Reusevlag van R22 miljoen ‘ongevoelig’

(Foto: Wikimedia Commons)

Die departement van sport, kuns en kultuur is Dinsdag daarop gewys dat sy plan om R22 miljoen aan ʼn reusevlag by Vryheidspark in Pretoria te bestee, “ongevoelig” kan voorkom.

Dít terwyl daar byvoorbeeld steeds groot nood in KwaZulu-Natal heers ná die onlangse oorstromings en die land se werkloosheidsyfer op ’n kommerwekkende 35% staan.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het in reaksie hierop gesê sy departement is nie blind vir die koste verbonde aan die vlagmonument nie. Sy departement het nietemin steeds ʼn plig om na te kom.

“Dink julle nie dit was swak oordeel om juis nou die aankondiging [oor die vlag] te maak in ag genome die onlangse vloede nie en dat die vlag moontlik net Suid-Afrikaners aan die ANC se ongevoeligheid gaan herinner nie?” wou ’n LP Dinsdag tydens ʼn komiteevergadering by die departement weet.

Die vraag is geopper kort nadat Vusumuzi Mkhize, direkteur-generaal (DG) van die departement, ’n voorlegging van die uitvoerbaarheidstudie aan die komitee gedoen het. Die studie alleen het die regering reeds R1,7 miljoen uit die sak gejaag.

Mkhize het volgehou dat die tydsberekening van die projek hoegenaamd nie onsensitief is nie.

“Ons het lank voor die vloede met die projek begin.”

Hy het ook daarop gewys dat daar ongelukkig nooit ’n geleë tyd sal wees vir die regering om hom slegs aan nasiebou te wy nie en dat dit ook ongelukkig nie moontlik is vir ’n regering om alles stop te sit en een kwessie op ’n slag te pak nie.

Verskeie LP’s het die beoogde vlag by Vryheidspark verwelkom met een komiteelid wat daarop gewys het dat dit nie die eerste keer is dat die komitee van die projek te hore kom nie. Verskeie vrae oor die begroting, tydsberekening en tenderproses is vroeër al aan die departement gestel.

Vusithemba Ndima, adjunk-DG, het op sy beurt bevestig dat geen tender nog toegeken is vir die konstruksie van die vlagmonument nie. Hy het wel onthul dat die Pretoriase maatskappy Delta Built Environment Consultants in 2020 aangestel is om die uitvoerbaarheidstudie te behartig.

Luidens die studie is Vryheidspark geologies geskik vir die projek en het die Burgerlugvaartowerheid (BLO) reeds goedkeuring vir die oprigting van ʼn staalvlagpaal van 120 meter hoog gegee.

Die departement het ook aan LP’s gesê hy het genoeg geld om vir die projek te betaal.

“Maar waarom so hoog? Hoekom nie die helfte van die lengte en so koste bespaar nie,” wou nog ʼn LP weet.

Hierop het Ndima geantwoord: “Dit moet van ver af sigbaar wees. Dit moet jou ver voor Pretoria al groet en jou ook vaarwel roep wanneer jy Pretoria verlaat.”

Die departement het benadruk dat die oprig van die vlag nie net werksgeleenthede gaan skep nie, maar ook toeriste sal lok en eindelik “ekonomiese aktiwiteit” sal beteken.

“Ons is bewus van die pyn wat Suid-Afrikaners verduur, maar dit is nie net ’n vlag wat ingevoer en opgerig gaan word nie. Die konstruksie daarvan gaan werk skep,” het Mkhize volgehou.

Maroela Media het vroeër berig R5 miljoen is in die 2022-’23-boekjaar vir geotegniese opnames begroot (dit sluit onder meer die omgewingsimpakstudie en ander toetse in), terwyl nog R17 miljoen in die 2023-’24-boekjaar vir die oprigting van die vlag begroot word.

Volgens die departement is die vlag ʼn simbool van die nasie, asook die gemeenskaplike identiteit van Suid-Afrikaners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Manie ·

Laat hom in die Kaap wapper, die wind verniel hom binne 3 maande.

Johan ·

Ongevoelig en veral omdat daai vlag nog net hongersnood, geweld en plundering gebring het. Dit is n simbool van vernietiging.

Racheltjie Debeer ·

Miskien moet ons wyer om belasting te betaal want hulle vermors dit net op obenullighede. Die idiotiese regering van ons het geen benul hoe om belasting geld aan te wend nie.

B-Man ·

R 5mil vir ‘n uitvoerbaarheidsstudie en geotegniese toetse? Belaglik! Daardie firma het lekker geskep. Elke keer wat die projek uitgestel word, verval die studies seker en moet alles weer van voor gedoen word. En so sal die projek seker nooit uitgevoer word nie, maar miljoene is uit die staatskas. ‘n Lekker manier om geld te was, dink ek.

Erika ·

Enigeiets om n Punt te bewys.Terwyl daar duisende
arme mense huisloos werkloos is weens onlangse Vloed
Jammer ek Assosieer my nie met hierdie vlag en wat dit verteenwoordig nie

Willem ·

Die huidige vlag is ook n simbool van ONDERDRUKKING vir MILJOENE Suid-Afrikaners. Dis n vlag wat op die mense van Suid-Afrika afgedwing is, net soos die huidige volkslied en ander sogenaamde “nasionale simbole”. Die regering gaan n groot deel van die bevolking net verder vervreem met hierdie stap.

H.A. ·

Hoekom dan maar nie die anc vlag laat wapper nie. Die landsvlag en land beteken vir hulle niks.

Kobus ·

Die ANC het geen begrip van geld nie. Indien hulle nie KZN wil help nie, doen dan ‘n delging op die miljarde wat geleen is.

Blomme ·

Een ding waarin die ANC regering erkenning verdien… Hulle weet van geld mors en dom besluite neem.

Blikkies ·

Dit is nie my vlag nie en voel absoluut niks daarvoor nie. Gee die geld eerder vir die arm mense.

Wondermaarnet ·

Net so ongevoelig is die om R350 miljoen aan Kuba te gee.

Waarnemer ·

GESOEK:Donasies om die oorspronklike Suid Afrikaanse vlag te maak,twee keer so groot as hierdie ou anc vlaggie en n vlagpaal2 meter hoger as die anc se ou paaltjie en ONS vlag by ONS Voortrekker monument te laat wapper.Wie stem saam?

Kosie ·

Nie ongevoelig nie Nati eenvoudig stupid en onnodig, jy het geen plig om vlae op te rig nie, jou plig is om te sorg dat jy doen wat die mense van jou verwag, kyk eers na die huidige monumente en alles wat verwoes word, as dit reg is gee die geld in elk geval vir mense en plekke wat dit nodig het.
Daar is al genoeg onnodige nie verdiende monumente van anc kaders en vlae oor die land, terwyl jy besig is bedank sommer jy is oorbodig.

Nie Verbaas ·

Die ANC besit geensins die vermoë in die eerste plek om tussen sensitief en onsensitief te onderskei nie. Tweedens is daar n totale wanbegrip oor die toerisme verskoning. Hierdie klomp is totaal verwyder van die werklikheid. Wie stel nou belang in hulle totale gebrek aan redenasie en graad R redes vir die vermorsing.

Swerwer ·

Belaglik. Die inwoners van die land krepeer en die Kommuniste wil R22 000 000.00 se vlag in hul VryheidsParadys laat wapper. Geld aan Kuba skenk en wat nog……………………… Die goed het beslis nie ‘n idee waar geld vandaan kom nie omdat hul nog nooit daarvoor gewerk het nie!!!

Samuel ·

Hierdie vlag is van watter nasie ‘n simbool?? Vir my is dit ‘n simbool van ‘n terroriste organisasie wat SA probeer regeer, van korrupsie en diefstal. Waar elders gaan kyk toeriste na ‘n vlag?(

Patch ·

22 Miljoen…??? SA moes geld leen in die buiteland tydens Covid maar daar is R22 miljoen wat vir ‘n vlag kan betaal. Ek wonder of die liewe “goewerment” weet watse nood R22 miljoen in SA kan verlig. Het die mense in SA nie ook ‘n sê daaroor nie? Die ouderdomspensioen is maar ‘n skrale R1980 per maand, wat moet die oumensies daarmee maak, jy kan skaars kos koop…maar R22 miljoen vir ‘n vlag???

Deon ·

Voetsek anc, ek sal in my lewe nooit daai duur vlag van my dorp af kan sien nie.

Lynette ·

Hmm R23 miljoen vir een helse groot vlag en R350 milj wat moet Kuba toe wie weet hoekom. Amper R400 miljoen wat soveel verskil kon gemaak het in KwaZulu Natal of is ek nou simpel. Daar word vir mense wat alles verloor het gesê Sorry nee geen geld vir julle nie, maar moenie worrie nie ons mors net gou bietjie R400 miljoen op onsinnighede. Hoeveel te meer sou die bestee van die geld eerder vir mense wys ons land gee om sy burgers. Hoe wil julle lekker slaap terwyl duisende oor die naweek in koue weer gaan bibber en beef. Hoe kry jul DIT oor jul harte? Hoe kyk julle julle medeburgers in die oē. Skaam vir julle.

Cecilia ·

Hierdie vlag het nog nooit vir my iets gesimboliseer nie. Al wat dit wys van die ANC is ons het julle geldjies, ons is heeltemal toon doof en hierso – kies vir jou ‘n vinger.

Nico ·

Wat is die nut van so’n groot en duur vlag, daar is honderd mense wat krepeer van ellende terwyl die ANC parlements lede in weelde lewe, nie eers gepraat van R350,000,000 wat aan Kube geskenk word nie .

Yvonne ·

Hoe op dees aarde kan dit werkskepping tot gevolg he of toeriste lok…strooi…bedrog ..ja

Hasie ·

‘n Vlag sal nie kos op mense se tafel sit nie …asook nie hul van Kos voorsien nie …Nasie Bou ?…waffer deel van die “nasie” is nog trots om met Suid Afrika geassosieer te word ? Suid Afrika word verteenwoordig deur een korupte onbevoegde selfsugtige regering !

Lillian ·

Nathi, vertel ons net eers, hoeveel “kick back” kry jy?

Kokkies ·

In die begin van die jaar het die regering R11.4 biljoen geleen van die wêreld bank. Dit is seker van daai geld wat hulle op die vlag mors. Plaas hulle die skuld begin afbetaal.
Tussen 2000 en 2018, het hulle $148 biljoen by China geleen.

Strandloper ·

Vermy hael storms asb of is dit deel van anc opleiding?

Jack ·

Jip die vlag gaan nie instand gehou word nie dit weet ons. Die projek is lankal reeds aan n kader gegee vir verryking van homself en waarskynlik reeds betaal. Nou te laat om die sinnelose daad te kelder. Jammer so werk ons diktators.

Hoekom ·

Die vlag gaan ingevoer word net soos die ANC ingevoer was en is…Geskiedenis lieg nie…

Kokerboom ·

Hierdie Minister is arrogant, rassisties en ‘n gif in nasiebou!Soos baie ander wat doen die skepsel elke dag met homself om sy pos te regverdig?

Maritza ·

Hoe skep ‘n vlag werksgeleenthede en toeriste? Gebruik die geld om vir julle mense huise te bou. Die regering weet net hoe om ONS geld te mors

dada ·

Nee! Nee! Nee! Hoe gaan ‘n reusevlag wat R22-miljoen ‘n nasie bou? Mense gaan steeds arm en honger wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.