Rhodes-reeksverkragter slaan weer toe

Rhodes-gedenkteken in Kaapstad Foto: Pixabay

Rhodes-gedenkteken in Kaapstad Foto: Pixabay

Nóg ʼn student aan die Universiteit van Kaapstad is naby die Rhodes-gedenkteken verkrag, wat die aantal aanvalle in dié gebied op vier te staan bring.

“Dit is met groot ontsteltenis dat ek weer moet kennis neem van ʼn vroulike student wat seksueel aangerand is toe sy op die berg in die rigting van die Rhodes-gedenkteken gestap het,” het Kylie Hatton, waarnemende uitvoerende direkteur van kommunikasie en bemarking van die universiteit, gesê.

Die jongste voorval het Donderdagaand plaasgevind, en dit is Vrydagoggend by die universiteit se kampusbeskermingsdiens en die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld, het sy gesê.

Die student het omstreeks 18:00 die M3-brug naby Rhodeslaan oorgesteek en teen die heuwel opgestap in die rigting van Rhodes-gedenkteken. “Toe sy omstreeks 20:00 terugkeer, is sy aangeval en in ʼn bos ingetrek en herhaaldelik verkrag. Sy is Vrydagoggend omstreeks 01:00 vrygelaat waarna sy die voorval by die polisie aangemeld het,” het Hatton gesê.

“Die polisie het bevestig dat dit wil voorkom of dit die werk is van ʼn reeksmisdadiger wat waarskynlik ook vir drie onlangse voorvalle tydens Desember en Januarie verantwoordelik is,” het Hatton bygevoeg. “Die aanvaller word beskryf as ʼn welsprekende man wat in gesprek tree met die persone wat hy aanval. Hy is slank gebou en in sy 20’s. Dit wil voorkom of hy die berg goed ken. hy dra ʼn sweetpakbaadjie met ʼn kappie en ʼn swart langbroek.”

Hatton het studente en personeel weer gemaan om versigtig te wees wanneer hulle nie op kampus is nie. “Indien jy enige verdagte aktiwiteit naby die kampus opmerk, meld dit asseblief dadelik by die veiligheidskantoor aan,” het sy gesê. “Indien jy bystand benodig, kontak kampusbeheer by 021 650 2222/3 (beskikbaar 24/7).” Sy moedig studente aan om die nommer op hul selfone te stoor.

Die universiteit het verlede maand bykomende veiligheid op die brug oor die M3 geplaas, wat as ʼn deurgang gebruik word deur studente wat na die boonste deel van die kampus wil stap.

“Ons werk steeds saam met die polisie, SANParke en ander belanghebbendes om te reageer op hierdie kriminele aktiwiteit, en om ʼn veiliger plek vir almal te skep,” het hatton gesê. “Die studente en personeel word aangeraai om van die Jammie-pendeldiens gebruik te maak, die UK-blouroete te gebruik waar moontlik en om, indien moontlik, nie alleen te stap nie. Bestudeer ook weer die veiligheidsmaatreëls wat op die universiteit se webwerf gepubliseer is.”

Hatton het gesê die polisie het ook ʼn waarskuwing uitgereik oor twee ander tipes misdaad, wat oënskynlik op studente fokus. Dit is rooftogte by die kitsbanke in Mainweg wat deur Mowbray, Rondebosch en Observatory loop. Daar is ook ʼn slenter waar deposito’s vir ʼn woonstel versoek word. “Persone plaas advertensies op webwerwe soos Gumtree om woonstelle te huur aan te bied. Foto’s van woonstelle wat eintlik in Seepunt geleë is, word gebruik om ʼn adres in Mowbray, spesifiek Selbyweg, te adverteer. Aansoekers word versoek om ʼn EFT-oorbetaling te doen as ʼn deposito, sonder die opsie om die woonstel te sien of die sleutels van die woonstel te kry.”

Lees alle vorige berigte oor die Rhodes-gedenkteken op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Oom Boer ·

Vryheid van beweging is mens nie meer beskore nie, alles raak net onveilig. Hoop hierdie misdadiger word gou vasgetrek. Wens hul kon die tipe misdadigers wat ande so terroriseer uitlewer aan al die vroue wat al so seksueel aangerand is en hul sal weet om met hierdie “Goggo’s” af te reken. Ons innige simpatie gaan uit na hierdie en alle ander slagoffers van hierdie tipe teisterings want dit is barbaars en geen vrou of kind verdien om so ‘n vernedering en misbruik deur te maak nie. Elke seksuele misdadiger moet kastreer word na skuldig bevinding.

Vince ·

Is die verkragter wit, pienk of swart, of is dit polities verkeerd om te weet waarmee mens of vroue hier te doen het met!?

Pieter.v ·

Is die man gemasker of is die slagoffers deur hom geblinddoek ,as die aangerandes saam n identikit kan uitryk gaan dit baie makliker wees om hom vas te trek . As die publiek weet hoe die man naastenby lyk en van watter ras hy is (of is dit rassisties) sal hy gouer vas getrek word.

Michael ·

Daar was al vier voorvalle in dieselfde omgewing dit vat nie ‘n Piet Bylevelt om ‘n lokval te stel vir die booswig en hom te vang nie maar dit lyk vir my daar is geen erns of wil van die polisie om iets te doen nie.

Frans ·

Om ‘n lokval te stel, druis in teen die menseregte van die misdadiger. Dis soos dit in hierdie land gaan wat die verfoeilike regstelsel van Amerika nastreef. Groot gewag word gemaak van die krimineel se regte maar die prooi s’n word vergeet.

Francie ·

Enigeen wat al in daardie verlate omgewing was, sal weet dat dit moeilikheid is om enige tyd van die dag of nag gevaarlik is om enigsins te voet en veral alleen in die omgewing te wees. Die hele area gee my koue rillings.
Daar is ongelukkig talle sulke plekke in hierdie pragtige land van ons. Tog jammer dat slegte mense ons dwing om dit te vermy.

Elfie ·

Daar moe slankal veiligheidskameras opgerig geword het. Lokval moes lankal gestel word – hoe moeilik is dit. Dis enigeen se reg om vryheid van beweging te hê, dis waarvoor ons belasting betaal. Ek dink ‘n klomp jonges moet ssamspan en die ding vastrek, sal makliker regkry as die “Mag”.

Christo Pienaar ·

#feesmustfall se kortsigtigheid beteken dat daar op kampussekuriteit besnoei moet word. Iemand moes betaal vir kortsigtigheid. Ek hoop die sgde intelektuele leiers besef watter uitwerking dit op hulle kampusse het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.