Rhodes-betoging: EFF eis vrylating van 5 studente

Betogers by die Rhodes-Universiteit. Foto: Facebook

Betogers by die Rhodes-Universiteit. Foto: Facebook

Die EFF het Woensdag geëis dat die vyf studente van Rhodes-Universiteit, wat in hegtenis geneem is in verband met die voortdurende betogings teen verkragting op die kampus, onmiddellik vrygelaat word.

Die polisie het vroeër gesê die studente is in hegtenis geneem omdat hulle die pad langs die universiteit afgesper het.

Die betogings het weer deur die loop van die dag opgevlam en die polisie het aanvanklik pepersproei gebruik om die skare uitmekaar te jaag. Die betogers het later al meer aggressief geraak en die polisie het rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die betogende studente in bedwang te bring.

Quintin Ndlozi, die EFF se nasionale woordvoerder, het in ʼn verklaring gesê die party veroordeel die “polisie se brutale reaksie en aanval op niegewelddadige en ongewapende studente”.

“Ons doen ʼn beroep op die polisie om hulself te beheer en onmiddellik die studente wat in hegtenis geneem is, vry te laat. Die studente betoog oor ʼn baie geldige kommer rakende die mislukking van ons samelewing, en spesifiek die polisie, die universiteitsbestuur en die hele regstelsel, om te fokus op verkragting en die verkragtingskultuur,” het Ndlozi gesê.

“Voor die polisie betogers in hegtenis neem of [rubberkoeëls] op hulle skiet, moet hulle eers hulself afvra: Wat het hulle gedoen om Grahamstad en Rhodes-universiteit ʼn veiliger plek te maak? Die polisie moet eerder hul koppe in skaamte laat sak, want hulle het absoluut niks gedoen buiten om hierdie studente met geweld stil te maak nie.”

Die party het ook ʼn beroep op die universiteit gedoen om ʼn vergadering te hou wat deur die raad en onderskeie studenteliggame bygewoon word, om die instansie se huidige beleid oor seksuele aanranding en verkragting aan te pas.

Dr. Sizwe Mabizela, Rhodes-Universiteit se visekanselier, wat die polisie vroeër tevergeefs probeer oortuig het om nie studente in hegtenis te neem nie, het Woensdagoggend gesê alle lesings is opgeskort weens die betogings.

Die betogers eis dat die universiteit onmiddellik optree teen 11 manstudente wat hulle van verkragting beskuldig. Die name van die 11 studente word op sosiale media versprei.

Vrouebetogers wat kaalbors betoog het, het gesê hulle sal nie stilgemaak word nie, maar voortgaan om te betoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anoniem ·

Studente wat so kaalbors staan en betoog moet skaam kry vir hulself. Wie en wat dink hul is hulle? Wat wil hul bereik daardeur. En as hul verkrag word … dan is dit nie hulle skuld nie. Ongelukkig bly ons in n siek wereld met siek mense. Hou jou liggaam bedek ten alle tye…Moet nie vir moeilikheid gaan soek nie. Ja ek hoor weer hoe se die mense, maar dit gee niemand die reg om ons te verkrag ons ons ons self so ontbloot nie…maar hel man hier is siek mans en vrouens op aarde….

E ·

Die kommentaar wat rooikappie lewer maak nie sin nie. Ek kan nie dink dat die meisies so tekere gegaan het dat hulle die polisie se optrede veroorsaak het nie. Vandat rooikappie sy verskyning gemaak het, het al hierdie dinge begin. Die studente betoog en dan kom n paar van sy trawante en veroorsaak moeilikheid. Wie het die vuur aangesteek? studente of hulle?

anne ·

Miskien moet hulle eers behoorlik gaan aantrek en dan betogings hou oor oa verkragting.

Verkenner ·

As die liewe studente eerder die energie wat hulle mors op al die optogte spandeer op hul studies, sal dinge baie beter gaan. Maar ek vermoed dat die bloedjies hou van die sing en dans opwinding wat die optogte aan hulle bied, eerder as om in die lesinglokaal te sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.