Rhodespark-aanval: Beeldmateriaal wys hoe verdagtes vlug

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Thabo Nkala, Edmore Ndlovu en Mduduzi Lawrence Mathibela. Foto: Brenda Masilela/ANA

Kringtelevisiebeeldmateriaal is Woensdag in die hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, vertoon tydens die verhoor van die drie mans wat daarvan beskuldig word dat hulle deel was van ʼn bende wat twee paartjies verlede jaar in Rhodespark in Kensington, Johannesburg, aangeval het.

Die beeldmateriaal wys hoe ʼn groep van agt mans in Naiadstraat van die park af weghardloop, kort nadat 12 mans op 17 Oktober 2015 twee paartjies in die park voorgekeer en oorval het. Die verdagtes het die mans glo vasgebind en in die dam gegooi, terwyl hulle een van die vroue verkrag het. Die ander vrou is glo seksueel aangerand. Albei mans het verdrink.

Patrick Murphy, ʼn lid van die plaaslike gemeenskappolisiëringforum (GPF), het aan die hof gesê hy het die beeldmateriaal verkry toe hy ná die voorval by huise in die omgewing gaan navraag doen het.

Murphy het gesê die tyd op die swart en wit video is reg, maar daar was ʼn fout met die datum omdat die stelsel wat dit opgeneem het, ʼn dag vroeër gestel was.

Die video wys ʼn eerste verdagte wat omstreeks 19:06 uit die park hardloop. Hy stop skielik en begin dan loop. ʼn Paar sekondes later verskyn ʼn man met rastalokke met skoene in sy hande. Hy word deur drie ander mans gevolg, waarna ʼn man op sy eie weghardloop. Die laaste twee mans in die video maak kort daarna hul opwagting.

Die beeldmateriaal is uit verskeie hoeke geneem en wys die mans van voor en agter. Volgens Murphy het ʼn informant van die mans in die video geïdentifiseer en inligting verskaf wat tot die inhegtenisneming van Thabo Nkala (25), die man met die rastalokke, gelei het.

Die drie verdagtes, Nkala, Edmore Ndlovu (23) en Mduduzi Lawrence Mathibela (32) staan tereg op aanklagte van moord, verkragting en roof met verswarende omstandighede. Hulle het vroeër skuld op al die aanklagte ontken.

“Nkala het [kort na sy inhegtenisneming] erken hy het die skoene vasgehou. Hy het almal se name genoem wat in die video was. Hy het benadruk dat hy nie die vroue verkrag het nie, maar net beroof het en die mans gedwing het om in die dam in te loop,” het Murphy getuig.

Die verdagtes se regsverteenwoordiger het egter aangedui die video is nie duidelik nie en ontken dat Nkala homself of ander beskuldigdes daarin geïdentifiseer het.

Nkala se inhegtenisneming het tot die ander twee se inhegtenisneming gelei. Die res van die verdagtes is steeds soek. Een van hulle is egter intussen in Zimbabwe in hegtenis geneem en die proses is aan die gang om hom aan Suid-Afrika uit te lewer.

Die verhoor duur Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andrea ·

Versprei asb die beeldmateriaal dat ons kan sien hoe die wreedaards lyk!

Evert ·

Hier was 2 mans vermoor, maar doodskis episode tans( sonder moord) kry meer sensasie???

LB S ·

Wees nou eerlik Evert, hierdie saak is ook elke dag in die opskrifte. En daardie doodskis saak moes nooit eers plaasgevind het nie! “Two wrongs don’t make one right”.

Niks ·

Hulle sal niks oorkom nie, hulle het niemand in ‘n doodskis ingedwing nie.

Piet ·

Maroel ek is baie teleurgesteld in die keuring van my kommentaar ek skryf soos ek voel mors my tyd en julle plaas dit nie daar is geen vuil taal in nie wat het geword van demokrasie en vryheid van spraak of geld dit net vir die nie blanke ras ek is baie teleurgesteld in julle

Landi Slatter ·

Dagsê Piet

Dankie vir jou navraag. Kommentaar wat nie aan ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname voldoen nie, word ongelukkig verwyder.
Let asseblief spesifiek daarop dat kommentaar wat xenofobies van aard is nie toegelaat sal word nie. Vergewis jouself gerus van dié maatreëls om seker te maak dat jou kommentaar nie uitgevee word nie.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.