Rhoda Kadalie se lewe in roudiens besing

Rhoda Kadalie. (Foto: Facebook / Rhoda Kadalie)

Die menseregteaktivis en feminis Rhoda Kadalie se lof is Sondagmiddag tydens ʼn roerende roudiens in die Rondebosch United Church in Kaapstad besing.

Kadalie is 16 April op die ouderdom van 68 dood nadat sy haar stryd teen kleinsellongkanker – ʼn seldsame en aggressiewe soort kanker –  verloor het.

Terwyl Kadalie se familie haar reeks prestasies uitgestippel het en terselfdertyd haar vredeliewende geaardheid en guitige persoonlikheid beskryf het, het politieke figure soos Helen Zille die kern van wie Kadalie was vasgevang.

“Dit is gepas dat ons Rhoda se lewe aan die einde van die week vier waarin hoofregter Raymond Zondo kaderontplooiing as ongrondwetlik verklaar het,” het Zille tydens haar huldeblyk gesê.

“Rhoda het dít meer as ʼn dekade gelede sien kom en gewaarsku dat kaderontplooiing Suid-Afrika in ʼn mislukte staat gaan verander – tensy dit gestop kan word. Byna niemand het destyds gewaag om hierdie punt te opper nie, want dit was so polities inkorrek om dit te doen.

“Ek hoop jy weet vandag, Rhoda, dat jou uitgesprokenheid ʼn belangrike rol gespeel het om ander die moed te gee wat nodig was om die heersende tydgees uit te daag.”

Soos Kadalie se lewe was haar roudiens gevul met ʼn gees van welwillendheid.

Kadalie se skoonseun, Joel Pollak, het tydens sy lofrede aangekondig dat haar familie ʼn beurs ter nagedagtenis aan Kadalie gestig het wat beoog om “toekomstige skrywers te ondersteun om Rhoda se voorbeeld te volg”.

Die Rhoda Kadalie Endowed Journalism-beurs sal aan Hillsdale College in die Amerikaanse deelstaat Michigan toegeken word.

“Dit is ʼn klein Christelike liberale kunskollege wat Rhoda bewonder het,” het Joel gesê.

“Dit was as gevolg van haar briljante en produktiewe skryfwerk dat ek byna 20 jaar gelede die eerste keer na haar uitgereik en bevriend het – nog lank voordat ek eers geweet het dat sy ʼn dogter het.”

Rhoda Kadalie en haar dogter, Julia Pollak. (Foto: verskaf)

Julia Pollak, Kadalie se dogter, het in haar huldeblyk ʼn deel van die private lewe van hierdie openbare figuur blootgelê.

“Sy was iemand wat baie meer deur die blaaie van haar Bybel gegaan het by die huis as by die kerk. Sy was iemand wat baie meer as ʼn anonieme wese gegee het as deur haar openbare dade van liefdadigheid,” het sy gesê.

“Sy was ʼn liefdevolle, sorgsame, guitige ma agter geslote deur en was selfs meer van ʼn rolmodel in die manier waarop sy haar private lewe geleef het as in haar openbare lewe.”

Julia het erken dat sy nou groot skoene het om te vul, veral in haar eie pogings om ander by te staan.

“Ek sal probeer om dit vir ander te doen wat jy vir ons gedoen het,” het sy gesê.

Hoewel Kadalie ʼn welwillende hart gehad het, het sy nie weggeskram om oneerlikheid, skynheiligheid of dubbele standaarde uit te wys nie.

“Soos die meeste van Rhoda se vriende het ek soms die ysige koue van haar woede gevoel,” het Zille gesê. “Maar dit is gou verdryf deur die eindelose warmte wat haar terugkerende omhelsing gebring het.

“Sy was haarself en sy het ander toegelaat om hulself te wees – selfs wanneer sy nie met hul saamgestem het nie.”

Kadalie, wat ten tyde van haar dood naby haar dogter Julia se gesin in Los Angeles in die VSA gewoon het, het voor haar dood aansoek gedoen om ʼn Amerikaanse burger te word. Die uitnodiging vir die amptelike geleentheid waarby sy haar burgerskap sou ontvang, is egter enkele dae ná haar dood afgelewer.

“Soos sy aan ʼn joernalis gesê het voordat sy in 2018 na die VSA vertrek het: ‘Suid-Afrika sal my nooit laat gaan nie’ en so het sy tot die einde gebly – ʼn Suid-Afrikaner,” het Joel gesê.

Kadalie se as sal in ʼn begraafplaas in Hollywood gehou word waar sy naby aan haar familie kan wees.

“Haar hart bly egter hier by julle, in die kerk wat sy liefgehad het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Realis Thailand ·

Haar artikels was altyd vir my n plesier om te lees
Dankie aan die familie dat julle haar so mooi bygestaan het aan die einde
Mag sy lekker rus en ek hoop dat sy eendag afkyk of n Nuwe SA.
n Goeie mens wie lief was vir SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.