Reuseskikking namens benadeelde SAPD-lid bereik

sapd-saps-polisie

Foto: SAPD/Facebook

Die vakbond Solidariteit het Woensdag ʼn reuseskikking bereik namens ʼn SAPD-lid wat weens regstellende aksie oor die hoof gesien is vir ʼn pos waarvoor hy die mees geskikte kandidaat was.

Anton van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, het in ʼn verklaring gesê Anton Coetzee het op 29 Junie 2015 aansoek gedoen vir die posisie van Bevelvoerder: Veeartsenykundige Verpleegster, met die rang van luitenant. Hy het tydens die onderhoudsproses die hoogste telling van al die aansoekers gekry.

Coetzee is egter nie in die pos aangestel nie, aangesien sy aanstelling nie die rasdemografie bevorder nie. “Ten spyte van die feit dat Coetzee as die beste en voorkeurkandidaat deur die paneel aangewys is, is ʼn swart vrou wat nie die nodige ervaring het om die funksies van die pos te verrig nie, aangestel,” het Van der Bijl gesê.

Solidariteit het daarna namens Coetzee opgetree en vandag is ʼn skikking oor die aangeleentheid bereik. Volgens Van der Bijl moet Coetzee nou binne 30 dae terugwerkende voordele en vergoeding op die rang van luitenant/kaptein ontvang, asof hy in die pos aangestel is.

“Ons is verheug dat hierdie aangeleentheid tot ʼn einde kon kom, maar ons kan nie genoeg beklemtoon nie dat die SAPD meer doeltreffend sal funksioneer indien hulle net die nodige erkenning gee aan bevoegde polisiebeamptes ongeag hul ras, geslag of ander arbitrêre gronde,” het Van der Bijl gesê.

“Ons begin al hoe meer bespeur dat daar ʼn mate van mismoedigheid by polisiebeamptes posvat, en wil deur sake soos hierdie ʼn baken van lig en hoop wees in donker tye.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Ek het geen probleem indien my belasting geldjies na soortgelyke regstellende uitbetalings gaan nie.

Schalk van der Merwe ·

Die SAPS gaan maar weer die hof bevel verontagsaam en op hulle goeie tyd hom vergoed. Ek wag nou al drie maande nadat die SAPS se “binne 90 dae” verby is. Geluk Anton en sterkte

Anton Coetzee ·

Goeie dag Schalk, baie geluk met jou skikking ook…ek sien die terugbetaling as n spaar rekening…wanneer ek dit eendag kry sal ek planne daarmee maak. Hoe lank het jy gewag vir aanstellings brief?

Tammy ·

Die persoon wat onregmatig aangestel is moet asseblief ook net al die ekstra geld terug betaal anders is dit mos steel??????? Die persoon is dan vanaf 2015 geld betaal wat nie toekom nie.

Gideon ·

Oor ‘n paar jaar sal daar nie meer blankes in die SAPD oor wees nie. Die mees dinamiese mense het reeds pad gevat, en die meeste wat oorbly dien hulle tyd uit om op pensioen te gaan. Geen regdenkende, intelligente en dinamiese jong mens wat enige moraliteit in hom het sal die polisie tans as ‘n loopbaan oorweeg nie.

pietie ·

Is dit nie tyd vir ‘n klas-aksie oor onbillike regstellende aksie? Ek is seker daar is duidende benadeeldes.

Swannie ·

Die SAP gaan maar net eenvoudig appèl aanteken en dan gaan die Grondwethof beslis sy aanstelling is onwettig.

Dieselfde het met Renate Barnard gebeur !

Basjan ·

” Volgens Van der Bijl moet Coetzee nou binne 30 dae terugwerkende voordele en vergoeding op die rang van luitenant/kaptein ontvang, asof hy in die pos aangestel is.”

Geagte Maroela Media, wat se soort rang is ‘n “luitenant/kaptein”?

Santie ·

Kyk gerus om jou rond, en sien hoeveel wit polisie manne en vroue en verpleegstes jy nog om jou sien. Hulle kry nie keuring nie as gevolg van hulle velkleur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.