Rhodes Must Fall-veldtog verloor steun

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die ANC-jeugliga in die Wes-Kaap het Maandag sy ontevredenheid uitgespreek oor uitlatings deur die studente-beweging, “Rhodes Must Fall” (RMF), wat Marikana en die land se leiers betref.

“Indien jy aanvoer dat jy die struggle van die massas verteenwoordig, kan jy nie die leiers minag of onmin saai nie,” het Muhammad Khalid Sayed, provinsiale voorsitter, gesê.

Sayed het verwys na uitlatings deur die RMF-veldtog dat pres. Jacob Zuma en adjunkpres. Cyril Ramaphosa medepligtig was in die moord van die Marikana-myners. “Ons het hulle [RMF] genader en gesê hulle moet bewyse gee,” het hy gesê. “Daar is geen hof wat bewys het dat ons twee leiers skuldig is aan moord nie.”

Die res van die ANC-jeugliga se provinsiale uitvoerende komitee het ook gesê hulle ondersteun Zuma en Ramaphosa ten volle en indien daar bloed op hulle hande is, is dit “van die begrafnis van kamerade wat deur die apartheidsregering vermoor is”.

Sayed het gesê die jeugliga in die Wes-Kaap het dit van die begin af duidelik gestel dat hul ondersteuning vir RMF beperkings het. “Ons identifiseer nie met dit wat die veldtog geword het nie en ons het teen die stigting van die RMF gewaarsku omdat die veldtog uitsluiting sou veroorsaak.” Hy het gesê die jeugliga ondersteun die stryd teen diskriminasie en ongelykheid wat deur studente op ʼn tersiêre vlak beleef word en belyn nie homself met enige beweging of organisasie nie.

Hy het bygevoeg die jeugliga neem met misnoeë kennis van bewerings van rassisme by Universiteit Stellenbosch wat in die dokumentêr, Luister, aan die lig gekom het. Luister is vroeër in Augustus deur die studentebeweging, Open Stellenbosch, op sosiale media gepubliseer en meer as 30 studente het aangevoer hulle is slagoffers van rassisme op die kampus. “Ons sal nie huiwer om persone te verdedig wat diskriminasie beleef nie,” het Sayed bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johann Marx ·

Daarsy. Rhodes must fall. Nou moet julle nog net die geld teruggee wat uit die Rhodes-Mandela Trust dit vir duisende van julle moontlik maak om “gratis” te studeer!! As sy standbeeld nie goed genoeg is nie, is sy Britse Ponde ook seker nie goed genoeg nie. Pay back the money!

J.Z ·

Apartheid bloed aan hul hande?,wys weer hul een oog benadering,die boere bloed aan hul hande word weer nie gesien nie,of kyk hulle met daardie ander oog wat blind is na wat hulle nie wil erken Of wil he gesien word nie.?

Gwen ·

Hoe kan die redaksie my kommentaar verwyder waarin en na Anette Combrink as “poppie” verwys en waarin niks lasterlik, haatspraak, kras of vuil taal was nie (net geldige argumente waarvan die redaksie alhier nie hou nie), maar hierdie kommentaar met ’n kragwoord word geduld?

Kan Maroela asb. iemand aanstel wat konsekwent is in die verwydering van kommentaar. Net omdat iemand nie van my kommentaar hou nie, beteken dit nie dit kan willens en wetens verwyder word nie.

Maroela, kry asb. julle huis in orde.

Sune van Heerden ·

Dagsê Gwen

Dankie vir jou navraag.
Ons span is maar klein en soms neem dit ‘n wyle voordat ons die kommentaar kan deursoek vir iets wat dalk deur die aanvanklike filter gesluip het.
Die kommentaar is intussen verwyder.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Gwen ·

Ek is nie juis oortuig met die verduideliking nie. Julle verwyder kommentaar as julle nie daarvan hou nie. Julle hekwagterfunksie het in ’n magsvergryp ontaard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.