Reusepylstert uit militêre hawe gered

Die reddingspan moes die vuil water durf om die pylstert te red. (Foto: Saambr)

ʼn Span van uShaka Sea World het vroeg Maandagoggend ʼn reusepylstert gered nadat sy in die ou duikboothawe op Salisbury-eiland in Durban vasgesit het.

Weens die omstandighede in dié hawe was die pylstert sedert verlede week Donderdag hier vasgekeer. Die span het bevestig dat die pylstert ʼn vroulike ronde lintstertstraal is wat ongeveer 150 kg weeg en sowat 3,3 m lank is. Die hawe is net sowat 3 m diep.

Ann Kunz van die Suid-Afrikaanse vereniging vir mariene biologiese navorsing (Saambr)-tak in Durban sê die hawepolisie het hulle verlede week in kennis gestel dat ʼn groot pylstert in die spesifieke hawe vasgekeer is.

“Aanvanklike pogings om die pylstert se toestand te ondersoek was onsuksesvol omdat die water te vuil en troebel was om die dier te sien,” sê sy.

“Die hawepolisie het die pylstert egter deur die loop van die naweek dopgehou.”

Die toestand van die water het eindelik Maandagoggend sodanig verbeter dat die reddingspan kon sien dat die pylstert nog lewe, hoewel sy steeds vassit.

Die reddingspan het ʼn reeks toerusting, onder andere ʼn klein hyskraan wat op sy eie sleepwa gemonteer is, na die hawe toe gevat.

(Foto: Saambr)

Nadat al die toerusting opgestel is, het die span dit met hul duiktoerusting in die water gewaag. Hierdie spesie pylsterte word as kwesbaar beskou, aangesien hul bevolking aan’t die afneem is.

“Hulle het die pylstert stadig op ʼn spesiaal ontwerpte draagbaar gelei voordat hulle haar met die  hyskraan uit die water gehaal het,” sê Kunz.

Die pylstert is die kort entjie na die aangrensende glybaan met die draagbaar gedra voordat sy weer in die see vrygelaat is.

Dit is egter steeds nie duidelik hoe die pylstert haar in die vlak hawe bevind het nie.

“Hoewel die toestande in die hawe nie ideaal was vir ons reddingspan nie, kon ons nie net toekyk hoe hierdie asemrowende dier in so ʼn klein en vuil stukkie water vergaan nie,” sê Jason Haxton, senior akwaris van die span.

Salisbury-eiland, wat in Durban geleë is, is onlangs weer as ʼn vlootbasis gebruik nadat dit vir ʼn geruime tyd net as ʼn vlootstasie gefunksioneer het.

“Ek is dankbaar vir die hawepolisie, die vloot en my kollegas wat mekaar bygestaan ​​het in hierdie unieke en goed uitgevoerde reddingsoperasie.

“Hopelik bly sy [die pylstert] in die toekoms uit die moeilikheid!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swerwer ·

‘n Duisend dankies aan die Reddingspan en almal wat ‘n hand bygesit het.

Andre ·

Goed om goeie nuus te lees en mense te sien wat God se skepping help bewaar.

Sandra ·

‘n Goeie einde aan ‘n mooi storie. So bly almal het gehelp

Janee ·

Julle was wonderlik!!!! Ons is dankbaar dat alles goed verloop het en sy weer die vryheid van die see kon ervaar….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.