Rhoda Kadalie sterf

rhoda-kadalie-2019-01-28

Rhoda Kadalie. (Foto: Verskaf.)

Die menseregteaktivis en feminis Rhoda Kadalie is Saterdag in die ouderdom van 68 dood.

Haar dogter, Julia Pollak, het aan Maroela Media gesê dat haar ma “vreedsaam by haar huis in haar slaap oorlede is” terwyl sy deur geliefdes omring was.

Kadalie, wat in 1953 in Kaapstad gebore is, het ten tyde van haar dood naby haar dogter in Los Angeles in die VSA gewoon. Volgens Pollak het sy die afgelope sewe maande teen kleinsellongkanker – ʼn seldsame en aggressiewe soort kanker –  geveg.

Haar suster, Judith Kadalie Hendricks, het onlangs na die VSA gereis om Kadalie saam met haar kinders by te staan.

Rhoda Kadalie. (Foto: Facebook / Rhoda Kadalie)

Kadalie was afgetree, maar het tot kort voor haar dood nog aktief aan die politieke debat in Suid-Afrika deelgeneem en ook gereeld rubrieke vir onder meer Maroela Media geskryf. Kadalie was die voormalige direkteur van die Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en ’n akademikus. Sy het ook ’n groot liefde vir Afrikaans gehad.

Kadalie se skoonseun, Joel, ʼn Republikeinse politikus in die VSA, het aan Maroela Media gesê hoewel sy die afgelope ruk baie siek was, het sy nooit haar sin vir humor verloor nie.

Rhoda Kadalie en haar dogter, Julia Pollak. (Foto: verskaf)

Joel, wat onlangs ʼn biografie oor sy skoonma se lewe geskryf het, sê wat hom veral van haar opgeval het tydens sy navorsing, was hoeveel lewens Kadalie in haar leeftyd aangeraak het.

“Baie vroue in die besonder –  maar nie uitsluitlik vroue nie –  het aan my gesê dat sy hulle geleer het hoe om goed te leef, uitdagings te oorkom, goeie ouers te wees en teen moeilike en onderdrukkende omstandighede te veg.

“Sy was welbekend daarvoor dat sy Suid-Afrikaners in die algemeen deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en Impumelelo gehelp het, asook vir haar skerp kritiek op die regering in haar rubrieke. Tog het sy ook stilweg talle mense, van wie baie volslae vreemdelinge was, in haar private hoedanigheid gehelp.”

Pollak sê haar ma was ʼn baie liefdevolle ouma en ʼn tweede ma vir haar en Joel se kinders, Maya (10), Alex (6) en Amira (9 maande).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.