Reusesoektog ná gestremde man verdwyn

Shane Jordaan (30) is op 4 Junie die laaste keer by die Kairos tehuis vir getraumatiseerde persone in Rayton gesien (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van Cullinan het Woensdag ’n groot soektog van stapel gestuur nadat ’n verstandelik gestremde man weke gelede soos ’n groot speld verdwyn het.

Shane Jordaan (30) is op 4 Junie tussen 18:00 en 19:00 die laaste keer by die Kairos‑tehuis vir getraumatiseerde persone in Rayton gesien. Jordaan woon al die afgelope 11 jaar in dié tehuis.

Hy het ’n grys sweetpak ten tyde van sy verdwyning aangehad.

Konst. Connie Moganedi, woordvoerder van die Cullinan-polisie, sê Jordaan is die volgende dag by die polisie as vermis aangemeld en die polisie soek sedertdien onverpoos na hom.

Volgens Karen Yssel, voorsitter van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) in Cullinan, is Jordaan se familie rasend van bekommernis.

“Hy kan nie regtig praat nie en is afhanklik van sy medikasie. Hy dra ook doeke en benodig versorging,” sê Yssel.

Die gemeenskap het op Jeugdag (16 Junie) ingespring en gehelp om na Jordaan te soek.

Die gemeenskap het op Jeugdag (16 Junie) ingespring en gehelp om na Jordaan te soek [Foto: Verskaf]

Die polisie het ook ʼn beroep op die publiek gedoen om te help om Jordaan op te spoor [Foto: Verskaf]

Volgens Yssel het lede van die plaaslike GPF, verskeie veiligheidsmaatskappye, gemeenskapslede en die polisie se soek-en-reddingseenheid, asook hul honde-eenheid die gebied om die tehuis gefynkam.

“Helikopters, mikro-vliegtuie en selfs perde is ook tydens die soektog ingespan. Die soektog het helaas niks opgelewer nie,” vertel Yssel aan Maroela Media.

Die polisie se honde-eenheid is ook tydens die soektog ingespan [Foto: Verskaf)

Jomari Delport van Deftac-sekuriteitsdiens, wat aktief by die soektog betrokke was, sê dit was goed om te sien hoe die gemeenskap saamwerk om Jordaan te probeer opspoor.

Die polisie het ook ʼn beroep op die publiek gedoen om te help om Jordaan op te spoor.

Enigiemand met meer inligting kan die Cullinan-polisie by 012 734 0751 of die speurdienste by 012 734 7200 skakel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

My hart is stukkend vir die ouers. Dit is absoluut vreeslik. Hoe gebeur dit dat ‘n gestremde ongesiens by ‘n versorgings sentrum/inrigting se hek kan uitloop. Enige reg denkende mens weet mos ons gestremde kinders/volwassenes kan nie op hul eie funksioneer nie. Sterkte aan sy familie.

virginia ·

Swerwer dit is my vraag ook. hoe kan hy so ongesiens by die hekke uitloop. Hoop hulle vind hierdie jongman gou. Sterkte aan die familie x

SwartBees ·

Ek dink nie die sekuriteit is behoorlik ingelig oor die inwoners nie.

Ek kan ·

Ons seun was daar, het gedreig om weg te loop, ons het die sentrum geskakel en gewaarsku…. ons seun het nogtans die volgende dag weggeloop, ons was eers daarvan bewus dat hy dit wel gedoen het toe hy net na middernag voor ons deur gestaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.