Reusesoektog ná dood van 2 polisielede in transitoroof

Sers. Wynand Herbst (42).

Die Valke het bevestig dat ʼn tweede polisiebeampte dood is in die skietery met transitorowers Donderdag in Noordwes.

Maroela Media het gister berig dat ao. Delene Grobler-Koonin (44) in ʼn skietery tussen die polisie en gewapende rowers dood is. Sy is in die kop geskiet. Dit het intussen aan die lig gekom dat speurdersers. Wynand Herbst (42) óók in die aanval doodgeskiet is.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê lede van die polisie se spesiale taakmag het gereageer nadat ʼn gewapende bende in die omgewing van Mahikeng op ʼn geldwa losgebrand en die bestuurder gedwing het om stil te hou.

Die rowers was net besig om die geldwa met plofstof oop te blaas toe die taakmag toegeslaan het.

“Die verdagtes het in verskillende rigtings laat spat en in hul poging om te ontsnap het twee van die betrokke voertuie voor lede van die Valke se taktiese operasionele bestuurseenheid (Toms) te staan gekom,” het Mulaudzi gesê.

Dit is tydens die daaropvolgende skietery wat Grobler-Kroonin geskiet is.

Die verdagtes het gevlug. “Een van hulle is later in ʼn Johannesburgse hospitaal opgespoor en in hegtenis geneem.”

Die soektog na verdagtes het die polisie ook na Coligny gelei, waar van die verdagtes by ʼn vulstasie voorgekeer is.

Ao. Delene Grobler-Koonin (44).

Die rowers het met AK47-aanvalsgewere op die Toms-lede losgebrand en Herbst ook doodgeskiet.

“Tydens die skietery is drie verdagtes doodgeskiet en nog twee gewond,” het Mulaudzi gesê.

Gisteraand het die polisie twee van die vermeende betrokkenes in Ventersdorp opgespoor, maar hulle het ontsnap.

“Die polisie het tot dusver beslaggelê op drie AK47-gewere, twee 9 mm-pistole, ʼn bakkie en ʼn minibus.”

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het sy medelye met Grobbelaar en Herbst se familielede betuig.

“Ons het pas ʼn groter span saamgestel wat onder leiding van ʼn ervare brigadier gaan werk om die saak te ondersoek,” het Lebeya gesê.

Die polisie se 72 uur-plan is ook ná die transitorooftog in opdrag van die polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, in werking gestel. “Ek is tevrede met die polisie se vinnige optrede ná die skaamtelose rooftog wat tot die dood van ons kollegas gelei het,” het Sitole gesê.

Die soektog na nog verdagtes duur intussen voort. Sitole het ʼn beroep op die polisielede gedoen om tydens die ondersoek na hul eie veiligheid om te sien.

Bheki Cele, minister van polisie, het ook sy medelye betuig. “Die inhegtenisneming van die vyf verdagtes, die drie wat doodgeskiet is en nóg twee wat beseer is, is ʼn skrale troos vir diegene wat saam met die oorlede beamptes gewerk het. Ons hoop tog dit bring ʼn mate van berusting aan die treurende families,” het Cele gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Yvette ·

Innige simpatie aan die families.

Vir die wat skuldig is aan hulle dood, begin bid en almal groet julle dae is getel!!!

Michael ·

Dit blyk die skelms is net beter as die polisie van 2020.

Pieter J ·

Ek wonder net of die polisie die regte wapens by hulle gehad het vir hierdie soort situasie.

Cherokee ·

Hierdie paroolstorie raak afgesaag. Dink vir ‘n slag iets anders uit.

Amatambo ·

Haat om dit in te vryf, maar wie gee regtig vir blanke polisielede om wat ook probeer om misdaad te bekamp en die publiek teen transito-rower gemors te beskerm? Ek doen gereelde tronkbesoek aan so ‘n outjie wat tien jaar gekry het omdat hy ‘n klompie jare terug so’n stuk gemors vrek geskiet het toe dié “meneer” begin weghardloop, en hy wél ‘n wapen by hom gehad het, maar my “optelkind” betaal nou die prys daarvoor … intussen gedy moord en doodslag lekker onder die meerderheid en word hulle soos helde vereer…

Willem ·

Kan minister Cele net vir ons sê of daardie AK’s gelisensiëer was asseblief? Indien hulle nié gelisensiëer was nie kan hy dan vir ons verduidelik waarom hy wettige vuurwapenbesitters wil ontwapen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.