Reuseregstryd kom oor NGV

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sal Woensdag midde hewige teenkanting die omstrede Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) as wet onderteken.

Politieke partye, burgerlike organisasies en mediese liggame het reeds aangedui dat hulle die wetgewing tot in die hoogste hof sal beveg.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het Ramaphosa se besluit om die NGV-wetsontwerp deur te druk, ten sterkste veroordeel.

AfriForum is oortuig dat dié wetsontwerp ongrondwetlik en boonop onuitvoerbaar is. Die organisasie staan gereed om die implementering van die NGV tot in die hoogste hof teen te staan en sal op dieselfde dag dat die wetsontwerp onderteken word, ʼn resolusie teken wat hierdie sentiment bekragtig.

AfriForum beoog om die uitvoering van die NGV te staak deur nie bloot ’n aansoek teen die implementering van die wet te bring nie, maar deur die regering te dagvaar vir die ondenkbare skade wat die NGV aan Suid-Afrikaners se welstand kan berokken.

Enkele kwessies wat in AfriForum se hofstukke uitgelig gaan word, is: dat daar geen redelike verwagting is dat die wetsontwerp sal slaag in die bevordering van toegang tot gesondheidsorg nie, dat die NGV-wetsontwerp oordrewe mag aan die minister van gesondheid toewys, dat dit inbreuk maak op gesondheidswerkers se reg tot vrye beoefening van hul beroep, dat dit nie voldoen aan die vereiste van duidelikheid en verstaanbaarheid vir ’n wet nie en dat dit inbreuk maak op die fundamentele regte van pasiënte se outonomie om self te kan besluit oor die keuse van beste behandeling.

Volgens AfriForum is hy nie gekant teen redelike maatreëls om die bestaande gesondheidsorg vir alle burgers in Suid-Afrika te verbeter nie, maar teen die irrasionele wyse om dit te bereik en veral waar dit inbreuk gaan maak op die private gesondheidsorg en waar gehalte-gesondheidsorg nog gebied word.

“Daar word beoog om deur middel van ʼn aksieproses die geleentheid te kry om deskundige getuienis aan die hof voor te hou dat die uitvoering van dié wet onbekostigbaar is en tot ’n onbekostigbare belastinglas vir die reeds oorbelaste belastingbetalers sal lei. Verder ook dat dit die einde van die onafhanklikheid private gesondheidsorg sal meebring en medici sal dwing om die land te verlaat,” sê Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum.

“NGV benodig ’n honderd maal soveel geld om te funksioneer as wat in die begroting daaraan toegewys is en tog het Ramaphosa besluit om dit twee weke voor die verkiesing haastig te bekragtig. Dit is tog duidelik net die volgende stap van die ANC se verkiesingsveldtog.”

AfriForum sal Woensdag na afloop van die ondertekening van die wetsontwerp ’n brief by die Uniegebou oorhandig waarin die organisasie se volledige regsstrategie teen NGV voorgelê sal word. “Hiermee sal die regering op terme geplaas word oor wat die regsgevolge van die bekragtiging van die NGV sal wees.”

’n Aantal ander organisasies het ook reeds aangedui dat hulle die grondwetlikheid van NGV in die hof sal daag. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê ʼn aanmaning is reeds aan die president gestuur wat hom in kennis stel dat die organisasie binne ʼn uur ná Woensdag se beplande ondertekening regstappe sal doen.

Verteenwoordigers van die DA sal ook Woensdag buite die Uniegebou sy volgende stappe bekend maak om die “ongrondwetlike” NGV-wetsontwerp te stuit.

“Die DA sal die wesenlike gebreke in die wetsontwerp uiteensit; die mislukte parlementêre proses en die volgende regstappe wat gevolg moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

annie ·

Miskien moet Maroela en haar baas ‘n slag Koos Malan se skrywes ook lees. Om Afrikaners se waarskuwende menings te weg te sny om hul te dwing tot ‘n eie doringtak-kraaltjie is gevaarlik verby.

Samuel ·

Hierdie wetgewing is die einde van enige vorm van gesondheidsorg in Suid-Afrika.

Marnelle ·

God alleen kan Suid-Afrika red. Ek is werklik geskok in Ramaphosa. ‘n Intelligente man wat voor sy siel weet hy teken ‘n doodsvonnis vir sy landsburgers….. Meer ellende. Meer armoede. En die ongeletterde massas hou aan die ANC magsvraat voer….

Nicky ·

Rama gaan n toets dop in die hof want geen regdenke regters sal dit goedkeur nie want dan gaan hulle ook aan die korste end trek

Ore ·

Almal weet hierdie is ‘n verkiesingsfoefie. Wonder of die agbare Crisp en ministers ook in rye gaan staan / sit om behandel te word en watter dokters gaan ons gewone burgers behandel? Ek sal ook wil weet of ons ministers dan hulle Russiese dokters liewer SA toe gaan bring. Nou moet die howe weereens oor populistiese ANC besluite besluit.

Kokerboom ·

Solidariteit werk hul gal asb en veral die ANC se president!

Papsak ·

Ag en hy vee sy g*t aan almal af hy mos nie breins of verstand nie moedswillig voor verkiesing !!!!!!!

André ·

Ons moet vanmiddag van 2 tot 4 (die seremonie kan dalk laat begin en lank aanhou) ernstig bid hieroor. Dis al wat ons kan doen.

Eugene ·

Annie, presies soos jy sê. Selfs die Thumbs Up is verwyder.

Jacobus ·

Interessante reeks gebrure: Lesufi “Na 29 Mei kan jy by enige, hospital aanklop” . Crisp sê dis ‘n twak. Crisp reken Staats hospitable is nie so sleg nie. Wow dit moet nou vertroue innboesem!

Lettie ·

Van wanneer sal daar geld van my bankrekening gehef word vir die snert. Ek betaal al jarre vir Mediese Fonds

Kaptein ·

Ek wil saam met Andre stem. Al begin die seremonie later, alle mense wat bely dat God hulle Vader is, moet hulle verootmoedig voor Hom en vra dat Hy ons sondes sal vergewe en as dit Sy wil is dat Hy nie die ondertekening sal toe laat nie, en ook dat Hy sal voorsien dat Godsvresende EN Godsdienende mense die pragtige land van ons sal regeer.

Di ·

Die ANC spul sal nou enige iets goedkeur voor die verkiesing. Hulle weet voor hulle heilige siele dat daar NIE GELD is nie en dat dit tot een groot ramp sal lei. ONS as belasting betalers gaan NIE MEER die meerderheid in die land DRA nie

Skim ·

Waar moet ons nog geld uitkrap, ek betaal R5 000+ vir ‘n mediese fonds, nou verwag die regering ek moet hulle ook betaal sodat hul die privaathospitale ook kan plunder. Afriforum, Solidariteit en DA ons maak nou staat op julle. Ek bid dat julle hierdie regsgedinge suksesvol sal oplos.

JN ·

Net so Annie..
Lyk my maroela het ok maar hul eie Marxistiese Kwota base..
Hul glo nie eintlik in vryheid van spraak nie..
Nie solank dit waarheid is nie! Maroela se grootbase lyk my slaan eintlik die kitaar en Maroela is ok maar net nog n wit gemuilbande ewit organisasie wat al so na hul base Anc, Eff se instuksies dans.. Betreurenswaardig regtig..Geen wonder ons verloor ons eie identiteit nie, ons was en weer word uitverkoop!
Maar selfs die wit liberale sien nie wat kom nie, want hul wil nie…

Manie ·

Hiervan sal niks kom nie, daar is eenvoudig te veel geld op die spel. Die poppemeesters sal die toutjies trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.