beplanning in die apartheidsera help regstel deur behuisingsgeleenthede te skep wat goed geleë, bekostigbaar en geïntegreer is.

Die voorgestelde ontwikkeling kan die boomryke voorstad Pinelands, Suid-Afrika se oudste tuindorp, se bevolking van 14 200 in die 2011-sensus amper laat verdubbel, want 3 602 behuisingseenhede word beplan, waarvan 1 764 deur toelae gesubsidieer sal word en die res op die ope mark te koop aangebied sal word. Dit sal lei tot kruissubsidiëring en die ontwikkeling in sy geheel lewensvatbaar help maak.

Die provinsiale regering beplan twee nuwe skole in die ontwikkeling wat 800 leerders elk sal huisves en ʼn handelsruimte waar inwoners nader aan die huis sal kan werk en inkopies doen. Vir diegene wat elders werk, sal die ontwikkeling gerieflike toegang tot vervoer per bus of trein bied.

Ter wille van die groot ontwikkeling sal die omliggende paaie en openbare vervoerstelsel opgeknap word en so sal net meer as 4 300 werkgeleenthede tydens die operasionele fase en net meer as 9 300 tydens bouwerk geskep word.

Die projek, wat ook openbare ruimtes soos parke sal insluit wat inwoners van die omliggende buurte ook sal kan geniet, sal na verwagting meer as R3 miljard kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Yankee ·

Om die gebou so te sien is hartseer. Vaderland, ek is daar gebore 60 jaar gelede!!!!

John ·

Sjoe, hoe gelukkig is die Kaap nie om met sy klein bevolking darem ‘n hupstoot te kry. Kan ons nie bo in Afrika, in die Ooste en waar ookal adverteer vir mense om tog hier te kom woon nie… Dit alles en so te se verniet. Welkom, welkom almal wat leef en beef.

Francois Joubert ·

Toemaar, die ANC regering is hard besig om Chinese hartlik welkom te heet. Van Mpumalange tot die Kaap. Begin solank Mandereins baasraak.

Cherokee ·

Tipies DA. As die ANC die land se inwonertal kan vervierdubbel in ‘n onnoembare kort periode, sal die DA ook bydrae lewer.

Danie van Zyl ·

Dis `n baie edel idee. Die huidige inwoners van die rustige Pinelands sal nou net hulle veiligheid moet opskerp. Met elke so `n ontwikkeling moet jy jou regmaak op hope verskillende mense wat van oral ingeprop word en die omgewing vir altyd verander.

AH ·

Pinelands is ‘n pragtige, rustige voorstad , maar ongelukkig sal dit nie so kan bly nadat die projek afgehandel is nie. Ek kan nie sien hoe die gesubsidieerde eenhede gemeng met “gewone” eenhede gaan werk nie. Ek sal beslis nie markverwante pryse vir ‘n blyplek in die middel/naby die gesubsidieerde wonings wil koop nie. Nie omdat ek ‘n snob is nie, maar ek kan nie sien dat mens se belegging gaan groei of selfs sy waarde sal behou nie. Dit is ‘n algemene verskynsel dat mense wat enigiets verniet kry kry nie daarna omsien of dit in stand hou nie . Sonder om swartgallig te wees glo ek dat die mooie Pinelands oor ‘n paar jaar soos Guguletu sal wees……..So ‘n jammerte….

Ai... ·

Kom, kom bly ALMAL in die Kaap, ons verdubbel ons mense, maar ons het nie water om die wat reeds hier is te help nie. Belaglik

lolla ·

die massas onopgevoede mense het nie verniet gese hulle wil orals plakkerskampe opbou nie…. volgende is stiklandhospitaal en tygerberg hospitaal se gronde…. en dan die ongebruikte sale ens ens ens ..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.