Rhodes-student word Donderdag begrawe

Khensani Maseko (Foto: Instagram)

Khensani Maseko, die Rhodes-universiteitstudent wat haar eie lewe geneem het ná sy verkrag is, word Donderdag op Vrouedag in Johannesburg begrawe.

Die 23-jarige BA-student was besig met haar finale jaar toe sy vyf dae gelede by haar ouerhuis in Alberton, Johannesburg, dood aangetref is. Sy het aan depressie gely ná sy verkrag is, vermoedelik deur ʼn kêrel wat ook aan Rhodes studeer. Die voorval het in Mei plaasgevind.

Maseko was deel van die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) in 2016 en het net voor haar selfmoord ʼn ontstellende boodskap op Instagram geskryf: “Niemand verdien om verkrag te word nie.”

Maseko het die voorval in Julie by die universiteit aangemeld. Volgens die Daily Dispatch-koerant, het woordvoerder van die universiteit Veliswa Mhlope gesê die instansie het met haar familie kontak gemaak ná sy die verkragting aangemeld het. Die familie het na Grahamstad gereis vir ʼn vergadering met die bestuur van die universiteit. Die familie het daarna besluit om Khensani vir ʼn ruk lank huis toe te bring en Rhodes het ingestem om die saak op te volg. Sy sou later na die instansie terugkeer om terugvoer oor die saak te kry.

Haar familie het gesê hulle is platgeslaan oor die nuus dat sy haar eie lewe geneem het. “Ons neem nie die omstandighede wat daartoe gelei het dat Khensani haar eie lewe geneem het, lig op nie. Ons veroordeel ten sterkste enige vorm van geweld en mishandeling teen vroue en veral verkragting. Ons versoek dat die gereg sy volle gang moet gaan,” het die familie in ʼn verklaring gesê.

Rhodes het Maandag aangekondig dat hy ʼn kennisgewing uitgereik het om die beweerde verkragter te skors.

Die universiteit het Maandag en Dinsdag akademiese aktiwiteit opgeskort om Maseko se lewe te herdenk en die soeklig te plaas geslagsgebaseerde geweld en verkragting. Studente aan die nabygeleë Nelson Mandela-universiteit in Port Elizabeth het ook die universiteit gesluit toe hulle teen die verkragting van vroulike studente op die kampus betoog het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marous ·

Baie hartseer. Wat se hoop is daar in die land vir enige iemand met monsters wat die strate vrylik vol loop?

Ruiklont ·

Sleg, baie sleg. Dit is egter die gevolge van ‘n regering wat nie belangstel om wet en orde te handhaaf nie, hul blaas dit eerder aan.

Karolis ·

Die gereg se gang is versper met deure en hekke.
Die regter is nog al die tyd reg in haar stelling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.